Die Simfonie-orkes van die Universiteit van Pretoria (Upso) bied Sondag ʼn program aan wat iets vir elkeen sal bied in ʼn konsert getitel True Colours.
Die program beloof werke van Beethoven, Mozart en Johann Strauss Jr aan die klassieke kant, maar daar is ook verwerkings van gewilde kontemporêre musiek met keurspelle van die Beatles, ABBA, Simon and Garfunkel en Queen. Temaliedjies van die bekendste James Bond-flieks kom ook aan die beurt.
Suid-Afrikaanse musiek sal ʼn kopknik kry met musiek van Freshlyground, Brenda Fassie en Miriam Makeba. Die klanke van Afrika sal ook weerklink in Toto se treffer “Africa”.
Die orkes, wat bestaan uit 60 studente van Upso én die Universiteit se Blaasorkes, oefen sowat ses ure per week. Die studente studeer nie almal musiek nie, maar het verskillende agtergronde. Sondag se dirigent is Schalk van der Merwe.
“Die program met Westerse, Afrika- en popmusiek gee aan hierdie talentvolle jong musikante ’n miljoen verskillende kleure waarmee hulle die musiek kan inkleur. Dit is ʼn reis vol emosie, kultuur, erfenis en herinneringe,” sê Van der Merwe.
Sondag se program begin om 14:00 in die Aula op die Hatfield-kampus van die Universiteit. Kaartjies kos R170 by Computicket, en R150 vir studente en pensioenarisse. Meer inligting is beskikbaar by 012 420 2641.