Pierneef-uitstalling vanaf dié naweek in Pretoria te sien

JH Pierneef se ‘Hardekoolbome – Bosveld’ (1945).

Die kunswerke van Jacobus Hendrik Pierneef, een van Suid-Afrika se grootste skilders, sal hierdie naweek by die Voortrekkermonument in Groenkloof, Pretoria, uitgestal word.

Dié uitstalling word deur die Stad Tshwane in samewerking met die Voortrekkermonument aangebied. Die uitstalling in Gallery 20/20 by die monument sal Vrydagaand amptelik deur Michael Bernardi, ʼn historikus en kunsversamelaar, bekendgestel word.

Pierneef (1886-1957) was een van Suid-Afrika se voorste skilders en sy geometriese styl was destyds as revolusionêr in Suid-Afrikaanse kuns geag. Gedurende sy 50 jaar as skilder, het Pierneef voortdurend geëksperimenteer in ʼn poging om die outentieke siel van die Suid-Afrikaanse landskap vas te vang, en om dit met egtheid in sy eie kleure en lyne uit te beeld.

Sy kunswerke uit sy tyd in Pretoria sal die kern vorm van die uitstalling by Gallery 20/20 en sal deur uitgesoekte werke van die Pretoria Kunsmuseum se versameling aangevul word.

Sakkie du Plooy, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskap en maatskaplike ontwikkelingsdienste, sê die uitstalling sal deel vorm van die vierde GauFestival wat hierdie maand in Tshwane aangebied word.

“Inwoners van Tshwane en mense wat die stad besoek word aangemoedig om die Pierneef-uitstalling by te woon en om die GauFestival-geleenthede te ondersteun, aangesien hierdie aktiwiteite juis aangebied word om ons herkoms te vier en nasiebou en sosiale kohesie te bevorder,” het Du Plooy gesê.

Die Pierneef-uitstalling sal van Vrydagaand 18:00 tot Dinsdag 8 Oktober by Gallery 20/20 besigtig kan word. Gewone toegangsgeld vir besoeke aan die Voortrekkermonument is van toepassing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

4 Kommentare

Nico K ·

Waar word die pierneef skilderye gehou? Hulle was vroeër in die Pierneef museum in die middestad, maar vandat hy toegemaak het glo ek hulle lê iewers onder in ‘n kas.

Rita Leven ·

Pragtig. Van kleintyd af was Pierneef my gunsteling skilder. Wat is tog mooier?

Leon ·

Hoop net Ace Magashule is nie in nabyheid nie, want dan is daar weer paar skilderye na die tyd missing :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.