Vier jóú Erfenis by die Voortrekkermonument!

Erfenisfees – Trekboervereniging uitstalling (Foto verskaf)

Die Voortrekkermonument se Erfenisfees is dié jaar terug in volle swang! Dit is ʼn besonderse jaar vir hierdie Nasionale Erfenisterrein aangesien 2018 die 80ste herdenking van die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in Pretoria is. As deel van ʼn reeks feesvieringe beplan hulle ʼn dag van pret vir die publiek op Erfenisdag, 24 September 2018.

Ná voltooiing van die Opvoedkundige Ontdekkingsentrum se konstruksie op die piekniekterrein, wat verhoed het dat dié gewilde fees in 2017 aangebied kon word, is die Voortrekkermonument gereed om weer makietie te hou. Die 2018 Erfenisfees gaan beslis iets vir jonk en oud aanbied – van boeremusiek geborg deur die Boeremusiekgilde tot optredes deur bekende kunstenaars, Nadine en Joe Foster. Buiten ʼn verskeidenheid stalletjies met potjiekos, snuisterye en handgemaakte artikels, kan feesgangers ʼn propvol program verwag wat ʼn reeks aktiwiteite bevat, insluitend boeredanse, volkspele, demonstrasies deur die Trekboervereniging en tradisionele aktiwiteite soos broodbak in ʼn buitebakoond.

Daar word ook ʼn program vir die jongspan aangebied. Dié reeks aktiwiteite sluit boeresport, treinritte en gesigverf in. En wie sien nie uit na ʼn gelukkige trekking en die bulderende Kanon Susanna se afvuur nie?

Erfenisfees – Kanonvereniging demonstrasie (Foto verskaf)

Vir diegene wat belangstel in geskiedenis en Africana is daar ʼn reeks films uit die Erfenisstigting se argief te siene in die splinternuwe ouditorium van die Opvoedkundige Ontdekkingsentrum. Besoekers kan ook uitsien na Wouter Botes se praatjie oor Doodloopspore, Die Onverklaarde Geheime van Suidelike-Afrika, wat hy gaan aanbied.

Op dié dag sal die Voortrekkermonument se vierde Antiek-en Versamelaarsmark vir die jaar ook onder die splintenuwe amfidak plaasvind. Feesgangers word aangemoedig om rustig tussen die fees en mark te verkeer.

Op hierdie dag open die hekke vir die publiek om 09:00. Toegang is R30.00 per motor met veilige parkering op die terrein beskikbaar. Vir meer inligting kontak die Voortrekkermonument by 012 326 6770 of gaan loer op die Facebook-blad Voortrekkermonument & Natuurreservaat

Besoek ook Die Erfenisstigting se Facebook-blad vir die volledige program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.