Goeie nuus vir ‘Hotel’-aanhangers

‘n Toneel uit die tweede seisoen van Hotel. Foto: KykNet

Die Afrikaanse komediereeks Hotel het maar net twee seisoene agter die blad, maar dié reeks het reeds ʼn geharde en lojale groep aanhangers opgebou.

En nou kan aanhangers uitsien na ʼn derde seisoen van dié skreeusnaakse mokumentêr.

KykNET het Vrydag aangekondig dat die vreemde personeel van die Fransen Hotel vanaf Januarie 2019 vir ʼn derde keer ʼn draai in kykers se sitkamers sal maak. En wie beter om reg aan die aweregse karakters te laat geskied as draaiboekskrywers Bennie Fourie, Stiaan Smith, Ryan Metcalfe en Beer Adriaanse.

Simoné Nortmann vertolk die rol van Jony Scholtz in Hotel. Foto: KykNet

“Die seisoen het ook heelwat onverwagte kinkels. So, verwag die onverwagse – want soos julle nou al goed weet, loop niks volgens plan in die Fransen Hotel nie,” vertel kykNET in ʼn verklaring.

Hotel gaan oor die doen en late van die personeel van die Fransen Hotel in die hartjie van Mpumalanga in die klein dorpie van Fransenburg. Eers was dié hotel die dorp se trots, ʼn baken. Nou is dit skaars ’n een uit vyf op TripAdvisor.

Die gespartel van ’n middeljarige hotelbestuurder, Ferdie Kruger, en sy kleindorpie-personeel om dié substandaard-hotel se deure oop te hou, sorg vir talle skreeusnaakse oomblikke. Die reeks is ook propvol bekende name in die Afrikaanse vermaakbedryf.

Schalk Bezuidenhout vertolk die rol van Danny Beyers in Hotel. Foto: KykNet

James Borthwick vertolk die rol van Ferdie Kruger, terwyl draaiboekskrywer Beer Adriaanse ook voor die kamera inskuif in die rol van Thomas van As. Ontvangsdame Jony Scholtz word deur Simoné Nortmann vertolk, terwyl die akteur en komediant Schalk Bezuidenhout te sien is in die rol van Danny Beyers.

Mila Guy is te sien as Malanie Schmidt in die reeks, Sandi Schultz vertolk die rol van Maggie Conradie en Martelize Kolver is vermaaklik in haar vertolking van die eienaardige Brenda Gunter. Graham Weir is te sien as oom Dirk Dijkstra.

Hulle gaan dalk nie in die geskiedenis aangeteken word as die beste personeelgroep nie. Dalk ook nie as die fluksste of hulpvaardigste nie. Maar dié kleindorpie-personeel van Fransenburg het om ander redes in kykers se harte ingekruip.

Kyk Hotel 3 vanaf Januarie 2019 op kykNET DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Daan Erasmus ·

Dit is nou goeie gehalte ongekompliseerde vermaak. Karakter waarmee mens kan identifiseer.

Stefan ·

Kyknet bied regtig swak komedie aan. Ek kan nie glo daar kom nog n reeks van die swak program nie

Francois ·

Ek geniet die realiteitsreeks op Via, “Die Alpenrose” wat in Switzerland afspeel baie meer en daars nie slegte acting nie! Ek kan nog streeds nie glo Carel die eienaar het so nice plek nie! Ek wil ook daar gaan werk, dit lyk na soveel fun!

Tannie Merchia ·

Ek was vroeer die week by checkers in virginia naby durban. Daar was n filmspan. Een van die span my vertel hul werk aan n nuwe tv reeks sonder jou suitcase. Dit klink na vet pret en dit lyk sommer of hul ook baie pret het. Sien rerig baie uit. Maroel media moet ons liewer laat wee4 wanner dit uisaai nie die klomp nonsens soos hotel nie

Is jy ernstig? ·

Wat? Ek glo dit nie! Hoekom moet Kyknet sulke programme uitsaai? Dis mos nie iets om na te kyk nie? Dis nie goeie nuus nie, dis slegte nuus

Kan nie kyk nie ·

Wat van mense-mense. Ek verkoop my tv as dai nonsens weer terugkom vir n tweede seisoen.

Tannie Merch ·

Ek het n filmspan raakgeloop by Virginia inkopiesentrum in Umhlanga. Hulle het gesê hulle werk aan nuwe tv reeks sonder jou suitcase. Klink of dit baie opwindend gaan wees. Sien baie uit

rustenburger ·

hierdie span was die week by ons mall in rustenburg ook. dis blykbaar n realiteits reeks waar n vreemdeling als net so los en dan op n vliegtuig klim en op n reis gaan. ek het die oulike akteur van binnelanders ook daargesien. dinkhy is die aanbieder. kan maroela uitvind wanneer dit op tv gaan wees en wat die program se naam is?

Aggenee ·

Dit, saam met die huidige “komedies” op Kyknet is waarlik die swakste ooit op TV

Ben Niemand ·

Die berig sê darem “Goeie nuus vir ‘Hotel’-aanhangers”. Dus, as jy nie een is nie, hou maar verby. Ek stem saam die reeks is half kommin, maar dit is wat dit so snaaks maak. Partykeer is ek maar net lus vir kommin en lag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.