Reitz nooi jou na die 40ste Bieliemieliefees

In Februarie 2020 gooi die gemeenskap van Reitz in die Oos-Vrystaat vir die 40ste keer sy arms wyd oop om besoekers van oraloor by die Bieliemieleefees te verwelkom.

Hierdie is mielie-, soja- en sonneblomwêreld en die boeregemeenskap is so gasvry soos hulle kom. Van Donderdag 13 Februarie tot Sondag 16 Februarie gaan die feesterrein vermaak vir jonk en oud verskaf om te wys hoe die Vrystaters kán kuier.

Die Bieliemieliefees is die Vrystaat se vierde grootste fees en lok jaarliks ongeveer 15 000 mense.

Vir die 40ste fees kan besoekers verwag om uitstallings van die nuutste landbou-implemente, die mooiste skape by die SA Vleismerino-skou, boere se heel beste vee by die kuddekompetisie, die ramveiling en die beesuitstalling te sien, en ook sommer toekyk hoe bedrewe skaapskeerders teen mekaar meeding in die spoedskeerkompetisie voordat die sterk manne kyk wie die swaarste vrag wol kan dra.

Daar is ook heelwat ander kompetisies op die program. Kom skat ’n bul se gewig of bring jou mooiste haan en swaarste hen om prettige pryse te wen. Dan kan jy ook nog ’n appeltjie skil met jou mededingers om te sien wie die taak die vinnigste kan voltooi, of aan die skilder- of breikompetisie deelneem terwyl bedrewe kokke hul staal wys met wie die lekkerste potjiekos kan voorsit.

Lugfoto van die Bieliemieliefees

Streepsakke, eiers, bokmis, mieliepitte, trekkerbande en wie weet wat nog alles sal beskikbaar wees vir diegene wat aan die boeresport saam met sepiesterre van Binnelanders en Getroud met rugby wil deelneem.

Die jongste besoekers word in die kinderspeelterrein besig gehou en kan vir Buster en Bella ontmoet terwyl Ma en Pa die feesterrein verken.

Sportgeesdriftiges kan Saterdag, 15 Februarie, deelneem aan die Bieliemielie-marathon wat ’n kwalifiseerder vir die Comrades- én die Twee Oseane-marathon is. Atlete wat voorheen aan hierdie item deelgeneem het, weet dat dit ’n lieflike roete bied, ongeag of jy aan die 5 km- of 10 km-pretdraf, die halfmarathon of die marathon deelneem.

Dan is daar ook ’n krieketwedstyd, gholf- en visvangkompetisie waar groot pryse gewen kan word, en die Bulletjierugby en mini-netbal-wedstryde lok elke jaar groot belangstelling.

Saans sorg gewilde sangers soos Appel, Adam Tas, Elandré, Demi Lee Moore, Sunset Sweatshop, Spoegwolf en nog andere vir vermaak en op Sondag word die fees afgesluit met ’n lofprysing saam met Jo Niemand en VirAnder.

Soos hulle sê, die helfte is jou nog nie vertel nie. Besoek die webblad www.bieliemielie.co.za en die Facebook-blad by https://www.facebook.com/bieliemielie/ vir die volledige program en maak jou planne vir ’n onvergeetlike naweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.