Unieke uiteet-ervaring tydens Covid-19

Die afsonderingstydperk het restauranteienaars gedwing om kreatief te dink, en die nuutste skepping wat daaruit ontstaan het, is iets wat jou herinner aan die dae van inry-fliekteaters en etes by jou gunsteling-roadhouse.

Jy kan nou in die veiligheid van jou eie motor heerlike geregte geniet en jou selfs vergaap aan singende kelners wat vermaak verskaf.

Dít is die inisiatief van die LeSi-restaurant by Casa Toscana in Lynnwood, Pretoria. Hulle het die inry-restaurant begin gedurende die afsonderingstydperk waarin restaurante nie klante kon ontvang nie, maar dit het so goed gewerk dat hulle besluit het om dit aan die gang te hou selfs noudat restaurante weer kan oopmaak.

Dié restaurant bied die ervaring van ʼn singende kelner vir gaste wat daarvan hou om vermaak te word terwyl hulle aan ʼn smaaklike driegangmaaltyd smul. Gaste parkeer buite die restaurant en word binne hul voertuie deur die singende kelners bedien.

Die restaurant moedig mense aan om ʼn kombersie saam te bring of ʼn matras agter op jou bakkie te gooi vir ʼn snoesige en romantiese aand uit. Kinders is ook welkom en ʼn spyskaart vir kinders is beskikbaar.

Casa Toscana se inry-restaurant (Foto: Facebook)

Aangesien restaurante tans nie alkohol mag verkoop nie, het hulle ook ʼn spesiale nie-alkoholiese dranklys opgestel wat verseker dat daar iets vir almal se smaak is.

LeSi-restaurant se inry-ervaring is oop op Vrydag- en Saterdagaande. Besoek hul webwerf hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.