Geliefde ‘Boer soek ʼn vrou’-paartjie verloof

Helene Retief het die goeie nuus op haar Facebook-profiel bevestig.

Adriaan Geldenhuys en Helene Retief, een van die gewildste paartjies van die tiende reeks van kykNET se Boer soek ʼn vrou, is verloof.

Helene het dié goeie nuus Maandagaand laat op haar Facebook-blad bevestig. Gelukwensinge vir die smoorverliefde paartjie het dadelik ingestroom. “Pragtige paar, julle is bedoel vir mekaar,” het iemand onderaan die aankondiging geskryf.

Adriaan, ʼn skaapboer van die Langeberg-distrik in die Wes-Kaap, het Helene verlede jaar tydens die verfilming van Boer soek ʼn vrou ontmoet en was dadelik mal oor dié donkerkop van Kaapstad. Die paartjie was dadelik ʼn gunsteling onder kykers met talle wat meen dat die liefde tussen Adriaan en Helene van die begin af ooglopend opreg was.

Maande lank het die twee maar die lang afstand aangedurf om mekaar oor naweke en vir vakansies te sien totdat Helene uiteindelik vroeër vanjaar haar tasse gepak en plaas toe getrek het.

In April het Adriaan aan Maroela Media gesê hoewel die liefde nou éérs blom is daar nog nie sprake van trou nie, maar ʼn paar maande later was dié boer duidelik gereed om ʼn ring aan sy Helene se vinger te steek. Soos Adriaan ook destyds gesê het: “Ons is baie gelukkig en baie verlief en ons weet dat dinge sal uitwerk soos dit moet en op die regte tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hannelie ·

Baie Geluk julle twee! Julle pas so mooi bymekaar, mag jul paadjie vorentoe net met liefde en rose besaai wees.

DeVill ·

Sterkte vir julle pad. Onthou as julle trou, die huwelik is bitter spesiaal, maak dit lekker vir mekaar, om met mekaar getroud te wees!

Elle ·

Sjoe, dis die mooiste paartjie ooit!
Mens kan sommer hul geluk sien én ervaar. Geniet elke oomblik,julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.