SA Huweliksweek wil pare nader aan mekaar bring

SA Huweliksweek (Foto: Facebook)

SA Huweliksweek (SAHW) is ʼn jaarlikse gebeurtenis met ʼn aanlyn-teenwoordigheid. Dié nie-winsgewende inisiatief bestaan al sedert 2014.

SAHW se visie is om egpare te inspireer en te motiveer om op die welstand van hul huwelike te fokus, en só ’n heel gesin (en gevolglik ’n gesonde gemeenskap) te bewerkstellig.

Vanjaar vind SAHW van 1 tot 7 September plaas. Dié veldtog is deur INTIEM-tydskrif bekendgestel en vorm deel van die internasionale huweliksweek, wat wêreldwyd gevier word.

“Ons visie word só goed verwoord in die Chinese spreekwoord wat, rofweg in Afrikaans vertaal, soos volg lui: ‘Waar liefde in ’n huwelik is, heers harmonie in die huis. Waar harmonie in die huis heers, is daar tevredenheid in die gemeenskap. Waar vergenoegdheid in die gemeenskap is, is voorspoed in die nasie. Waar voorspoed in die nasie is, is daar vrede in die wêreld,’” het Liezel van der Merwe, stigter van SA Huweliksweek en besturende redakteur van INTIEM gesê.

“Ons missie is om paartjies toe te rus met die nodige visie, kennis, inspirasie en motivering om gelukkige en sterk huwelike te bou.”

Vanjaar se tema vir SA Huweliksweek is ‘Belê in jou huwelik’. “Met dié tema word Suid-Afrikaanse egpare aangemoedig om op emosionele, geestelike, fisieke, finansiële en verstandelike vlak in hul huwelike te belê vir ’n positiewe en langdurige uitkoms,” het Van der Merwe verduidelik.

“In kort: Belê jy slim, sál jy skatryk word wat jou huwelik betref. Mense wat slim belê, verstaan die langtermyn-vooruitsig van hul doelwitte en bou hul rykdom deur oor die lang termyn, met gereelde tussenposes, te belê, ongeag van wat op die aandelemark plaasvind.”

Vanjaar se hoogtepunte sluit in ’n 40 minute lange gratis webinaar oor die sewe stappe tot ’n huwelik wat hou, daaglikse inspirasie per e-pos en ’n huwelikstoets waarmee jy die gesondheid van jou huwelik kan meet. Enigeen kan gratis op die webtuiste registreer om voordeel te trek uit die magdom inligting, gratis wenke en interaktiewe speletjies.

“Dit is ook vir ons belangrik dat die huwelik as ’n heilige instelling gevier word. Daarom word geestelike leiers betrek om vir Suid-Afrikaanse huwelike te bid en ons moedig paartjies ook aan om, veral gedurende dié week, hul huwelike in gebed aan die Here op te dra,” het Van der Merwe gesê.

Om deel te word van SA Huweliksweek besoek die webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.