Vier Erfenisdag by die Voortrekkermonument

Die Voortrekkermonument (Foto: falco, Pixabay)

Erfenisdag, wat op 24 September gevier word, word vanjaar by die Voortrekkermonument met ’n Erfenisfees, die 80-jarige bestaan van die Voortrekkermonument en die laaste Antiek-en-Versamelaarsmark vir 2018 gevier.

“Die Erfenisfees gaan ’n heerlike gesinsdag vol interessante aktiwiteite en kultuurdemonstrasies wees. Ons gaan brood in die tradisionele bakoond bak, koffie brand, kerse giet, botter maak en swepe vleg,” het Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, in ʼn verklaring gesê.

“Die Trekboervereniging bied weer ’n tipiese Voortrekkeruitstalling met kakebeenwaens en pioniersgoedere op die ‘ou werf’ naby die bakoonde aan, en daar is ook demonstrasies van smeewerk en voorlaaier skiet. Naas allerlei snuisterye, handwerk en boekkraampies, sal heerlike potjiekos, ingelegde produkte en tuisgemaakte happies te koop aangebied word,” het sy gesê.

Die Antiekmark by dié fees is reeds 14 jaar oud en word beskou as die beste van sy soort in die land.

“Daar is tans 171 stalletjies wat ’n verskeidenheid antiek- en versamelaarsitems verkoop. Besoekers kan ou erdeware, muntstukke, porselein, Dinky Toys, eetware, messe, juwele, glasware en nog baie meer op hierdie mark kry,” het Kruger gesê.

Kanon Susanna sal tydens die geleentheid afgevuur word terwyl Nadine en Joe Voster sal sorg vir musiekvermaak. Wanneer feesgangers honger raak, is daar ’n restaurant en verskeie heerlike kosstalletjies om van te kies.

Die Antiekmark sal op die dak van die groot amfiteater plaasvind en die Erfenisfees op die piekniekterrein. Die mark én die Erfenisfees duur van 09:00 tot 15:00 en toegang is R30 per motor.

Vir meer inligting besoek hul Facebook-blad hier of stuur ’n e-pos aan Thea na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.