Vul jou stoet aan by die Swartland-veeboereveiling

(Skermgreep uit Lightspeed Digital Media-video)

Die 33ste Swartland-veeboereveiling vind op Donderdag, 20 September plaas op die plaas Bossiesvlei buite Moorreesburg in die Wes-Kaap. Veeboere durf die dag nie misloop nie, aangesien daar ’n topgehalte aanbod van 1 099 diere gaan wees.

“Hierdie is die oudste vleisbeesveiling in die Wes-Kaap. Toptelers van vyf rasse word onder een dak op een dag verkoop,” sê Philip de Waal, eienaar van Bossiesvlei en die Locheim Stoetplaas. Die Locheim Hereford- en Simmentaler-kudde is wêreldwyd bekend.

“Daar word verskeie kampioene op die veiling aangebied en die diere word landwyd afgelewer. Ons verwag dat kopers van reg oor Suid-Afrika die veiling gaan bywoon. Baie nuwe genetika word aan die vleisbeesbedryf vrygestel en gevolglik is die gehalte vanjaar besonders.”

Altesame 15 Hereford- vroulike diere en 20 bulle, 15 Simmentaler- vroulike diere en 15 bulle, vier rooi Angus- vroulike diere en drie bulle, nege swart Angus-bulle, vyf Sussex- vroulike diere en drie bulle en 1 000 lammers sal die dag opgeveil word. Hereford-, Simmentaler- en Swart Angus-beeste is veral gesog onder veeboere vir hul deug as gehalte vleisbeeste.

“Die Hereford-verse op die veiling is meesal dragtig juis van ingevoerde genetika. Een van die beste Simmentaler-bulle in die land word ook op die veiling aangebied,” sê De Waal.

Volg die N7 van Moorreesburg na Malmesbury vir 7 kilometer en hou by die GWK-wegwysers om by die plaas Bossiesvlei uit te kom. Indien jy van Malmesbury ry, volg die pad vir 20 kilometer en hou by die GWK-wegwysers.

Besoek www.swartlandveiling.co.za vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.