Hiér is Boer soek ʼn Vrou se nuwe aanbieder

Leah. Foto: Facebook via Leah SA

Boer soek ʼn Vrou het Donderdag bekend gemaak dat die bekende sangeres Leah die nuwe aanbieder van dié gewilde werklikheidsprogram sal wees.

Dit kom nadat Minki van der Westhuizen verlede maand aangekondig het dat sy nie meer die program sal aanbied nie. Van der Westhuizen het die televisieprogram verlaat as gevolg van logistiek rondom haar derde kind se geboorte. Sy en haar man, Ernst, verwag dié bondeltjie in Maart vanjaar.

Leah sal die volgende seisoen van kykNET se Boer Soek ʼn Vrou aanbied en die vyfde aanbieder van dié program wees, wat sedert 2007 uitgesaai word.

“Leah is ʼn bekroonde kunstenaar en het al talle musiekpryse soos die Ghoema Nuweling van die Jaar-toekenning in 2016 en talle Huisgenoot Tempo-toekennings ingepalm. Deesdae is sy ook ʼn aktrise en is in Maart in die nuwe kykNET-fliek, Susters, te sien,” lui ʼn verklaring van kykNET.

Leah volg in Van der Westhuizen se voetspore, wat vir die laaste twee jaar boere reg oor Suid-Afrika besoek het.

Volgens Leah is sy “reg vir die plaas” en is dit vir haar ʼn droom wat waar word om Boer Soek ʼn Vrou aan te bied. “Ek weet ek het groot skoene om vol te staan, maar ek is nie bang vir ʼn uitdaging (of vir ʼn bees, ʼn skaap of ʼn boer) nie,” sê sy.

“Ek sien baie uit om mense se lewens moontlik met die liefde te kan verander.”

Volgens die verklaring is Van der Westhuizen ook baie tevrede met Leah as die nuwe gesig van die volgende seisoen. “Minki glo Leah is die perfekte keuse om haar opvolger te wees.”

“Deelnemers en kykers gaan definitief aanklank by Leah vind, want sy is opreg en gaan sonder twyfel diep in almal se harte kruip,” het Van der Westhuizen gesê.

Goeie nuus vir TV-kykers is dat Van der Westhuizen nie heeltemal van die kassie sal verdwyn nie en steeds as veldaanbieder in Kwêla te sien sal wees.

Inskrywings vir die 11de reeks van Boer soek ʼn Vrou het onlangs geopen. Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 9 Februarie bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Charmaine ·

Welkom Lea, dit gaan ‘n groot sukses wees, en jy sing pragtig ek luister graag “volmaan”

Cheryl ·

Ek dink al die boere gaan op haar verlief raak, sy is regtig pragtig

CK ·

Dink ek dan mos nou aan die einste. Pragtige vrou met ‘n mooi hart en siel.

Daan Erasmus ·

Ek stem nie saam nie. Ek sien die gevaartekens. Dit kan en moet natuurlik aangespreek word. Sy is ‘n aktrise. Vorige aktrises het hierdie as nog ‘n “rol” beskou. Ons soek iemand wat natuurlik is. En as sy nou al aan haar klere beplan, eerder as om die regte deelnemers te kry. Sy het groot skoene om vol te staan.

Verstom ·

Meer natuurliker as die meisiekind gaan jy nie kry nie, Sy is “what you see, is what you get”. Sy is eerstens ‘n mens se mens as wat sy enige iets anders is. Borrelend, sprankelend en natuurlik. Ek kyk natuurlik gladnie Boer soek ‘n vrou nie, maar die “intro” sal ek kyk .

Annelize ·

Jy is pragtig Leah, die enigste probleem wat ek sien is dat daar nou meer boere gaan inskryf net om jou te ontmoet! Sterkte met die program, kan nie wag nie!

Pietman ·

Ai, ek weet darem nie. Dis die kinders wat drama gaan studeer wat opgelei word vir die klas werk wat eenvoudig nie vir hulle beskore is nie . Geen probleem met Leah as mens nie. Dis die vervaardigers wat “koppejag” met die hoop om meer kykers te trek, amper asof die program se meriete dalk onder verdenking sou wees.

AmY ·

Baie geluk Leah!!! kykNET, hierdie is een van julle beste besluite nog!!!

Mari ·

Baie goeie keuse. Baie baie goeie verbetering op vorige aanbieder.

Michelle ·

Sy’s vreeslik mooi, maar terrible “sangeres/actress”

Koos ·

Niemand het die reeks nog so goed soos Minki aangebied nie. Sy was soos ‘n vars bries wat ingewaai het. Die vorige aanbieders was opgeleide aktrises wat heeltyd die kollig op hulself wou hê, dalk selfs onbewustelik. Minki het dit moeiteloos laat lyk en nooit probeer om die middelpunt te wees nie. Ek was aangenaam verras deur haar natuurlike aanvoeling en hoe sy ingeskakel het. Wonder egter hoe lank Boer soek ‘n Vrou sal bestaan – dit raak nou bietjie lank in die tand.

Debbie Donaldson ·

Daar word soveel kere in die berig na Minki as net Van der Westhuizen verwys. Maar Leah het net ‘n voornaam, geen van. Mink is lankal as Minki Joubert bekend. Joost was ook Van der Westhuizen. Leah is pragtig en sal goeie werk doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.