Nou hoef jy nie meer te wonder nie, want danksy die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se nuwe aanlyn genealogielessenaar kan jy op ’n speurtog gaan om jou familiewortels te ontdek.
Die nuwe webblad www.genealogielessenaar.com laat jou nou toe om meer uit te vind oor genealogie en hoe jy dan te werk moet gaan om meer oor jou voorouers uit te vind.
Die gerekende genealoog Isabel Groesbeek, wat familielyne vir meer as 30 jaar naspoor en sedert die begin van die jaar deel is van die FAK-familie, staan aan die hoof van dié navorsingslessenaar.
Sy bied sedert 2000 die Van waar Gehasi?-werkswinkels aan om mense meer vertroud met genealogie te maak en om hulle meer te leer oor hoe om hul familiewortels te ontdek.
Die FAK bied op Dinsdag 14 April sy heel eerste virtuele Van waar Gehasi?-werkswinkel in hierdie verpligte afsonderingstyd aan, waar belangstellendes eerstehands meer oor hulle families kan leer. In hierdie kursus kan tot agt mense oor Zoom met hulle rekenaars inskakel, waar Isabel hulle meer sal vertel oor wat genealogie is, watter soort navorsing jy moet onderneem, waar en hoe jy moet begin, watter bronne geraadpleeg moet word, waar vind jy hierdie bronne, watter rekenaarprogram jy moet gebruik en hoe jy die internet kan benut.
Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sien die FAK genealogie as ’n belangrike sleutel om die historiese geheueverlies onder kinders te takel.
“Deur genealogie weet elkeen in die gesin waar hy vandaan kom en dit gee baie raakpunte om ook met kinders te gesels oor die konteks waarin hulle ouers en grootouers geleef het. Afrikaners is een van die min volke ter wêreld wie se rekords redelik volledig tot die 17de eeu terugstrek. Die FAK het ervaar daar is onder gesinne en families ’n nuwe belangstelling in wie ons is en waar ons vandaan kom. Udolpho, die FAK se kultuurvakansieplaas naby Parys, is vir familiesaamtrekke veral gewild. Daar is ’n toename in besprekings van families wat duidelik dui op ’n groot behoefte,” aldus Langner.
Die Genealogielessenaar is juis gevestig om by te dra tot die bewusmaking en bewaring van persoonlike familiegeskiedenis as onderbou van algemene Afrikaanse kultuurerfenis.
Alhoewel genealogiese navorsing wêreldwyd een van die belangstellings of stokperdjies is wat jaarliks groei, is genealogiese navorsing tans in Suid-Afrika aangewese op enkele professionele navorsers, vrywilligers in die vakvereniging, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika en biblioteek- en argiefdienste verspreid oor die land. Die internet skep ook die gevaar dat belangstellendes data net klakkeloos naskryf sonder raadpleging van primêre bronne.
Die FAK-genealogielessenaar wil juis daarom ’n genealogiese inligtingsdiens aan die publiek lewer, genealogiese navorsing aanmoedig, belangstellendes met wetenskaplike navorsingsmetodiek toerus en ’n genealogiese dataregister opbou.
Belangstellendes vir die heel eerste virtuele Van waar Gehasi?-genealogiewerkswinkel kan ’n e-pos aan [email protected] stuur.
Glad nie, soms oor my familiestamboom. Die wortels maak nie regtig saak nie.
Sou graag wou weet wie my pa se regte ouers is, my pa is aangeneem as n baie klein seuntjie en sal nogal wil weet waar daardie bloedlyn heen loop!!