Nuuskierig oor jou familie-stamboom en herkoms?

Die Schutte Familie (Foto: http://isabelgroesbeek.wixsite.com)

Die 10de aanbieding van die Genealogie-en-familie-erfenisfees bied die ideale geleentheid om vas te stel waar jou wortels lê.

Die fees bied ook stalletjies, inligtingsessies en vanontledings aan. Die fees is in Mei 2008 deur Isabel Groesbeek, wat lid is van die Genealogie Instituut van Suid-Afrika, begin.

“Baie mense wil weet waar hulle vandaan kom, waar hulle wortels lê, maar hulle weet nie waar om te begin nie. Die fees is die regte plek om te begin.”

“Genealogie is die verkryging van kennis oor families. Dit sluit inligting oor ʼn persoon se voor- en nasate in. Dit skep ʼn raamwerk waarin mense kan begin vrae vra oor waar hul voor- en nasate vandaan kom, waar hulle gestap het en waar hulle betrokke was,” sê Groesbeek.

“Dalk is jy nie meer by jou biologiese familie nie, of jou pa of oupa het jou nie genoeg van jou familiegeskiedenis vertel nie. Baie mense het dan ʼn hunkering en soeke na waar hulle vandaan kom.”

Isabel sê hierdie fees sal vir almal waardevol wees. “Enigiemand kan kom. Almal het ʼn ma, ʼn pa, ʼn oupa, en so meer. Hulle sal nou kan vasstel waar hulle wortels lê.

“Ons begin gewoonlik by jou van, en dan werk ons met al die bestaande inligting wat jy kan gee. Daar sal ʼn klomp verteenwoordigers van voorouers by die fees wees.”

Isabel sê dit is vir alle mense belangrik om te weet waar hulle vandaan kom, om te weet wie hulle is.

“Dit help as mense voorbereid kom. Werk van die bekende (soos byvoorbeeld jou van) af terug. Mense kan selfs kom met ʼn stukkie papier oor wat jou pa en oupa van hulle families vertel het. Plekke, datums, sterfdatums en huwelike is belangrik en dit kan baie help. Bekende inligting is waarvoor ons soek, om sodoende die onbekende inligting op te spoor.”

Indien jy nie inligting oor jou familie het nie, kan die inligtingsessies en die ervare navorsers jou steeds help.

“Ons het selfs ʼn stalletjie waarheen jy ʼn foto van byvoorbeeld 1915 kan bring, en ons navorsers en kenners probeer die mense dan daar identifiseer.”

Isabel sê dit is vir alle mense belangrik om te weet waar hulle vandaan kom, om te weet wie hulle is.

“Die mens wie en wat jy is, is die somtotaal van jou voorouers. Daar is genetiese en ander aspekte wat jy van hulle geërf het. Dit sal help om jouself te leer ken en verstaan deur te sien van wie jy afstam. Wanneer mense reis, is dit ook goed om te weet waar jou voorouers gestap het, en moontlik in hul voetspore te volg.”

Die fees vind Saterdag 2 September van 08:30 tot 13:30 by die Atrium Lynnwoodrif-kerk in Lanciastraat 269, Lynnwoodrif, plaas. Toegang is gratis. Vir meer inligting besoek www.isabelgroesbeek.wix.com/expo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Liza101 ·

Sou dit vreeslik graag wou bywoon, kan net interessant wees!

Esme Pretorius ·

Al 2 jaar besig op my herritage website om te soek na 2 oumagrootjies en 2 oupagrootjies……duisende mense in vertakkings maar jan nie my eie mensies opspoor nie.Sal hulp waardeer

Willie Nel ·

Ek was by die GSSA in Stellenbosch en hulle het geen inligting om my te help met my navorsing nie. Hulle het voorgestel ek begin by my pa en werk terug en stuur die resultate aan hulle. My mense het die land binnegeglip toe niemand gekyk het nie. Daar was toe seker ook nie grensbehher nie……. net soos vandag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.