Slaap saam met honde, katte vir liefdadigheid

Wollies, die bekende diereskuiling in Pretoria, hou op 1 September sy vierde jaarlike “Wollies Sleepathon”, waar mense vir ʼn nag by die honde en katte in die skuiling kan kom uitkamp.

Dié geleentheid het die eerste keer in November 2015 plaasgevind, en vanjaar het daar reeds meer as 240 deelnemers geregistreer. Dit is Wollies se grootste fondsinsameling vir die jaar en die geld word aangewend om die diere te versorg, te voed en vir hul mediese onkostes te betaal.

Charmaine Swanepoel, organiseerder van die Wollies Sleepathon, het gesê dié geleentheid gee mense meer insig in die diere se lewens.

“Ek het in 2015 besluit om die Sleepathon te begin om mense bewus te maak van waardeur die diere in die skuiling op ʼn daaglikse basis gaan. En dít met die oog daarop om mense aan te moedig om eerder diere aan te neem by ʼn skuiling, as om hulle by ʼn teler te koop,” het sy gesê.

“Ons gebruik ʼn enorme hoeveelheid hond- en katkos elke dag, en al die geld wat by die Sleepathon ingesamel word, word gebruik om na die diere om te sien.”

Die Sleepathon begin op 1 September om 09:00 en eindig dieselfde tyd op 2 September.

(Foto: Wollies Animal Project)

“In daardie 24 uur kan mense hul kampbeddens, slaapsakke, komberse of kampstoele bring en daar kom sit en kuier. Almal sit lekker om die vuur en gesels, met honde wat snoesig by hulle lê. Daar is ook gratis koffie, tee en warm sjokolade deurnag beskikbaar,” het Swanepoel gesê.

“Dit is altyd ʼn baie lekker geleentheid, en baie van die mense kom neem elke jaar deel. So dit voel amper of dit ʼn groepie ou vriende is wat bymekaarkom, terwyl ons nuwe vriende maak,” het sy gesê.

Mense wat wil deelneem aan die Wollies Sleepathon moet registreer en ʼn borg kry. Die borg kan jou per uur of vir die hele nag borg.

Swanepoel moedig mense aan om deel te neem aan hierdie jaar se Sleepathon en te sorg dat daar geen dier is wat dié nag alleen slaap nie.

“Daar is nog 30 hondehokke wat oop is. Dit is die ergste ding as daar mense in sommige hokke is, maar in ander nie, want dan soek daai arme gesiggies ook iemand om by hulle te kom kuier. Ons hoop om al die hokke vol te maak,” het sy gesê.

Vir meer inligting bel Charmaine by 072 439 9555 of besoek die webblad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Denise ·

Ai dit is baie gaaf van die diere om mense te nooi om by hulle te oornag hoop al die ander 30 hokke word gou gevul !!!

Lizelda Jv Rensburg ·

Baie dankie aan almal wat hierdie aand md diere gaan spandeer. Dis wonderlik om te weet dat diereliefhebbers so saamstaan. Ek vertrou dat ek dit volgende jaar ook sal kan ervaar. Sterkte vd laaste 30 hokke.xxx

Love Dogs ·

Dit is ‘n fantastiese event om aan deel te neem. Asseblief mense gaan slaap ‘n nag oor of gaan net en ondersteun hulle tydens die dag. Vat ‘n blikkie of sakkie hondekos of ‘n kombers ook saam. Die mense doen fantastiese werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.