Hoe lyk Hollywood: Oscar-wenners (94), (96) sterf; ‘Bridgerton’-rekord aangekondig

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van dié week se jongste internasionale vermaaknuus.

Oscar-wenners (94), (96) sterf

Cloris Leachman spog in 2002 met die Emmy-toekenning wat sy gewen het vir haar rol in ‘Malcolm in the Middle’. (Foto: Lee Celano/AFP)

Die Amerikaanse aktrise Cloris Leachman, wat met ʼn Oscar-toekenning bekroon is vir The Last Picture Show en haar skerp humorsin aan verskeie Amerikaanse komediereekse verleen het, is Woensdag oorlede. Sy was 94.

Leachman se woordvoerder het bevestig sy is aan natuurlike oorsake dood by haar huis in Kalifornië met haar dogter aan haar sy.

Haar mees noemenswaardige rolle sluit in dié van Phyllis in The Mary Tyler Moore Show en as Frau Blücher in Young Frankenstein.

Leachman het ʼn lang loopbaan as aktrise gehad, en het die rol van Ida in Malcolm in the Middle en dié van Timmy se ma in die Lassie-reeks vertolk.

Sy het ook Ellen DeGeneres se ma in die komediereeks The Ellen Show, wat in 2005 uitgesaai is, gespeel.

DeGeneres, wat ʼn uiters suksesvolle geselsprogramaanbieder geword het ná afloop van die reeks, het op Twitter haar medelye uitgespreek.

“Ek het my altyd gelukkig geag dat ek die geleentheid gehad het om saam met haar te werk. Sy sal gemis word.”

Cecily Tyson in Januarie verlede jaar op die première van Tyler Perry se ‘A Fall from Grace’ in New York. (Foto: Jamie McCarthy/Getty Images/AFP)

Leachman was ook ʼn skoonheidskoningin en het onder meer in flieks soos Butch Cassidy and the Sundance Kid en Crazy Mama verskyn.

Sy het agt Emmy-toekennings gedurende haar loopbaan ingeoes – ʼn rekord vir enige akteur wat sy deel met die Veep-ster Julia Louis-Dreyfus.

Die Hollywood-baanbreker en Oscar-wenner Cicely Tyson (96) se bestuurspan het bevestig sy is Donderdag oorlede, maar die oorsaak van haar dood is nie bekend gemaak nie.

Die voormalige model en aktrise het ʼn loopbaan van sowat sewe dekades gehad. Sy het in 1974 twee Emmys ingeoes vir haar rol in die rolprent The Autobiography of Miss Jane Pittman.

Sy was ook die eerste swart vrou wat ʼn hoofrol in die televisiedrama East Side/West Side in die 1960’s vertolk het.

In 2016 het die voormalige president van die VSA, Barack Obama, haar vereer met die Presidential Medal of Freedom. Hy het gesê buiten haar prestasies as aktrise, het sy ook die verloop van die geskiedenis verander.

Tyson is in 2018 tydens die Oscar-seremonie met ʼn erebeeldjie vir haar lewenslange werk vereer.

Netflix kondig Bridgerton-rekord aan

Regé-Jean Page en Phoebe Dynevor vertolk die hoofrolle in ‘Bridgerton’. (Foto: IMDb)

Die sterre van die historiese drama Bridgerton het kykers bedank nadat Netflix aangekondig het die reeks het sy “grootste reeks ooit” geword.

Die internetstromingsreus het gesê 82 miljoen huishoudings wêreldwyd het na die reeks gekyk in die eerste 28 dae nadat dit op Kersdag verlede jaar uitgereik is.

Die reeks het die no. 1-posisie in 83 lande, waaronder die VSA, Brittanje, Indië, Frankryk en Brasilië, gehaal.

Phoebe Dyvenor, wat die rol van Daphne Bridgerton vertolk, het die nuus as “uiters gek” beskryf.

“Ek is so trots op die ongelooflike span agter hierdie reeks. En dankie aan julle almal dat julle mal is daaroor,” het die 25-jarige aktrise op Instagram geskryf.

Phoebe Dynevor as Daphne Bridgerton. (Foto: IMDb)

Bridgerton is geskoei op die romansereeks met dieselfde titel deur Julia Quinn en is vervaardig vir Netflix deur die bekroonde Grey’s Anatomy-vervaardiger Shonda Rhimes. Chris van Dusen het die reeks geskep.

Die verhaal speel af in Londen in die vroeë 19de eeu en sentreer om die stormagtige liefdeslewens van die magtige Bridgerton-familie: Violet, adellike burggravin Bridgerton; haar vier seuns, Anthony, Benedict, Colin en Gregory; en haar vier dogters, Daphne, Eloise, Francesca en Hyacinth.

Die Featheringtons, wat bestaan uit Portia, lady Featherington; haar man, die baron; hulle drie dogters, Philippa, Prudence en Penelope; en hulle niggie Marina Thompson, speel ook ʼn sleutelrol in hierdie drama.

Die reeks is onlangs vir ʼn tweede seisoen hernu.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.