Video: Son, spoed en kampeer-pret by kykNET Buite Ekspo in Sondela

André de Villiers van ‘André 4×4’ kuier ook by die kykNET Buite Ekspo. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

As jy gereed is om die winterkoue te groet en jou kampeerskoene weer aan te trek, gaan maak dié naweek ʼn draai by die kykNET Buite Ekspo wat tussen 28 en 30 Julie in die Sondela-natuurreservaat net buite Bela-Bela plaasvind.

As een van die grootste van sy soort in Suid-Afrika bied dit iets vir elke sak en smaak, óf jy nou op soek is na jou eerste intreevlak eenmantent, óf wil opgradeer na ʼn luukse woonwa.

Anders as by winkels, bied die kykNET Buite Ekspo die geleentheid vir kopers om produkte te sien en te ervaar soos wat dit werklik in die natuur gebruik sou word danksy die veilige plaasatmosfeer waarin dit plaasvind.

Rugbyliefhebbers word vanjaar behoorlik bederf danksy die GT Camper Sportpark Ommivuur, waar die bekende Toks en Tjops-aanbieder Hamilton Wessels en sy gaste rugby sal gesels en stories vertel.

Natuurlik word die Springbokke se kragmeting teen Argentinië in die Castle Lager Rugby-kampioenskap regstreeks op groot skerms uitgesaai.

Selfs al is kampeer nie deel van jou doenlysie nie, sal dié unieke ekspo se wye verskeidenheid uitstallers selfs die grootste stadsjapie se buitelugbelangstelling prikkel: Van 4×4-ritte en vermaak tot natuurlik die beste buitelewe-produkte.

Talle uitstallers soos Buckbag SA is by dié ekspo te sien. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Puik plaaslike kunstenaars, onder andere Pieter Smith, Fatman, Soné Joubert, Droom Sindroom, Dewald Dippenaar, Jennifer Zamudio, Arno Jordaan, Pieter Koen, Jakkie Louw en Charné Grabie, gaan danksy Hankook Tyres vermaak tydens dié buitelig ekspo verskaf.

Hankook 4×4 Extreme-kompetisies, André de Villiers van Andre 4×4 se hindernisritte, Action Ford Modimolle se splinternuwe Ranger Raptor-ervarings en helikopterritte is ook op die spyskaart.

Verskeie kykNET-akteurs van programme soos Diepe Waters en Binnelanders gaan mekaar Saterdag laat les opsê by ʼn potjiekoskompetisie aangebied deur Jimmy’s Steakhouse Sauces.

Feesgangers kan ook uitsien na smullekker kos en ʼn verskeidenheid verversingstuine, wat alles van tee tot wyn sal bedien.

Die hekke open reeds om 09:00 en die ekspo duur tot Sondag 30 Julie om 14:00.

  • Besoek ekspo.co.za vir meer inligting.
  • Rig navrae aan Tersia by [email protected].
  • Kaartjies kan by die ingang gekoop word, maar koop nou jou kaartjies hier om teleurstelling te voorkom.
  • Indien jy nog ʼn bietjie oortuiging nodig het, kyk hier hoe Maroela Media die kykNET Buite Ekspo Vrydag geniet het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.