Speel gholf saam met DZL en Toks en Tjops in die Krugerwildtuin

(Foto verskaf)

Junie-maand is beste tyd om in die Krugerwildtuin te kuier. Kombineer dit met ʼn potjie gholf en ʼn kuier saam met die manne van DZL en Toks en Tjops en jy het ʼn wenresep! Die duo-groep DZL is bekend vir hulle liefde vir die natuur en hulle is nie bang om skouer aan die wiel te sit vir natuurbewaring nie.

Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie het hande gevat met SANParke Ereveldwagters Marakele-streek en bied 14 – 16 Junie ʼn gholfnaweek by Skukuza Gholfbaan in die hartjie van die Krugerwildtuin aan. Die geleentheid is ten bate van natuurbewaring met ʼn spesifieke fokus op teen-renosterstroperyprojekte.

“Renosters was nog altyd ons eerste liefde en dit is waar ons ook baie van ons tyd en aandag spandeer. Hierdie projek lê ons dus baie na aan die hart en ons het nie twee keer gedink om betrokke te raak toe die SANParke Ereveldwagters Marakele-streek ons genader het nie,” vertel Andries.

DZL (Foto verskaf)

Natuurlik is daar ook lekker pryse op die spel. DZL gee ook vyf kampeerstaanplekke binne Skukuza Ruskamp vanaf 14-16 Junie weg aan gelukkige wenners. Die vyf kampeerplekke kan elk vier gaste akkommodeer. Die wenners gaan ook ʼn ete en toegang tot die lewendige opname van kykNET se Toks en Tjops op 14 Junie in Skukuza wen. Hoe gemaak om te wen?

“Bespreek jou plek om aan die gholfdag deel te neem en stuur vir ons ʼn e-pos by [email protected] met die bewys van jou bespreking. Vyf gelukkige wenners sal dan op 1 Mei 2019 aangekondig word,” verduidelik Wiaan.

Die gholfdag self word op 15 Junie 2019 by Skukuza Gholfbaan aangebied. Dit is ʼn 9-gaatjie-baan wat reeds in 1972 oopgemaak het en spelers word gereeld getrakteer met wilde diere wat van nader wil kennis maak.

“Dit is nie ongewoon vir ʼn vlakvark of kameelperd om gou in te loer terwyl die spelers die dag op die baan geniet nie. Dit is juis wat hierdie dag so spesiaal maak; nie net speel mens lekker gholf op ʼn unieke gholfbaan nie, die fondse gaan ook vir ʼn baie goeie doel,” vertel Andries.

Die SANParke Ereveldwagters is die amptelike vrywilligersorganisasie wat SANParke met verskeie projekte ondersteun. Oor die afgelope paar jaar het die Ereveldwagters veral hulle fondsinsamelingsprojekte op renosterbewaring gefokus met die doel om renosterstropery binne die nasionale parke teen te staan. In 2017 is ongeveer 1 028 renosters in die nasionale parke gestroop.

(Foto verskaf)

“Die dood van hierdie renosters is ongelooflik ontstellend, maar terselfdertyd herinner dit ons aan die feit dat daar nog baie werk is om te doen en dat ons nie kan slaplê nie. Dit is dus uiters belangrik om projekte soos dié wat die Marakele-streek aanbied te ondersteun want die fondse word daadwerklik aangewend om stropery te voorkom,” sê Wiaan.

Die fondse wat tydens die gholftoernooi ingesamel word gaan spesifiek vir projekte binne die Marakele Nasionale Park. Die park is gereeld die teiken van stropers na gelang van sy wit- en swartrenosterpopulasies.

“Van die toerusting wat aangekoop gaan word, is ʼn ‘off-road’-kampeerwa met elektriese toerusting en ʼn sonkragstelsel, 20 slimfone om kommunikasie tussen die spanne in die park te verbeter, 17 eenmantente vir die teen-stroperyspanne sowel as ses skandeerders vir voertuie en lisensies,” verduidelik Wiaan.

Kostes om aan die gholfdag deel te neem is soos volg:
R1 000.00 per individu
R4 000.00 per vierbal

Dit sluit in: verversings tydens aankoms, “Green Fees”, middag- en aandete

Vir besprekings kontak Susan Vrey 082 802 5527 / [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.