’n Klein bietjie hekelwerk word baie

 elza-marie-van-lille-en-marlene-jordaan-anja-doman-photography.jpg

Die dinamiese duo, Elza-Marie van Lille en Marlene Jordaan. (Foto: Anja Duvenhage Photography)

“Ná ʼn geweldige storm het duisende seesterre op die strand uitgespoel. So kom ʼn groepie mense wat langs die strand gestap het af op ʼn seun wat die seesterre een vir een optel en teruggooi in die see. Die verbygangers het net hul koppe geskud. Een vra toe die seun: ‘Daar is duisende sterre, jy gaan mos nooit ʼn verskil kan maak nie!’ Terwyl die seun nog ʼn seester in die see gooi, kyk hy vir ʼn oomblik op en antwoord: ‘Ek weet, maar vir daai een het ek pas ʼn verskil gemaak en sy lewe is gered …’”

Dít is die storie waaraan Ina Schomper, bestuurder van Childhood Cancer Foundation SA (CHOC) se Gauteng-Noord-streek, ʼn klomp vroue herinner het tydens die jaarlikse Crochet for Cansa-geleentheid. Dit is ʼn geleentheid waar daar ʼn fokus geplaas word op die ongelooflike werk wat Kansa verrig en ook waar geld gewerf word vir CHOC. Net soos die seun een vir een ster gered het, is dit ook binne elkeen van ons se vermoë om ʼn verskil te maak, maak nie saak hoe klein nie.

 hekel-crochet-for-cansa-anja-doman-photography.jpg

(Foto: Anja Duvenhage Photography)

Tussen die mooi gedekte tafels, bolle wol, hekelnaalde en gesellige atmosfeer, word jy bewus van hoe elke vrou wat die oggendgeleentheid bywoon wel ʼn verskil maak. Van hulle het self of saam met ʼn geliefde die kankerpad gestap of stap dit nog steeds; ander is net daar om te ondersteun.

Terwyl die vroue vermaak word deur die baie talentvolle kunstenaars Leandie Bräsler, Monique Steyn en Carmen Pieterse, gewaar jy kort-kort iemand wat ʼn traan afvee. Ook terwyl Alta Strauss, motiveringspreker en skrywer, van haar gedigte voorlees en haar hart deel, weet jy sommer net – daai pad was vir baie vroue nie maklik nie en die seer lê diep. Bibi, die baie talentvolle kunstenaar met vele talente, het natuurlik gesorg dat daar ook lagtrane oor ieder en elk se wange loop.  Anita Snyders van Kansa het almal net weer herinner aan die ongelooflike werk wat dié organisasie doen.

leandie-brasler-crochet-for-cansaafrican-visual-escape.jpg

Leandie Bräsler vermaak die gehoor. (Foto: African Visual Escape)

Die ystervroue aan stuur van sake is Marlene Jordaan en Elza-Marie van Lille. Van Lille het self kanker aan haar lyf gevoel en is nou in remissie. Jordaan, weer, stap dié pad saam met haar man. Nie net ondersteun sy hom emosioneel nie, maar is ook sy versorger.

Gesels jy met Jordaan, besef jy dit is ʼn projek wat gedoen word tussendeur die alledaagse roetine. Elke projek word met soveel deernis, liefde en presiesheid aangepak. Sy verwys beskeie na haarself en Van Lille as “twee vrywilligers wat probeer”.

Jordaan is ook aangewys as een van die “Global Heroes of Hope – Caregiver”. Dit is ʼn internasionale toekenning wat deur die “Relay for Life” toegeken word aan mense wat ʼn verskil maak. Daar is nege deelnemende lande en vanjaar was sy een van agt uit Suid-Afrika. “Ek hou daarvan om mense te dien, om te gee vir ander en die lewe veral vir kankerpasiënte ʼn bietjie makliker en geriefliker te maak.”

 gesellige-atmosfeer-crochet-for-cansa-african-visual-escape.jpg

‘n Gesellige atmosfeer het geheers by Shokran Wedding & Events in die Ooste van Pretoria. (Foto: African Visual Escape)

Hekel is een van haar groot liefdes. “Dis my passie om mense bymekaar te bring en dis soveel lekkerder om saam te kom terwyl jy sommer kan doen waarvan jy hou!”

Van Lille en Jordaan sit egter nie stil nie en daarom was dié geleentheid ook nie die laaste op die kalender nie. “Ons doelwit is om soveel moontlik mense bewus te maak van KANSA en CHOC se werksaamhede.”

Op Saterdag, 7 Mei, doen hulle dit weer en dan vind daar ʼn Crochetathon in die Brooklyn-winkelsentrum in Pretoria plaas. Dit is ʼn geleentheid waar almal wat kan (en ook sommer as jy wil leer) hekel, genooi word om van 07:00 die oggend tot 19:00 die aand te kom hekel. Van die items wat gehekel gaan word, word dan aan verskeie organisasies geskenk. Die inskrywingsfooi van R100 per persoon word geskenk aan Kansa. Al wat saamgebring moet word, is ʼn kampstoel en jou hekelwerk. Tussen die bolle wol, hekelpenne en goeie geselskap deur, gaan daar ʼn daadwerklike bewustheid geskep word, en so word een vir een seester teruggegooi in die see.

  • As jy wil kom saamhekel, of net wil ondersteun, besoek gerus die Facebookblad of stuur vir Marlene Jordaan ʼn e-pos of bel haar by 082 462 0831. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.