Oliewenhuis-uitstalling bied eklektiese versameling van kunswerke

All sorts of being/s-kunsuitstalling by die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein (Foto: Verskaf)

Van 6 Desember tot 26 Januarie bied Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein ʼn visuele fees aan kunsfynproewers met sy All sorts of being/s-kunsuitstalling.

“Dit is uit bestaande werke in ons permanente versameling saamgestel,” verduidelik Ester le Roux, kurator van Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein. “Ons het kuns gekies wat ʼn goeie gevoel het.”

Sy vertel verder dat dié proses tot ʼn eklektiese mengsel van kunswerke gelei het.

“Al die kuns, hetsy deur die kunstenaars se proses, komposisie, konsep, tema, medium of ander elemente wat ’n kunswerk vorm, toon aspekte van speelsheid en humor.”

Die uitstalling het juis ten doel om inspirasie, intrige en ’n gevoel van verwondering te skep.

“Dis ’n teenmiddel teen die einde van die jaar se moegheid en ’n nuwe begin vir die nuwe jaar,” sê Le Roux. “Dit is vir alle ouderdomme geskik en daarom is die hele gesin welkom om allerlei wesens asook magiese en kreatiewe uitbeeldings te kom ervaar.” Le Roux waarsku egter dat daar ook ernstiger karakters sigbaar is, maar dat besoekers self moet besluit of dit snaaks of skrikwekkend is.

Die uitstalling verteenwoordig ‘n verskeidenheid media, tegniese benaderings en verskillende kunsbewegings. Dit strek vanaf die veertigerjare tot kontemporêre kunswerke van Nyoni Vulindlela, Roger Ballen, Dominic Tshabangu en Patrick Mautloa. Ikoniese kunstenaars wat verteenwoordig word, is Alexis Preller, Robert Hodgins, Lucas Sithole en Lucky Sibiya.

Die museum is van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 17:00 oop, en op Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae tussen 09:00 en 16:00.

Vir meer inligting kontak Oliewenhuis-kunsmuseum by 051 011 0525 of stuur ʼn e-pos aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.