Pretoria-fees bied iets vir ieder en elk

Dié veelsydige fees beloof pret en vermaak vir die hele gesin. (Foto: Verskaf)

Die sluiting en verkope van die Pretoria-skougronde laat ʼn leemte in Pretorianers se harte en beslis in die fees- en skoubedryf. Op 22 April 2022 maak die Pretoria Buitelug Ekspo en Fees vir die eerste keer sy hekke oop en hierdie fees staan reg om ten volle die leisels oor te neem!

Dié fees word in samewerking met Maroela Media, MTN, Bidvest Protea Coin, Pretoria FM en kykNET by Legends Adventure Farm in Pretoria-Oos aangebied. Die Fees is propvol aktiwiteite en beslis een wat waarde en verskeidenheid beloof.

Die fees is gefokus op die familie en dien elke smaak en voorkeur. Veiligheid is aan die orde van die dag. Die fees voldoen ook aan regulasies van die “nuwe normaal” waarin die wêreld homself tans bevind. Groot fokus word geplaas om alle besoekers gemaklik en veilig te laat voel tydens hulle besoek.

Die Bidvest Protea Coin groep verseker dat besoekers met ʼn geruste hart hul voertuie in die parkeerarea kan los en na die feesterrein te stap. Vir diegene wat nie kans sien om die pad na die hooffeesterrein in hulle stapskoene aan te durf nie, is daar rygeleenthede wat die vorm van ʼn trekker-sleepwa, kindertreintjie of MTN Party Bus inneem.

Kom geniet smaaklike kos, ʼn enorme snuisterymark en ʼn magdom plaaslike produkte. Feesgangers kry ook die geleentheid om onder andere 40 000 proteas in lewende lywe te sien. Proteas, proteaplante, tuinornamente, varings en hordes vetplante is by die buitelug ekspo te sien.

Die fees is die perfekte geleentheid om alles te kry wat jy nodig het vir daardie doen-dit-jouself tuinprojek waaroor jy al so lank droom. Die Penta Groep in samewerking met Doornkraal Proteas help ook om die ervaring so gerieflik moontlik te maak deur die tuinprodukte, wat jy aankoop, te help aanry na ʼn punt in die parkeerterrein sodat jy maklik jou blomme en tuinprodukte in jou voertuig kan laai.

Feesgangers tydens dié geleentheid in 2019. (Foto: Verskaf)

Vir diegene wat nie groen vingers het nie, hou die Pretoria Fees steeds talle aanloklikhede in. Die buitelug ekspo verwelkom die Yamaha Linex Lynnwood-groep en spog met ʼn ongelooflike verskeidenheid bote en jetski’s en die perfekte geleentheid om te kom kyk na die nuutste produkte op die mark. Die groep stal onder andere ongelooflike visopspoor-toerusting uit en besoekers sal ook die geleentheid hê om hulle voete aan boord die nuutste bote te sit. As jy eerder jou voete op vaste grond wil hou, het die groep ook ʼn paar Indian Motorcycles op uitstalling.

Besoek Pretoria Caravans & Outdoor en gesels met kenners oor al jou kampbehoeftes. Die groep spog met ongelooflike karavane op uitstalling. Beleef onder andere die Stealth Overlander 4×4-karavaan – dit is ʼn splinternuwe woonwa op die mark wat probleme met water en vog uitskakel. Personeel staan ook gereed om enige navrae te beantwoord ná jy die EdgeOut Teardrop-sleepwa onder oë gehad het. Kom ervaar eerstehands waarom hierdie klein kompakte sleepwa besig is om die bedryf oor te neem.

Op die 4×4-baan kan jy jou eie 4×4 inskryf vir ʼn kompetisie waar die manne (en dames) wys waarvan hulle voertuig gemaak is. Alhoewel jy nie saam in ʼn 4×4 kan klim nie, sal jy by die aanloopbaan geleenthede kan kry om saam met Legends Sky te vlieg of saam met die manne van Nissan GTR in hulle motors te jaag.

As jy nie oortuig word deur spoed, tuinmaak, kamptoerusting of waterspeelgoed nie, is dit nie waar die opwinding stop nie. Die Pretoria Buitelug Ekspo en Fees bring ook interessante opvoedkundige geleenthede. Kom leer interessante feite by die slang-, spinnekop- en skerpioen-uitstalling. Daar is ook ʼn swart mamba-demonstrasie te sien.

Kom skuur skouers met die miniatuur perdjies van Meet the Mini’s of geniet ʼn kameelrit.

Orpington Club SA stal ook hulle top-skouhoenders uit en bied ʼn geleentheid vir die publiek om meer inligting oor hulle passie te verkry. Hoe word hierdie ongelooflike diere versorg, hoe bad jy ʼn skouhoender en waar kom die absolute liefde vir hierdie diere vandaan? Besoek dié uitstalspasie by die fees en skryf sommer in vir ʼn kompetisie waar jy ʼn braaiskaap kan wen!

Vir die kinders is daar ʼn pretpark met 12 verskillende ritte, onder andere Flying Horses, ʼn wurmtrein, swaaie, ʼn groot glyplank en selfs bootjies op die water. Die jongspan sal ook die geleentheid hê om hulle gesigte te laat verf, op die prettige springkastele te spring of ʼn bietjie sandkuns te doen.

Die fees spog ook vanjaar met twee verhoë waar van Suid Afrika se grootste name in die musiekbedryf hulle verskyning sal maak. Die hoofverhoog spog met kunstenaars soos Jay, Lianie May, Appel, Bok van Blerk, Dirk van der Westhuizen, Refentse, Bernice West en Francois van Coke. Op die tweede verhoog sal opkomende name in die bedryf die gehoor aan die kuier hou. Die fees spog ook met ʼn enorme biertuin, wyntuin en teetuin.

Die fees is vol aktiwiteite en daarby ook bekostigbaar vir die hele gesin! Besoek gerus die webwerf vir meer inligting oor wat die fees inhou en koop sommer vooraf jou kaartjies aanlyn.

#Diswaarjywilwees, dis by die Pretoria Fees.

Vir meer inligting, feesprogramme en om kaartjies te bespreek, besoek die fees-webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.