Piekniek saam met Pieter Koen

Pieter Koen (Foto: Facebook via Pieter Koen)

Pieter Koen (Foto: Facebook via Pieter Koen)

Pieter Koen hou vanjaar op 31 Julie vir die derde keer sy jaarlikse piekniek, waar aanhangers saam met hom en ander bekendes, soos Refentse en Charlize Berg, kan kuier met musiek en heerlike kos vir oud en jonk.

Pieter sê dié piekniek, wat op 31 Julie in Pretoria plaasvind, bied alles wat nodig is vir die perfekte dag. “Daar gaan ʼn verskeidenheid kos-, wyn- en kunsbierstalletjies wees en speelplek om kinders die hele dag besig te hou. Braaipakke sal ook te koop wees en geriewe word verskaf waar jy jou eie vleisie op die kole kan gooi. Dan is daar natuurlik ʼn verskeidenheid kunstenaars wat deur die loop van die dag gaan optree. Kortliks: dis die perfekte piekniek!” sê hy.

Buiten Refentse en Charlize Berg, is die kunstenaars wat saam met Pieter gaan optree Anders, Pieter Smith, Suzzi Swanepoel, Martin Bester, TWEE, Juan Boucher, Andries Vermeulen, Lance James, Die Klipwerf Boere-orkes, James en André, Tiro en Brendan Peyper.

“Ek is bevoorreg om ongelooflike vriende in die bedryf te hê en dit maak dit maklik om sommer gou van hulle by die piekniek betrokke te kry,” voeg hy by. “Ek fokus dan ook op nuwe kunstenaars en groepe om aan hulle ʼn geleentheid te gee. Die program lyk elke jaar anders en daarvoor kan ek hoofsaaklik die goedgunstigheid van my vriende bedank.”

Oud en jonk sal die piekniek geniet. “Of jy net rustig wil kom ontspan, of wegbreek saam met familie en vriende of kom smul en proe wat daar by die ongeveer 80 stalletjies aangebied word – hierdie is ʼn piekniek vir almal.”

Die piekniek word vanjaar by Monte de Dios in die ooste van Pretoria gehou. Volgens Pieter is die plek gerat vir meer as genoeg mense om saam te kom kuier. Daar is ook genoeg parkering en sekuriteit.

Die piekniek is op 31 Julie en kaartjies is R100 per persoon. Kinders onder 12 kan gratis saamkuier.

Vir meer inligting, besoek Pieter Koen se webwerf of Facebook-blad. Kaartjies is beskikbaar by iTickets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

dries ·

Ek sal daar wees, net om te dink die ou gewone vervelige lot wat elke week op die verhoog en op tv is, is nie daar nie, ai tog man om te dink Lance James , Klipwerf en andere gaan net n fees wees, hoop net nog paar boeremusiek manne is ook daar.

marianne ·

Pieter jou yster! Ek hoop jou fees gaan ‘n GROOT sukses wees en dat dit ‘n jaarlikse instelling met Groot belangstelling gaan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.