Wees haweloos vir ʼn aand vir ʼn goeie doel

(Foto: Facebook)

Tekkie Tax is ʼn organisasie wat al sedert 2015 geld in Suid-Afrika insamel en dan versprei tussen nieregeringsorganisasies (NRO’s) wat behoeftiges help.

Tekkie Tax bied op 30 Junie ʼn “Hobo-dag” aan waartydens die publiek uitgedaag word om vir ʼn aand buite in die koue te slaap.

Germa Hattingh, die nasionaleveldtogbestuurder van dié projek, het gesê deur buite te slaap, raak mens meer bewus van jou eie voorregte.

“Die ‘Hobo-dag’ is groot pret, én dit voel boonop lekker om te weet jy maak ʼn verskil. Dit laat jou ook twee keer dink oor jou eie voorregte wat jy nie altyd waardeer nie.”

Dié ondervinding sal darem nie presies soos hawelose mense sʼn wees nie en Tekkie Tax tref reëlings om dit vir jou so lekker moontlik te maak.

“Ons slaap op Centurion Mall se dak. Dit is verskriklik koud, so ons maak ʼn lekker vuur. Ons het vier flieks wat gedurende die aand vertoon gaan word. Daar is ook ʼn motiveringspraatjie deur Kobus Visser, waartydens hy sy storie om die vuur sal vertel. Ons gaan malvalekkers oor die vuur braai, lekker saamkuier en baie koud kry, en dit alles vir ʼn goeie doel!”

Die publiek wat nie kans sien om die hele aand of nag in die koue deur te bring nie, is ook welkom om net ʼn fliek saam met die groep te gaan kyk.

“Bring kampstoele, ʼn warmwatersak en komberse – dit raak regtig baie koud! Trek ook in lae aan, want deur die dag kan jy dan van die lae uittrek,” het Hattingh gesê.

Toegang tot die “Hobo for Tekkie Tax”-dag is R150 plus ʼn sak vuurmaakhout en R50 as jy slegs ʼn fliek wil gaan kyk.

“Al die geld gaan na behoeftiges toe. Tekkie Tax werk saam met 274 NRO’s wat hulp bied vir behoeftige diere, bejaardes, armes, kinders en skole. Die geld wat ingesamel word, word verdeel tussen die NRO’s om hulle te bemagtig.”

Volgens Hattingh is die “Hobo-dag” ʼn geleentheid om met ʼn geruste hart ʼn goeie ding te doen.

“Dit is lekker om te gee. Ons is almal geskape met die behoefte om te gee. Mense weet net nie altyd waar dit veilig is om te gee nie. Ons wil mense met oop harte ’n geruste hart en versekering gee dat die geld wat hulle gee wel die mense wat dit nodig het, sal bereik.”

Vir meer inligting besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

bren ·

vure…malvalekkers….kampstoele?? fliek?? ek noem dit nie nou juis n hawelose nag daardie nie? werklik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.