Gretchen Crots skep onbeskaamd

Cyril se bord. (Foto: Francke Ceramics/Verskaf)

Deur Maretha Botes

Gretchen Crots (25) se keramiekwerk bring met die eerste oogopslag ‘n gevoel van familiariteit. Maar staan ‘n bietjie nader en lees die fyn uitgedinkte kwinkslae op die borde, bekers en vase. Sommiges sal seker sê, “o, sies!”, want vuil taal is daar asook ‘n middelvinger of wat. Dit is egter juis haar kommentaar op geskiedkundige ikone en die essensie van Afrikanerwees in ‘n nuwe era wat haar werk ‘n tweede kyk werd maak. Maroela Media het ‘n paar vrae aan dié ontluikende kunstenaar gerig.

Waarom verkies jy klei as medium?

Keramiek, oftewel klei, is nog altyd my hartsmedium – juis omdat soveel geheimsinnige parallelle getrek kan word tussen die mens as wese en die klei as liggaam. Daar is so baie eienskappe van klei waarin jy jouself kan identifiseer en aanklank kan by vind, asof klei ’n persoonlikheid van sy eie het. Ek skep keramiekborde, -vase, -teepotte en -beelde wat almal dien as ’n kontemporêre canvas vir my menings en opinies.

Waarom die politici en geskiedkundige helde en ikone in jou werk?

Oom Paul vars uit die bakoond. (Foto: Francke Ceramics/Verskaf)

My werk fokus dikwels op sosiale, politieke en selfs filosofiese kwessies, maar in stede van die harde realiteit uitbeeld, verdraai ek hierdie kwessies op ‘n tong-in-die-kies wyse waarvoor die alledaagse Jan Rap en sy maat kan lag. Ek lewer soms kommentaar op die absurditeit en broosheid van die mens in geheel deur my belangstelling van anatomie te gebruik, tesame met galgehumor op ’n keramiekbord. Ander kere roast ek ’n kolonialis of twee – maar nie voor ek hulle goed gemarineer het nie. Dan weer lewer ek ’n titseltjie politieke kommentaar vanuit ’n siniese humoristiese uitkyk op ons versameling uitstekende politici. Ek sit ’n tong-in-die-kies spin op alles wat oor die algemeen as ernstig beskou word en maak die lewe só vir myself en ’n paar ander mense ligter, al is die humor effens donker.

Jy maak graag gebruik van Delft-patrone en kleure soos blou, wit en bruin in jou werk

Daar is ’n familiêre, ryk kulturele gevoel aan blou en wit Delft vir my. Dit vat my terug na die reuk van Sondagmaaltye in my ouma se huis, waar die blou-en-wit-borde teen die muur gepronk het. Dit is ’n nostalgiese en bekende objek vir vele Afrikaners, dink ek. Dit laat my ook dink aan shweshwe, wat die vele Suid-Afrikaanse kulture saamgooi in een estetiese smeltpot. Ek put inspirasie uit my omgewing, wat van kleintyd af gevul was met die wilgerpatroon en Delft-borde en eg Suid-Afrikaanse memorabilia wat in my ma en ouma se huise gepronk het en uitgestal was soos in museums (die ladies het nogal ’n slag met die kuratorskap van binnehuisversiering in hul repertoire).

Wie is jou tipiese aanhangers?

Ek dink die mense wat aanklank vind by my werk, is beslis mense wat die lewe met ‘n knippie sout aanpak, wat humor as coping mechanism gebruik en wat kontemporêre kuns versamel en waardeer.

Een van die hoogtepunte as kunstenaar?

Gretchen Crots is die vrou agter Francke Ceramics. (Foto: Francke Ceramies/Verskaf)

In 2017 neem ek ’n kans om my keramiekbundel wat bestaan uit ’n paar teëls, in te skryf vir die Sasol New Signatures-kompetisie nadat my dosent in illustrasies my aangemoedig het. Ek word later daardie jaar in kennis gestel dat my keramiekskepping een van die top-7 finaliste is in hierdie prestige kompetisie. Eindelik wen ek ’n merietetoekenning en, nodeloos om te sê, is ek hoogs in my skik! Vandat ek op ‘n jong ouderdom met klei gespeel het, het my werk beslis gegroei en sytakke in verskeie style gaan maak. Teen die tyd dat ek my weg na die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gevind het, het ek alreeds begin speel met idees wat sosiale kwessies bekyk, maar met die kennis en opleiding in die grafiese veld wat ek geswot het, het die idees en skep van keramiekkuns baie verbreed.

Hoe het jou kinderjare jou as kunstenaar help skep?

Ek is in Kroonstad gebore en het grootgeword op die plaas Damschrub. Op hierdie einste plaas is my bittersoet kultivar van waarneming, beskouinge, en menings aangeplant, ontkiem- en saadgeskiet. In my ma, Rika Senekal, wat self ’n ongelooflike keramiekkunstenaar is, se ateljee het ek as kind begin speel met klei en vae, onidentifiseerbare gedaantes geskep. Vreemde figure en miniatuurkoppies en -pierings vir voorsienbare feeste of high teas wat ek en my ouer suster vir ons poppe sou hou. Op 6-jarige ouderdom het ons Parys toe getrek en dis waar ons sedertdien woon.

Het die Covid-19 pandemie enigsins jou werk beïnvloed?

Dit het nie so ‘n groot impak op my werk gehad nie, en ook nie eintlik op my nie. Ek kon steeds elke dag in die studio by die huis sit en skep, sonder om ‘n siel te sien – wat my eintlik pas! Dit het wel vir my nog inspirasie gegee en ‘n nuwe kwessie om uit te beeld in my kuns. Omdat alles Jan se skuld is, kan hy ook nou uitgebeeld word met sy Delft-maskertjie en trane in die oë.

Waar kan jou werk gesien word?

My werk word hoofsaaklik verkoop op my Facebook-blad onder Francke Ceramics, asook by die Pantsula Galery in Parys. Ek neem gereeld aan uitstallings deel en het al uitgestal in Pretoria by die Association of Arts, in Potchefstroom by Eglaf en Art Young, asook in Stellenbosch by SMAC Gallery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Agter die skerms ·

Pragtig wens ek kon by jou plekkie kom inloer het….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.