Op dié dag doen die hele SA saam oefening

(Foto: Pixabay)

Ryg solank jou veters in, stof jou oefenklere af en maak gereed vir 30 minute van oefening saam met die res van Suid-Afrika op World Move For Health-dag wat op 10 Mei plaasvind.

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, sê die feit dat Suid-Afrikaners só lank tuis moes bly tydens inperking het ʼn negatiewe impak op ons gesondheid en harte.

“Die tekort aan fisieke aktiwiteit is van die grootste risiko’s van chroniese siektes, soos kardiovaskulêre siekte en tipe 2 diabetes, wat verantwoordelik is vir 40% van sterftes in Suid-Afrika.”

“Die meerderheid Suid-Afrikaners doen nie een naastenby die voorgestelde hoeveelheid oefening per dag nie. ʼn Onlangse studie deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) toon dat sowat 38% van Suid-Afrikaners onaktief is. Vroue is die onaktiefste (47%) in vergelyking met mans (28%).”

Die WGO beveel ʼn minimum van 150 minute van matige oefening per week aan, soos ʼn vinnige stap of fietsry. Hoewel dit nie toegelaat is tydens vlak-5 van inperking nie, sal net 75 minute van strawwe oefening per week dieselfde positiewe effek op jou gesondheid hê.

“Dertig minute van oefening daagliks verlaag jou risiko vir hipertensie met amper ʼn vyfde. Vier uur van fisieke aktiwiteit per week kan die verskil wees tussen ʼn gesonde bloeddruk of om medikasie vir die res van jou lewe te moet neem,” sê Jennings.

Die doel van die World Move for Health-dag is om soveel moontlik Suid-Afrikaners van die rusbank af en aktief te kry. Daarom is ʼn oefensessie vir die hele lyf opgestel waaraan die hele gesin op dié dag kan deelneem.

Die oefening word aangebied deur die Finkel-gesin: Glen en Yael, en hul dogters Ashton (16), Reegan (17) en Brady (19).

Dié gesin onderneem om ʼn oefensessie aan te bied wat maklik vir almal sal wees, met min ruimte en geen toerusting wat nodig is nie.

“Ons sluit ook meer uitdagende variasies van die oefeninge vir mense in wat meer gevorderde oefening wil doen,” sê Yael.

Om deel te neem aan Pharma Dynamics se World Move for Health-sessie, volg hierdie skakel op 10 Mei om 10:00 en wees gereed om te sweet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Raadslid ·

Die wêreld magte is sterk besig om skape van die mensdom te maak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.