Video: Gevegkuns vloei deur sy are

Hanshi Stoffel van Vuuren.

Hanshi Stoffel van Vuuren.

As jy ʼn leek in die veld van gevegkuns is en dié woord hoor, gaan jou gedagtes moontlik dadelik na die Jackie Chan-flieks van ouds of die enkele karate-skoppe wat jy op laerskool geleer het.

In die hartjie van Centurion in Gauteng is daar egter ʼn egte dojo met die naam The Black Dragon, ʼn plek waar hordes style van gevegkuns beoefen en bemeester kan word.

Dié dojo word besit en gelei deur Stoffel van Vuuren, of Hanshi Stoffel, soos wat hy bekend is in die gevegkunskringe. Hy en sy vennoot, Herman Mulder, het dié dojo saam op die been gebring.

Hy verduidelik dat die dojo verskeie gevegkunste aanbied. Daar is tien hoofdissiplines wat daar geleer kan word, met ninjitsu as die hoofdissipline. Daar is ook kleinsirkel-jujitsu, opstaan-jujitsu, eskrido-veg wat die stok- en mesgeveg behels, kenjitsu wat die kuns van die Samurai-swaard bemeester, asook tai chi chuan, wat die stadige bewegings is wat deur ouer Chinese vir gesondheidsdoeleindes beoefen word.

Van Vuuren, wat al vir langer as 51 jaar gevegkuns beoefen, en sy span bied ook lyfwag- en vuurwapenhanteringskursusse aan en doen sekuriteitsgraderings.

Van Vuuren vertel die titel Hanshi is een wat jy kry wanneer jy ʼn sekere vlak in die gevegkunste bereik. “Ek is ook ʼn stigter van die sisteem. Hanshi beteken ‘vader van die sisteem’. Ek het ʼn piek bereik in my gevegkuns en begin dus nou weer die hele proses van voor af om sodoende die tegnieke van naderby te bekyk. Ek haal alles uitmekaar om seker te maak dit werk, sodat wanneer ek vir ander mense leer, ek wéét dit werk.”

Die Japannese kuns en geskiedenis van ninjitsu is ingewikkeld, met verskillende dissiplines wat verskillende terminologieë gebruik. Dit hang ook af in watter deel van die Japan jy is.

“Daar is twee verskillende hoofdissiplines van ninjitsu,” verduidelik Van Vuuren. “Daar is Ega en Koga, wat basies twee provinsies in Japan is. Die twee provinsies is aan beide kante van ʼn berg. Hulle beveg mekaar al hul hele lewe lank om die hoofninjitsuskool in Japan te word.”

Van Vuuren vertel dat ninjas volgens tradisie van ʼn jong ouderdom gekies word. “Vir meer as 800 jaar is dit Japannese tradisie om ninjas van kleintyd af te kies. Die pa sal die baba na die rivier neem en hom in die water sit en as hy omdraai en dryf, dan het hulle geglo jy het die gees van die ninja binne jou. Daardie kind word dan eenkant al die ninja-aspekte van die lewe geleer.”

Hy het sy eie kinders ook die gevegkuns laat bemeester. “Toe my oudste seun so drie jaar oud was, het ek my katana-swaard geneem en dit voor hom neergelê. As hy aan die lem gevat het sou ek hom nie geleer het nie, maar hy het uitgereik na die handvatsel. Vir die algemene publiek maak dit nie sin nie, maar vir my was dit betekenisvol.”

Van Vuuren vertel hy het self as jong seun reeds met die gevegkunste begin. “Ek was gelukkig genoeg om baie goeie instrukteurs hê. Hulle het my gehelp om ʼn baie sterk fondasie te lê.”

Tog maan hy teen diegene wat afgewaterde tegnieke ten duurste aan ʼn niksvermoedende student leer. Hy is tans in die proses om ʼn organisasie, Mavasa (Martial Art Verification Authority of South Africa), op die been te bring om dié ongerymdhede in die gevegkuns te bekamp.

“Deesdae kan jy ʼn swartbeltsertifikaat deur ʼn aanlynmaatskappy bekom sonder dat hulle jou ooit eers ontmoet het. Daar is ʼn klein groep van ons wat hierdie tendens wil beveg. Dié organisasie staan vir die waarheid. Ek is iemand wat soek na die waarheid. Sodra ek dit het, dan kan ek agteroor sit en sê ek ken nou al die antwoorde, maar ek soek nog.”

Vir Van Vuuren loop gevegkuns en selfverdediging hand aan hand, en hy bied ook selfverdedigingsklasse aan. “Ek het baie tyd in my lewe op die vloer deurgebring. Ek het al bene gebreek, snye en blou kolle gehad en ek het al dae gehad waar ek nie uit die bed uit kon opstaan nie.

“Die tipe instrukteurs waarmee ek grootgeword het sou jou oor die vloer geskop het as jy nie geluister het nie. In my dojo het ek baie streng reëls en as dit nie gevolg word nie, sal ek die student se geld teruggee en hulle eerder vra om te loop.

“As mense hierdie plek verlaat, hoop ek hulle het iets geleer en hulle het waarde vir hulle geld gekry. Die dag wanneer iets met hulle op straat gebeur, moet dit wat ook al ek hulle hier geleer het, natuurlik na hulle toe kom.”

Vir meer inligting besoek die webwerf of kontak Stoffel van Vuuren by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KM ·

Watter styl / metodologie is beste vir alg fiksheid en selfverdedigingstegnieke?
(Waar pas Krav Maga in?)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.