Vakansiepret in ‘Pret’-oria

Ry jy dalk dié Desembervakansie met Jan Tuisbly se karretjie, maar moet bontstaan met ʼn sesjarige in die huis? Maroela Media het gaan kyk watter kindervriendelike aktiwiteite daar dié vakansie in die Pretoria-omgewing aangebied word.

Dit word nie verniet “Pret”-oria gespel nie. Ja, dit kan vet pret wees om die feestyd vanjaar in Pretoria deur te bring.

Sirkus

Opskud! Onthou, 23 Desember is jou laaste kans om die Zip Zap-sirkus te sien by die Menlyn Park-inkopiesentrum. Pa en kinders kan heerlik by die sirkus vermaak word terwyl ma inderhaas gou die laaste Kersgeskenke koop. Klik hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie Foto: Unsplash

Boney M op Oukersdag

Onthou jy nog “Rivers of Babylon”? Ja, die legendariese groep Boney M tree dié Oukersdag in Pretoria op. Liz Mitchell, oorspronklike hoofsanger van dié groep, gaan al jou gunstelinge sing! Kyk hier vir meer inligting.

Kersete

Kersfees is vir baie Suid-Afrikaners eie aan lekker eet, maar nie almal is lus om hulself agter die kospotte af te sloof nie! Gaan sit Kersdag aan vir ’n heerlike driegang-middagete by Waterkloof-gastehuis in die stad. Besoek dié webwerf vir meer inligting.

Foto ter illustrasie Foto: Unsplash

Groenkloof-natuurreservaat

Die Desembervakansie is sommer die ideale tyd om solank ’n voorsprong te kry op daardie Nuwejaarsvoorneme om bietjie gesonder te leef. Boonop kan jy die hele gesin betrek om uit die huis te kom en tyd in die buitelug te geniet. Gaan doen ’n staproete van 3,5 km óf 4,5 km óf 10 km (nét waarvoor jy kans sien!) by Groenkloof-natuurreservaat waarna jy jou kan bederf met ’n luilekker piekniek. Voeg sommer ’n stoute soetdingetjie by die mandjie … jy het darem immers gaan stap! Klik hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie Foto: Unsplash

Hillcrest-swembad

Wil jy afkoel gedurende nóg ’n Gautengse hittegolf, maar het nie ’n swembad by die huis nie? Gryp jou swembroek, swemhanddoek en visplakkies en gaan vind lafenis by die Hillcrest- openbare swembad. Besoek dié Facebookblad vir meer inligting.

Foto ter illustrasie Foto: Unsplash

Fliek

Gaan sit agteroor in Parkview Nu Metro se luukse fliekteater en geniet ’n goeie fliek met springmielies. Ons beveel die fliek Bohemian Rhapsody aan. Jy sal nie anders kan as om nostalgies te raak oor die klanke van Freddie Mercury en Queen in dié rolprent nie. Loer hier vir meer inligting.

Foto ter illustrasie Foto: Unsplash

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.