ʼn Bielie van ʼn Bieliemieliefees

Bieliemieliefees (Foto verskaf)

Die Bieliemiefees in Reitz in die Vrystaat is in 2019 beter en lekkerder as enige ander fees!

Dié fees word vanjaar vir die 38ste keer aangebied en daar is geen ouderdomsbeperking op die prettige aktiwiteite nie. Dié bielie van ʼn fees word tussen 14 en 17 Februarie 2019 in Reitz aangebied

Kaartjies is beskikbaar by jou naaste VKB-tak of by die hek.

VolwassenesKinders (onder 13)
NaweekkaartjieR250-00R120-00
Donderdag 14 FebruarieR60-00R60-00
Vrydag 15 FebruarieR120-00R60-00
Saterdag 16 FebruarieR120-00R60-00
Sondag 17 FebruarieGratisGratis

Sangers en vermaak

Bieliemieliefees (Foto verskaf)

Vanjaar lei drie opvoerings ten bate van die Hoërskool Reitz die fees in. Gehore sal op 11 Februarie kan identifiseer met die drie broers in die toneelstuk Nêrens Noord-Kaap waarin die broers, wat elkeen hul eie pad stap en al vervreemd geraak het van mekaar, plaas toe moet kom vir hul pa se 60ste verjaarsdag.

Die tydlose Amanda Strydom sing op 12 Februarie haar gewildste en treffendste treffers van haar bykans 40 jaar in die vermaaklikheidsbedryf.

Op 13 Februarie kan diegene wat wil sien hoe hul dorpsgenote heeltemal buite hul aard optree, kom kyk hoe André, die skreeusnaakse hipnotiseur, dit regkry om mense onder hipnose dinge te laat doen wat jou sal laat krul van die lag.

Op Valentynsdag nooi Dowwe Dolla en Wicus van der Merwe jou om in hul vertoning Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe te kom skater.

Van die ander kunstenaars wat by die fees sal optree, sluit in Juanita du Plessis en haar ewe talentvolle kinders, Bok van Blerk, Lianie May, Jay, Dirk van der Westhuizen, Dewald Wasserfall, Elvis Blue, Elizma Theron en die inspirerende Jo Black.

Tentedorp en kampeerterrein

Danksy die gewildheid van die tentedorp en kampeerterrein, is dit weer terug by die 2019 fees en daar is staanplekke waar Bieliemieliefeesgangers kan tuisgaan teen so min as R700 per persoon vir die hele naweek. Hierdie fooi sluit ook jou toegang tot die Bieliemieliefeesterrein in. Maar jy sal moet gou spring as jy ’n staanplek soek, want die belangstelling is groot.

Sport en kompetisies

Bieliemieliefees (Foto verskaf)

Sportentoesiaste kan deelneem aan gholf, krieket en visvang met groot prysgeld Vir die Touch Rugby/Sewes-spelers beloop prysgeld R7 000 vir die wenspan. Pak dus jou balle, stokke, kolwe en visstokke in vir hierdie kompetisies.

Vanjaar is die Bieliemielie-marathon nie net ’n kwalifiseerder vir die Comrades nie, maar ook vir die Two Oceans-marathon. Atlete wat voorheen aan die Bieliemielie-marathon deelgeneem het, weet dat of jy nou die 5 km- of 10 km-pretdraf, die halfmarathon of die marathon hardloop, dit ’n lieflike roete bied.

Vir die manne (én vroue) met 4×4-voertuie is daar weer ’n hindernisroete met prysgeld van R10 000.

En moet tog nie die Bulletjie-rugby- en netbal-kragmetings misloop nie! Hierdie items lok elke jaar groot belangstelling.

VKB Kook bied jou die geleentheid om saam met kykNET se gewildste sepiesterre pizzas te maak en een (of meer) van die verskeie pryse los te slaan.

Streepsakke, eiers, bokmis, mieliepitte, trekkerbande en wie weet wat nog alles, sal beskikbaar wees vir diegene wat aan die Boeresport(s) wil deelneem. Dit bly maar een van die gewildste items op die feesprogram!

Kindervermaak

Bieliemieliefees (Foto verskaf)

Die VKB Bieliemieliefees is ’n gesinsfees en daarom word daar ruim voorsiening gemaak vir die kleinspan. ’n Baie betroubare oppasdiens word gebied vir kleingoed sodat hul ouers die hele feesterrein en al sy vermaak kan gaan verken. ’n Ballonkunstenaar, stelteloper, springkasteel en hope maatjies is maar net enkele van die vermaaklikhede wat die fees vir die kleingoed ’n onvergeetlike ervaring maak. En moenie van die pretpark vergeet nie – die jaar nóg groter met meer ritte vir jonk en oud!

Uitstallers en stalletjies

Die SA Vleismerino-veiling, jongooi-kompetisie en uitstallings van beeste en boerbokke is nog van die staatmakers wat jaarliks groot belangstelling geniet, en met die groeiende belangstelling in die Bieliemieliefees onder stalletjieshouers wat van kos tot kraletjies, braairoosters tot bokvelmatte en juweliersware tot jasse verkoop, moes die komitee mooi besluit wie vanjaar ’n staanplek gaan kry.

Bogenoemde is net ’n lusmaker vir wat alles vir jou by VKB Bieliemieliefees 2019 wag. Ons het nog nie eens begin vertel van die “toegevoegde waarde” wat besoekers jaarliks hier kom ervaar nie. Ons kan nie wag om jou te verwelkom en te verras nie!

Besoek die webwerf: www.bieliemielie.co.za
Besoek die Facebook-blad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.