Van Wouw se ‘Slegte nuus’ onder hamer

Anton van Wouw se treffende beeldhouwerk met die titel ‘Slegte nuus’. (Foto: Verskaf)

Anton van Wouw se treffende beeldhouwerk met die titel Slegte nuus, ʼn bronsbeeld van twee boeresoldate uit die Anglo-Boereoorlog, word eersdaags deur Strauss & Co opgeveil.

Die afslaers meen Van Wouw se kunswerk is dalk een van die mees ikoniese mini-monumente van die oorlog. “Die welsprekende en buitengewone bronswerk is een van Suid-Afrika se kultuurskatte. Dit is aanskoulik, teer, herkenbaar en boeiend,” lui ʼn verklaring deur Strauss & Co.

Slegte nuus is in 1907 in die kunstenaar se Doornfontein-ateljee geskep, en is in Julie 1908 vir die eerste keer in Johannesburg en Pretoria uitgestal. In die daaropvolgende jaar kon kunsliefhebbers dit in Londen by die Fine Arts Society Galleries besigtig.

Van Wouw se kunswerk beeld twee neergeboë soldate uit wat liggaamlik en geestelik gebroke maar terselfdertyd dapper en gehard is, en wat bedroef is oor die verlies van hul republiek se onafhanklikheid, of hul eie naderende gevangenisskap.

Anton van Wouw se treffende beeldhouwerk met die titel ‘Slegte nuus’. (Foto: Verskaf)

Dié spesifieke gietstuk, Slegte nuus, kom uit die smeltoonde van Giovanni Nisini, die bekroonde gietery van Via del Babuino in Rome. Volgens Strauss & Co is hierdie gietsels ontsettend skaars en is daar glo tussen 1908 en 1924 slegs enkele daarvan by Nisini bestel, met ander wat moontlik tot 1934 vervaardig is.

Strauss & Co se regstreekse veiling fokus op surrealisme in Suid-Afrika. Dit begin Sondag 15 Mei om 11:00 met ʼn wynveiling uit die private versamelings van Peter Veldsman en Dirkie Christowitz. Sessies van moderne, naoorlogse en kontemporêre kuns vind Maandag 16 Mei om 14:00 tot 19:00, en Dinsdag 17 Mei om 19:00 plaas.

Die inhoud van die virtuele veiling is op Strauss & Co se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

“Mini-monument” , beslis!
Ai, sou wat gee vir een.

Hennie Biebouw ·

As ek reg onthou is daar een in die © Rupert Museum in Stellenbosch.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.