Hoe lyk Hollywood: ‘Bridgerton’ hernu; akteur pleit in verkragtingsaak

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

“Bridgerton” hernu

Regé-Jean Page en Phoebe Dynevor vertolk die hoofrolle in ‘Bridgerton’. (Foto: IMDb)

Die Netflix-treffer Bridgerton is vir ʼn tweede seisoen hernu. Dié nuus is Donderdag deur die stromingsreus aangekondig.

Sowat 63 miljoen huishoudings wêreldwyd het reeds na die eerste seisoen van Bridgerton gekyk. Die reeks speel af in Londen in die vroeë 19de eeu en vind met sy eietydse aanslag en vars jong rolverdeling veral aanklank by die jonger generasie.

Die reeks het ook ʼn gradering van 90% vir “varsheid” op die rolprentwebwerf Rotten Tomatoes gekry.

Bridgerton, met akteurs Adjoa Andoh, Jonathan Bailey, Phoebe Dynevor en Regé-Jean Page in die hoofrolle, is op Kersdag verlede jaar uitgereik en was so te sê dadelik ʼn gewilde reeks oor die hele wêreld heen.

Die moderne musiek wat gebruik word in die reeks, soos die hartebrekersanger Shawn Mendes se “In my blood”, Billie Eilish se “Bad guy” en ʼn klassieke weergawe van Ariana Grande se “Thank U”, het ook kykers aan die gons.

Die stem van Lady Whistledown, skrywer van die skinderblad, behoort aan dame Julie Andrews.

Bridgerton is geskoei op die romansereeks uit die pen van skrywer Julia Quinn en is vervaardig deur Shonda Rhimes, een van Amerika se grootste uitvoerende vervaardigers. Rhimes het onder meer reekse soos Grey’s Anatomy en Scandal agter haar naam.

Akteur pleit in verkragtingsaak

Danny Masterson. (Foto: Invision/AP, File)

Danny Masterson, bekend vir sy rol as Steve Hyde in That 70s Show, het Woensdag in die hof in Los Angeles onskuldig op drie aanklagte van verkragting gepleit.

Masterson is in Junie verlede jaar daarvan aangekla dat hy tussen Oktober en Desember 2003 ʼn 23-jarige vrou verkrag het nadat hy haar na sy huis in Hollywood Hills genooi het. Hy word ook daarvan aangekla dat hy ʼn 28-jarige vrou in dieselfde jaar verkrag het, asook ʼn 23-jarige vrou in 2001. Al drie voorvalle van verkragting het glo in die akteur se huis plaasgevind.

Hy is destyds op borgtog van $3,3 miljoen (sowat R50 miljoen) vrygelaat en 45 jaar tronkstraf staar hom in die gesig indien hy skuldig bevind word.

ʼn Verklaring wat in Junie uitgereik is, sê Masterson en sy vrou, die aktrise Bijou Phillips, is “geskok” dat dié 20 jaar oue aantygings skielik tot amptelike aanklagte gelei het. Hy en Phillips het ʼn vyfjarige dogtertjie.

“Mense wat mnr. Masterson ken, ken sy karakter en sal weet dat die aantygings vals is,” lui die verklaring.

Bond-fliek ʼn derde keer uitgestel

Daniel Craig as James Bond. (Foto: Facebook)

Die uitreiking van die volgende James Bond-fliek is vir ʼn derde keer uitgestel weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die rolprentbedryf.

No Time to Die se uitreiking is reeds twee keer uitgestel en sal nou na verwagting eers op 8 Oktober vanjaar uitgereik word. Die nuus is op die fliek se webwerf aangekondig.

Die fliek is die 25ste aflewering in die Bond-franchise en sou oorspronklik in April verlede jaar sy debuut gemaak het. Dit sal Daniel Craig se laaste verskyning as die Britse geheime agent 007 wees. Lea Seydoux en Rami Malek van Bohemian Rhapsody-faam is ook in die fliek te sien.

Rolprentateljee MGM is bekommerd dié beperkings weens die pandemie sal ʼn beduidende uitwerking op No Time to Die se loketinkomste hê.

Die vorige Bond-fliek, 2015 se Spectre, het $900 miljoen (sowat R14 miljard) wêreldwyd by die loket ingeoes. ʼn Groot gedeelte van die Bond-flieks se inkomste word verdien uit die Britse en Europese mark, waar rolprentteaters maande lank reeds gesluit is.

Warner Bros het vroeër vandeesmaand aangekondig die uitreiking van die Sopranos-voorvolg, The Many Saints of Newark, word ook uitgestel. Ander produksies wat deur die pandemie geraak word, is Jared Leto se superheldfliek Morbius, die wetenskapsfiksierolprent Dune en die aksierolprent Top Gun: Maverick.

Bronne: BBC, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kompas

Kan nie wag vir 007 film nie. Jammer dit word elke keer uitgestel.