Pret en plesier by Kersliggies Oppi-Plaas

(Foto: Kersliggies Oppi-Plaas)

Oppi-Plaas Mark wil minder bevoorregte kinders dié feesseisoen help, en doen dit in samewerking met die Help-Net Fonds deur middel van hulle Safe House-projek. Die Oppi-Plaas Mark wil sommer ook weer ʼn bietjie vreugde en opwinding terugbring in die lewens van inwoners van Pretoria, ná die moeilike jaar wat so amper-amper verby  is.

Oppi-Plaas Mark bied in 2021 sy heel eerste Kersmark aan met die naam Kersliggies Oppi-Plaas. Dié Kersmark beloof om Pretoria-Oos se mooiste Kersmark te wees met ʼn fees van kleure en liggies, geskenke, musiek, smaaklike kos en kuiergeleenthede.

Kersliggies Oppi-Plaas vind vanjaar van 27 November tot 5 Desember 2021 plaas by Legends MX, net buite Pretoria-Oos in die Donkerhoek-omgewing. Toegang tot die Kersmark beloop R10 per persoon. Die toegangsfooi is ʼn donasie wat aan die Help-Net Fonds se Safe House-projek geskenk sal word. Die doelwit is om 10 000 mense oor die agt dae lange Kersmark deur die hekke te verwelkom.

Die Oppi-Plaas Mark is ʼn weeklikse Saterdagmark wat vir die eerste keer in Oktober 2020 by Legends MX gehou is. Die doel van die mark was om hoofsaaklik plaaslike ondernemings en entrepreneurs, wat erg deur die Covid-19-pandemie gekelder is, ʼn geleentheid te gee om weer te kan opstaan en besigheid te kan doen. Oor die laaste jaar het die mark gegroei ten spyte van die druk wat die grendeltydperke op die mark en sy uitstallers geplaas het.

Oppi-Plaas Mark streef daarna om ʼn kwaliteit, dog bekostigbare platform vir uitstallers te skep waar hulle veilig en redelik risikovry kan handeldryf. Die hoofdoel is sodat uitstallers met meer geld in hulle sak huis toe gaan as waarmee hulle mark toe gekom het. Die mark se organiseerders het dit reggekry om ʼn vriendelike en rustige markatmosfeer te skep en om ʼn pragtige markterrein te ontwikkel waar gesinne vrylik en in ʼn veilige omgewing hul weeklikse inkopies kan doen.

Enigeen is welkom om die mark elke Saterdag tussen 08:00 en 14:00 by Legends MX te besoek. Jy sal jou hele week se inkopies, van vars groente, vrugte, vleis en hoender tot ingelegde produkte en lekkernye kan doen. Daar is boonop elektriese knortjorre en ʼn springkasteel vir die jongspan, asook ʼn buitelugrestaurant en verskeie kosstalletjies met iets vir die hele gesin.

Besoek gerus Oppi-Plaas Mark se Facebook-blad of Instagram om te sien hoe dit by die mark lyk en vir inligting oor wat elke naweek by die mark gebeur.

Die beweegrede agter Kersliggies Oppi-Plaas is om die jaar op ʼn hoogtepunt af te sluit en om ʼn jaarlikse instelling te vestig wat die plaaslike gemeenskap sal bemagtig en ophef. Volgens Liza Welsh, een van die organiseerders van Kersliggies Oppi-Plaas, wil hulle ʼn wen-wen geleentheid vir almal skep. “Vir die publiek wil ons ʼn veilige, feestelike omgewing skep waar hulle Kersfees-inkopies kan doen en so ʼn bietjie kan afskakel van die druk van alledaagse bekommernisse. Ons wil ʼn wonderwêreld van liggies, klank en kleure vir ons besoekers voorsit,” sê sy.

“Ons wil ook entrepreneurs en ondernemings die geleentheid gun om die jaar op ʼn hoogtepunt af te sluit en om die blootstelling van die Kersmark te gebruik om momentum op te bou vir 2022. Maar selfs meer belangrik as dit, wil ons graag ʼn groot verskil maak in die lewens van die kinders wat deur die Safe House-projek gehuisves word. Hierdie is kinders wat tuis mishandel en/of verwaarloos is en deur die kinderhof  in die sorg van Safe House geplaas is.

“Ons is almal honger vir ʼn bietjie opwinding, ʼn bietjie goeie nuus en ʼn bietjie feestelikheid en Kersliggies Oppi-Plaas is net die plek waar mense dit alles gaan kan kry.”

Daar sal elke aand van die Kersmark ʼn vermaaklikheidsprogram wees. ʼn Kersliedere by Kerslig-program, gelei deur die Volle Evangelie Kerk Cullinan, in samewerking met ander gemeentes uit Rayton en Cullinan, sal die Kersmark afskop op 27 November 2021. Op Saterdag 4 Desember 2021 begin die dag met ʼn verskeidenheid van vliegtuie en lugvaart-uitstallings wat deel vorm van die Pilot Insure Steady Climb Fly In & Aviation Expo wat vir die vierde keer ook op 4 Desember op Legends MX se terrein plaasvind. Alle besoekers aan die Kersmark sal gratis toegang tot hierdie ekspo ontvang. Die Saterdagaand word afgesluit met die Lo’Cal-strandpartytjie wat om 14:00 afskop.

Vir meer inligting oor wat om te verwag van die Kersliggies Oppi-Plaas en om uit te vind hoe jy jou plek in die gelukkige trekking vir R2 000-kontant vir Kersfees, asook ʼn Lo’cal Spirit Cooler-geskenkpak ter waarde van R2 000 kan verseker, besoek gerus die Oppi-Plaas webtuiste.

Daar is nog geleentheid vir uitstallers, adverteerders, borge en plaaslike talent om deel te neem aan die mark. Kosstalletjies is reeds vol bespreek, maar daar is nog geleentheid vir uitstallers wat kwaliteitprodukte wil verkoop. Ons probeer klem lê op plaaslike en handgemaakte items, maar entrepreneurs met unieke en hoë kwaliteit produkte wat ingevoer word, is ook welkom om aansoek te doen. Stalletjies is beskikbaar vanaf sleg R1 200 vir die tydperk (minder as R150 per dag).

Plaaslike kunstenaars en musikante wat graag wil deel wees van die program kan ons ook gerus kontak, ons kyk graag hoe ons jong talent kan bevorder.

Vir enige navrae oor deelname, stuur ʼn e-pos aan [email protected] oor Kersliggies Oppi-Plaas of besoek die webblad oppi-plaas.online.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.