Só het dit gerol by Innibos 2018

Sowat 100 000 feesgangers het weer vanjaar makietie gehou tydens die 15de Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees wat van 27 tot 30 Junie in Mbombela (Nelspruit) gehou is.

Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder van Innibos, is die finale besoekersgetal nog nie geoudit nie. “Daar is egter meer kaartjies vir die feesterrein verkoop vanaf Woensdag tot Vrydag. Saterdag se kaartjieverkope was effens minder as in 2017, wat waarskynlik toegeskryf kan word aan die duurder brandstofprys wat minder besoekers van Gauteng af fees toe getrek het,” het Lubbe luidens ʼn nuusverklaring gesê.

“Die heerlike warm Laeveldse winterweer het beslis ook gehelp om ons besoekersgetalle te laat groei,” het hy bygevoeg.

“Daar is byna dubbel soveel weekkaartjies verkoop as verlede jaar, wat beteken dat meer mense elke dag die fees besoek het in plaas van net een of twee dae. Ons is baie tevrede met die feesbywoning,” het Sandra Jacobs, media-en-bemarkingsbestuurder van Innibos, gesê.

Drie Susters (Foto: Innibos)

My man se skelmpie se skelmpie se vrou en 3 Susters, met Margit Meyer-Rödenbeck, Lizz Meiring en Nicole Holm in die rolverdeling, is die toneelproduksies waarvan die meeste kaartjies verkoop is. Nog ʼn debuutproduksie, Soebatsfontein, met Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel op die verhoog, was ook uiters gewild onder feesgangers.

Volgens Jacobs is die “sogenaamde onbenullige statistieke” ná ’n fees verhelderend omdat dit die omvang daarvan ten beste opsom. “ʼn Mens vergeet maklik van die talle werkers agter die skerms wat sorg dat sake glad verloop, asook die ure lange voorbereiding om die terrein op te kikker en feestelik te laat lyk,” het sy gesê.

Daar is altesaam 3 420 manure gewerk om 7 705 m2 se tente op en af te slaan en 1,5 km tou is gebruik om seilafskortings tussen die stalletjies vas te maak. In die Bosmôl en Petticoatlaan, die feesterrein se “hoofstraat”, is sowat 2 800 handgestikte en kleurvolle vlaggies opgehang.

Daar is ook vanjaar, buiten die bestaande en permanente kleedkamers op die feesterrein, 111 bykomende tydelike toilette opgerig, 11 sleepwatoilette en 25 urinale. Altesaam 6 720 rolle toiletpapier is gebruik, en danksy 23 skoonmakers wat 1 834 uur gewerk het, is die geriewe deurgaans skoon gehou.

Sandra Prinsloo in Soebatsfontein (Foto: Innibos)

Om die veiligheid van feesgangers te verseker het 215 veiligheidswagte altesaam 1 300 skofte op die feesterrein en by die onderskeie feesvenues gewerk.

Plaaslike hotelle en gastehuise in Mbombela het ʼn stewige verblyfhupstoot gekry danksy 1 208 bespreekte bednagte vir slegs die kunstenaars en tegnici wat die fees bygewoon het.

ʼn Fees sonder pannekoeke is egter soos wyn in ʼn plastiekglas – lekker, maar wraggies nie volgens standaard nie. Ytipan, wat jaarliks die pannekoekstalletjie bedryf, se statistieke spreek tog vanself: 1 880 eiers, 314 kg meel, 6,27 kg sout, 12,53 kg bakpoeier en 10 kg kaneel is onder meer gebruik om 16 299 pannekoeke te bak. Stapel dit opmekaar en dit is ʼn pannekoektoring van 24,45 m hoog!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

Dalk minder mense weens julle belaglike hoe toegangsgelde eerder as duurder petrol. En elke jaar is daar een probleem – minderjarige kinders wat vallende dronk julle feesterrien vol val!

Piet Pompies ·

Drankmisbruik het ons gesin en vriende se besoek aan die vertonings op die hoof arena bederf. Ons kon nie die sangers geniet omdat die dronk besoekers aanhoudend snedige opmerkings teenoor die sangers gemaak het. Ons hekgeld van R1400 vir die gesinne was nie wys aangewend, ons het nie waarde vir ons geld gekry nie. Verander eerder die naam na dronkfees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.