‘Ons is almal op een of ander manier omvergegooi’

Michael Blake, bekroonde New Music-komponis, saam met Emma Willemse by Union House. (Foto: Maryke Roberts)

Dis vroeg een somersaand wat ons deur die piepklein houtdeurtjie in die koningsblou Spier Arts Trust Union House-kunsgalery in Kaapstad tree. Binne neem dit ’n paar sekondes vir oë om van die helder lig tot die skemerte binne te wissel en te fokus.

Nadat ons temperature gemeet, vorms ingevul en naamkaartjies uitgesorteer is, kry ek my staan in ’n hoek met ’n glas Spier Cap Classique Brut. Ek kyk in die skemerte om my rond. ʼn Mens voel vreemd – ná 18 maande van kuns-isolasie en Zoom-ervaringe moet jy eers weer jou voete by ’n lewendige kunsuitstalling en musiek vind – met ander mense, met iets te drinke.

Die maskers haak onder om kakebene. Die reuk van handreiniger soos elke nuwe gas deur die deurtjie tree, vul elke gaatjie in die antieke ruimte met sy lae houtbalke en dik mure.

Hoe gepas dat die rede vir ons samekoms die kunstenaar Emma Willemse se Disrupt-kunsuitstalling is, wat in 2018 by die 1:54 Contemporary African Art Fair uitgestal is en deur Spier Arts Trust na Suid-Afrika teruggebring is om op eie bodem vertoon te word.

Emma is ’n konseptuele kunstenaar en kunsopvoeder wat in Riebeek-Kasteel woon en werk. Haar kuns wentel om die kwessies van verplasing, plekskepping en die sin van ’n plek. Sy het ’n meestersgraad in visuele kunste aan die Universiteit van Suid-Afrika voltooi en kwalifikasies in sielkunde en biblioteekwese. Haar kunswerke sluit beeldhou-installasies, drukwerk, kunstenaarsboeke, skilderye en tekeninge in.

Emma het wyd in Suid-Afrika, Afrika en in die buiteland uitgestal, en haar werke is in die Art Bank Joburg, Nando’s Collection, die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing en die Spier-versameling opgeneem.

Haar bekroonde kunstenaarsboeke-installasie, bestaande uit 101 handgemaakte boeke, is in verskeie samestellings plaaslik in Stellenbosch en Johannesburg, en oorsee in Florence, Parys, Londen en by die Dak’Art Biënnale in Senegal vertoon.

Met ’n glas Spier Cap Classique Brut in die hand, ervaar elke gas die uitstalling op hul eie; laat hulle hul gedagtes wye draaie loop. (Foto: Maryke Roberts)

Met ’n glas in die hand kry elke gas kans om die boeke te besigtig, te bevoel, jou gedagtes wye draaie te laat loop. Die papier onder jou vingers is effens skurf as jy oor die lyne streel.

Emma staan nader en verduidelik: “My projek het vyf jaar geneem om te voltooi en spreek van ervarings wat nóg langer neem om te verwerk – van verskuiwing en die verlies van ’n woning; iets wat miljoene Suid-Afrikaners deur eeue heen beleef het.

“Die boeke het ou parketvloerblokkies as omslae en is met tekeninge, drukkuns en collages gevul wat die ervaring van om jou huis te verloor dokumenteer en verwerk. Elke blokkie wat as boekomslag ingespan is, het eens nederig in ’n woonhuis diens gedoen; die plek waar so baie mense en gesinne se intieme lewenservarings plaasvind.”

Emma sê die stukkies hout is fragmente, maar verbeeld nogtans ’n magdom ervarings en is – soos die prente en illustrasies in die boeke – die sleutel tot ’n baie groter verhaal van lief en leed.

“Die boeke vorm as’t ware ’n (onvolledige) argief van herinneringe en die omslae en prente vertel nie volledige stories van voor tot agter nie. Dit is los versamelings oorblyfsels; ’n gebroke, onvolledige opgawe wat wys dat kennis en geheue, wat trauma en verlies probeer verwerk, gewoonlik broos, kompleks en veranderlik is.”

Emma kan met gesag oor die onderwerp praat en haar gevoelens daaroor in kuns uitbeeld, want sy moes self in die negentigs inderhaas ’n huis ontruim en vertel dat dit ’n moeilike tyd in haar lewe was.

“Dit was destyds baie traumaties, en bly my vandag nog by. ’n Tuiste is veel meer as ’n huis: Dit het te make met herinneringe, met waar jy hoort, met wortelskiet, met geliefdes en ’n gemeenskap … met jou hele identiteit.

“Die verlies van ’n tuiste beteken ook ’n verlies van al hierdie goed. Dié ondervinding van verlies het my lewe verander. Ek dink ek is baie meer gehard en nugter, maar ook soveel meer dankbaar vir die tuiste wat ek vandag het.”

Sy het een van die huise waarin sy gewoon het besoek om al die parketvloere op te laai, ’n paar uur voor die huis gesloop is.

“Ek wou graag iets tasbaars van die huis saam met my neem, wat my aan die tuiste se binneruimtes kon herinner. Ek het ook êrens in my agterkop gedink, miskien kan ek iets met die blokkies skep. Dit was amper ’n onbewuste reaksie in daardie stadium, en min het ek geweet dat die houtblokkies eendag so ’n belangrike rol in my kunstenaarspraktyk sou speel. Hulle het ’n sentrale motief in die meeste van my werke geword en speel ’n belangrike rol as metafore van die verlies van ’n tuiste.”

Later, as almal rustig gekyk en die uitstalling ervaar het, doen Michael Blake, bekroonde New Music-komponis, ’n klankuitvoering.

Die koningsblou Union House in Kaapstad, met sy reusehoutdeur waarin die klein deurtjie amper onsigbaar is. (Foto: Maryke Roberts)

“Nadat hy my installasie gesien het – 101 maniere om na ’n huis te verlang –  het Michael ’n paar van my boeke in my ateljee ‘gespeel’ en toe ’n musiekstuk vir voorbereide klavier en klavesimbel geskryf, vergesel van ’n elektroniese klankbaan van gevonde klanke,” vertel sy.

Ons is bevoorreg om sy 20-minuut stuk, genaamd “Displaced”, te kan hoor, met Emma se boeke wat nie ver van ons nie in die skemerligte waak. Michael se musiek is klanke uit die natuur, die geluide van ’n boek wat val, geblaai word, gelees word.

Toe hy voor die klawers inskuif, maak ek my oë toe. Ek gee my aan my ander sintuie oor: Die effens beskuitagtige reuk van die vonkelwyn in my hand wat op my gekruisde knieë rus; die sweempie parfuum van die vrou langs my; die ou oom agter my se jas wat vir die aand uit mottebol-storing opgediep is; die reuk van sigaarrook wat aan die vingers van ’n hipster met ’n ongetemde baard en te kort broekie kleef.

Dan neem die nostalgie oor. Skaars drie jaar tevore het ons ’n gedeelte van hierdie uitstalling by die Toyota US Woordfees op Stellenbosch gesien; in die dae voor maskers en pandemies en dood en vrees. Die rondleiding met Emma was insiggewend, hartverskeurend. Hoewel dit ’n blywende indruk op my gemaak het, was ek vry toe ek daar uitstap.

As ek by hierdie uitvoering uitstap, is dit weer gemasker en gehandreinig; inperkend en heeltyd bewus van alles wat ons met hierdie virus verloor het. Hoe ons lewens omvergegooi is.

Verplasing van ’n ‘huis’ is ’n tema wat in ’n aantal werke eggo en natuurlik netjies aansluit by haar materiaal: herwonne parketvloere,” vertel die kunsskrywer Mary Corrigall aan die gaste. “Hierdie ongebruikte materiaal roep uiteraard ’n ‘tuiste’ op, maar ook die geskiedenis van ’n plek en bewegings daarin wat ’n spoor laat. Vloerplanke is miskien ’n oorgesiene argief van menslike beweging, wat op die veelvuldige geskiedenisse en ervarings sinspeel wat baie subtiel in die oppervlak daarvan ingebed is.”

“Die boeke se omslae,” voeg sy by, “is aan die buitekant die stoorplekke vir alledaagse ervarings, terwyl die binnekant magiese kosbaarhede bevat – wat van uitknipsels wat regop spring tot baie fyn tekeninge kan wees – wat geleidelik aan die kyker openbaar word, deur ’n konsertina van bladsye.”

Gaste beleef van Emma se ander kunsvorme by Union House. (Foto: Maryke Roberts)

Ek is dankbaar toe ek ’n paar weke later hoor die uitstalling is nou by Spier-wynlandgoed te sien; gratis oop vir die publiek. Die ooptes van die historiese wynplaas sal almal weer vryer kan laat asemhaal. Noudat ons inperkingsmaatreëls verslap het en hospitale nie meer oorvol is met sterwende Covid-pasiënte nie, sal ek weer na die uitstalling in sy nuwe tuiste gaan kyk.

Emma sê die venue maak ’n groot verskil en sy kon ook nie al 101 boekies uitstal nie, daarom is die uitstalling nou getiteld Disrupt II. “Vir my lyk die uitstalling totaal anders in die ou wynkelder: Dit is ’n oop, stil ruimte waar die werke en die historiese gebou met mekaar praat.”

Miskien voel ʼn mens nou minder omvergegooi.

Wat inperking by ons tuisgebring het, met al die ure wat mense tuis moes bly, is die groot rol wat jou tuiste in jou lewe speel. Ek vind aanklank by Emma se gevoel van verlies, maar kan my nie in die trauma van daardie verlies indink nie. My tuiste was my veilige hawe in die pandemie-storm.

Disrupt II is ’n interaktiewe uitstalling: Besoekers word genooi om elke boek wat op uitstalling is te verken, verkondig die Trust se uitnodiging na Jan Alleman. Daar is baie aanloklike verrassings om te ontdek as jy deur hul bladsye blaai. Die uitstalling is daagliks oop van 09:00 tot 17:00 tot Vrydag 22 April in Spier se historiese ou wynkelder en is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.