Suidoosterfees in Kaapstad aangebied

Die Kaapstad-munisipaliteit is trots om weer die Suidoosterfees te ondersteun – ʼn hoogtepunt op die jaarlikse kunste- en kulturele kalender in die Moederstad.

Die fees begin Woensdag en strek tot Sondag, 1 Mei en bied ʼn rits teater-, komedie- en musiekvertonings aan met boekbesprekings en danse deur die land se beste kunstenaars. Sien die program hier: https://suidoosterfees.com/program-2/

“Dit is ʼn geleentheid om huishoudelike name op die verhoog te sien. Die fees bied ook ʼn platform vir plaaslike kunstenaars en toekomstige sterre wat wag om ontdek te word,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. “Kapenaars kry ook maklik toegang tot die teater en kuns.”

Dit is die 19de jaar wat die Suidoosterfees aangebied word en ʼn rits ontwikkelingsgeleenthede word aangebied vir opkomende kunstenaars wat fokus op die ontwikkeling van draaiboeke en verhoogproduksies, liedjieskryf-mentorskap, ʼn koorkompetisie en ʼn talentsoek-kompetisie wat dans, musiek en drama insluit.

Die fees-organiseerders het in 2020 ʼn inry-teater bekendgestel in reaksie op Covid-19-beperkings op byeenkomste. Die inry bly ʼn kenmerk van die geleentheid, en vind ʼn paar maande plaas voor die hooffees in April.

“Die kreatiewe kunstebedryf is onder talle bedrywe wat die afgelope twee jaar gely het, en hulle het elke bietjie ondersteuning nodig wat hulle kan kry op die pad na herstel. Dit is ook belangrik om te onthou dat ʼn suksesvolle geleentheid ʼn hupstoot is vir Kaapstad se ekonomie en ons pogings om poste te skep en te volhou,” sê Smith.

“Ons moedig plaaslike inwoners en ook besoekers aan ons mooi stad aan om die Suidoosterfees te ondersteun.”

Besoek die Facebook-blad hier: https://www.facebook.com/Suidoosterfees/
Sien die program hier: https://suidoosterfees.com/program-2/ 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.