Gewildste Afrikaanse vermaak op Showmax

Die sanger en aktrise Leah as die aanbieder van die ‘Boer soek ʼn vrou’. (Foto: Instagram)

Die wipwarit van 2020 is reeds halfpad verby en om dié mylpaal te vier en ʼn terugblik op die jaar tot dusver te gee, het Floris Groenewald, Maroela Media se eie Fliekvlooi, ʼn lys saamgestel van vanjaar se gewildste Afrikaanse inhoud op die stromingsdiens Showmax.

Boer soek ʼn vrou Seisoen 9 tot 12

Hoewel dit begin het as ʼn plaaslike weergawe van ʼn internasionale werklikheidsreeks, is die immergroen Boer soek ʼn vrou se 13de reeks tans in produksie en binnekort op die kassie. Terwyl jy daarvoor wag, kan jy op Showmax kyk wat in die vorige vier reekse gebeur het.

In elke reeks gaan kuier die aanbieder (Minki van der Westhuizen in reeks 9 en 10, en Leah in reeks 11 en 12) by tien hubare, enkellopende boere wat op soek is na ʼn lewensmaat.

Fynskrif Seisoen 1 en 2

‘Fynskrif’.

Die prokureurs by Van Wyk en Vennote neem hulle werk ernstig op, maar sukkel dikwels om hul persoonlike lewens by die huis te hou. Hulle los bedags moeilike regskwessies op, en tussendeur moet hulle ingewikkelde verhoudings, familiekwessies en die uitdagings van ouerskap oorwin.

Safta-wenner Louis Pretorius, wat saam met Albert Snyman die reeks geskryf en vervaardig het, beskryf dit as ʼn mengsel van Boston LegalThe Good WifeSuitsParenthood en Brothers & Sisters. Die duo het hierdie reeks aangepak ná hul sukses as vervaardigers van Die boekklub, waarvoor hulle ook ʼn Safta (Suid-Afrikaanse fliek- en televisietoekennings)-benoeming vir draaiboekskryf verower het.

Fynskrif se tweede reeks het ook verlede jaar ʼn Safta gekry vir beste klankontwerp in ʼn dramareeks en beste oorspronklike klankbaan in ʼn dramareeks.

Fynskrif se ensemble-rolverdeling is stampvol gesiene akteurs soos Neels van Jaarsveld (BinnelandersDwaalsterGriekwastad), Cintaine Schutte (Johnny is nie dood nie, en Safta-benoemde vir Die seemeeu), Chris van Niekerk (7de Laan, Vlug na Egipte), Tinarie van Wyk Loots (Dwaalster), Kim Cloete (Twee grade van moord), Beer Adriaanse (WonderlusKanarie), en Edwin van der Walt (Die ProWonderlus).

Hotel Seisoen 1 tot 4

Mila Guy is Malanie in ‘Hotel’. (Foto: Petrie Schoeman)

Hierdie werkplek-mokumentêr oor die personeel van ʼn sukkelende hotel op die fiktiewe dorp van Fransenburg het reeds vier reekse vir jou marathon-vraatkykessies. Die sitkom, geskryf en geregisseer deur Bennie Fourie (Vuil wasgoedAnder mens) en Stiaan Smith (Sy klink soos lenteWonderlus), is soos The Office gemeng met Fawlty Towers in kleindorpie-Mpumalanga.

Ferdie Kruger (vertolk deur James Borthwick) is ʼn optimistiese, maar onbevoegde hotelbestuurder, en Beer Adriaanse (Kanarie, Fynskrif) verteenwoordig die luukse hotelgroep wat hulle oorneem. Saam met Simoné Pretorius (Vir die voëlsStroomop) agter die ontvangstoonbank, Schalk Bezuidenhout (Kanarie) as “bellboy”, Mila Guy (Liewe KersveesvaderWonderlus) die kelnerin, en Martelize Kolver (Die seemeeuʼn Pawpaw vir my darling) as bemarkingsbestuurder Brenda, is daar meer as genoeg konflikte en liefdesdriehoeke.

Hotel het oor die jare ook al drie Saftas ontvang: vir Schalk Bezuidenhout en James Borthwick se toneelspel, en Bennie Fourie en Stiaan Smith se draaiboeke, asook ʼn verdere 13 benoemings.

Liewe Lisa

Akteur Hendrik Cronjé (7de Laan) maak sy debuut as skrywer en regisseur met Liewe Lisa. Nadat ʼn buite-egtelike verhouding sy lewensplanne ná universiteit deurmekaarkrap, vlug Daniël na ʼn klein dorpie waar die eenvoudige lewe van ʼn visserman (gespeel deur Zane Meas van 7de Laan-faam) vir hom aanloklik is.

Daniël moet dan kies tussen die eenvoudige lewe of dit wat eintlik vir hom belangrik is: eerbaarheid, sy passie vir skryf, en liefde – in die vorm van Lisa (Elani Dekker, Jou RomeoVaselinetjie).

Jagveld

Leandie du Randt in ‘Jagveld’.

Leandie du Randt (Vuil wasgoedMooirivier) skud haar mooimeisie-beeld met mening af in Jagveld. Die fliek is geregisseer deur Byron Davis, met ʼn draaiboek deur gesoute skrywer Deon Meyer, wat onder meer die draaiboeke vir Die ballade van Robbie de Wee en Die laaste tango geskryf het, asook die romans ProoiDertien uur en SpoorSpoor is verlede jaar as die M-Net misdaadrillerreeks Trackers verwerk.

Wanneer die saggeaarde laerskoolonderwyseres Emma (Leandie du Randt) se paadjie in die dorre Karoo met dié van ʼn gewelddadige dwelmsmokkelbende kruis, moet sy veg om te oorleef. Bietjie vir bietjie raak sy van haar sagte voorkoms en pasifisme ontslae, en ’n taai vrou wat weet hoe om haarself te verdedig, steek kop uit.

Neels van Jaarsveld (BinnelandersDwaalsterGriekwastad), Edwin van der Walt (Die ProWonderlus), en Tim Theron (Klein KarooGriekwastad) vertolk die rolle van die bendelede.

Emma is ʼn mengsel tussen die bruid van Kill Bill en Lara Croft uit Tomb Raider. Sy is vir niks bang nie, slaan terug waar nodig, en is net so vaardig soos enige van die mans in hierdie Karoo oorlewings-Western.

O Vet!

Lisa is ’n joernalis by ʼn Christelike tydskrif wat raadop voel oor haar lyf en haar kreatiewe idees. Sy sluit aan by ʼn gewigsverliesgroep waar sy saam met drie ander vroue en ʼn man hulle lywe wil verander.

Bertha le Roux-Wahl (7de Laan) speel die hoofrol, en saam met Karin van der Laag (SuiderkruisIsidingo), Solomon Cupido (Ek joke net), en Reine Swart (Die Pro), vertel sy ʼn inspirerende storie oor selfrespek en selfaanvaarding.

Radio Raps Live: Genuine

In Genuine kan jy saam met die gehoor lag vir Radio Raps – ook bekend as Jonathan van die Oos-Rand, met die onderstebo gholf-sonskerm. Die grapmaker se plat-op-die-aarde-waarnemingskomedie verklap sy opinies oor alles van die getroude lewe, spinnekoppe en TV-programme soos Boer soek ʼn vrou.

Kyk na die lokprent hier.

Swaaibraai

Cintaine Schutte.

In hierdie kortfilm van verlede jaar se kykNET Silwerskermfees met die kontroversiële, suggestiewe plakkaat, verskyn Cintaine Schutte (Fynskrif, en Safta-benoemde vir Die seemeeu) en Johann Vermaak (Die spreeus, Vagrant Queen) as ʼn paartjie wat hulle huwelik probeer opkikker. ’n Nuwe slimfoon-app laat hulle toe om anoniem by ʼn “ruilpartytjie” aan te sluit, waar elkeen saam met iemand anders se lewensmaat huis toe gaan.

Die onderwerp is bietjie gewaag, maar die komedie is prikkelend, en die produksieontwerp staan uit. Dis skrywer-regisseur Gerhard Pretorius se derde kortprent, ná Kloof, en The Discovery of Fire. Die rolverdeling word verder afgerond deur Safta-wenner Louw Venter (Swartwater, Corne and Twakkie’s The Most Amazing Show), Lara Toselli (Tali’s Wedding DiaryChip Up), met Frank Opperman (Dominee TienieQueen Sono) en Chanelle de Jager (Projek DinaStroomop) as storievertellers.

Sy klink soos lente

Ben is motorwerktuigkundige in Johannesburg, en wanneer hy vir Linda ontmoet sal hy enige iets doen om haar te beïndruk. Hy vertel vir haar dat hy ʼn sanger is in ’n band, en wanneer sy vra om na hulle volgende konsert toe te kom, moet hy vinnig plan maak om sy leuen te laat waar word. Om dinge erger te maak is sy kollegas en vriende, vertolk deur Bennie Fourie (Vuil wasgoedAnder mens) en James Cunningham (HotelVuil wasgoed) glad nie goeie musikante nie.

Sy klink soos lente spog met Stiaan Smith (Vuil wasgoedWonderlus) en Amalia Uys (Vir die voëlsVergeet my nie) in die hoofrolle en Corne van Rooyen (VaselinetjieAlles Malan) in die regisseurstoel. Boonop spog dit ook met ʼn indrukwekkende plaaslike klankbaan, en het Silwerskermfees-benoemings gekry vir beste speelprent, beste redigering en beste kinematografie.

Thys en Trix

In die derde grootste lokettreffer van 2018 word die oorversigtige Thys en reëlbreker Trix – broer-en-suster polisiespeurders – forseer om hulle voor te doen as man en vrou om ʼn luukse gholflandgoed te infiltreer, en hopelik die leier van ʼn smokkelnetwerk uit te snuffel.

In die hoofrolle is Bouwer Bosch (Vuil wasgoedMooirivier) en Leandie du Randt (JagveldBinnelanders) uitstekend teenoor mekaar, en regisseur Quentin Krog (Ander mensVir die voëls) balanseer die fliek se komedie, spanning en aksie.

Die uiteenlopende inwoners van die gholflandgoed word vertolk deur Zak Hendrikz (Ballade vir ʼn enkeling), Dorette Potgieter (Die kasteel), Chanelle de Jager (Projek Dina), Ivan Zimmermann (Alles Malan), Charlie Bouguenon (Vuil wasgoed), en Deon Coetzee (Spoorloos), met Brendon Daniels (Four CornersCowboy Dan) as hulle kaptein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

buzz ·

Jinne eks so bly, nie geweet daar is so klomp bakgat films om nou te kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.