Hollywood: Adele stel konsertreeks uit; ‘Squid Game’ en meer kry tweede seisoene

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Adele stel konsertreeks uit

‘n Emosionele Adele het Donderdag haar konsertreeks in Las Vegas uitgestel. (Foto: Skermgreep/Instagram)

ʼn Emosionele Adele het Donderdag haar konsertreeks in Las Vegas onbepaald uitgestel, slegs 24 uur voordat dit sou afskop.

“Ek is jammer, maar my vertoning is nie gereed nie,” het ʼn tranerige Adele op Instagram gesê. Sy het bygevoeg dat die helfte van haar span platgetrek is deur Covid-19 en dat aflewerings ook gekelder is deur dié virus.

Sy sou vandag (Vrydag) die eerste van 24 vertonings by die Colosseum in Ceasar’s Palace lewer. Volgens die “Easy on me”-sangeres was sy “30 uur lank wakker” om die produksie te probeer red, maar het “eenvoudig nie meer tyd gehad nie”.

Adele. (Foto: British Vogue)

Adele het ook om verskoning gevra vir aanhangers wat reeds in Las Vegas aangekom het vir die openingsnaweek van die konsertreeks.

“Ek is jammer dit is so op die nippertjie. Ek is so ontsteld en voel uiters verneder en jammer vir almal wat hierheen gereis het. Ons gaan al die datums herskeduleer, ons werk nou daaraan. En ek gaan die vertonings afhandel. Ons moes soveel uitdagings die hoof bied en die konsert is net nie gereed nie.”

Die Weekends with Adele-konsertreeks is in November verlede jaar aangekondig, met die sangeres wat elke naweek twee vertonings tot einde April vanjaar sou lewer.

Kaartjiepryse beloop sowat R1 295 tot R10 500 en Adele sou na raming sowat R10 miljoen per vertoning in haar sak steek.

Dit sou haar eerste konserte in vyf jaar wees. Saam met twee ander konsertdatums in Londen se Hyde Park later vanjaar, was dit die enigste vertonings wat aangekondig is om haar vierde album, 30, te bemark.

Op die kassie

Die uiters gewilde reeks The White Lotus, wat onder meer vir verskeie Golden Globe- en Screen Actors Guild- (SAG-)toekennings benoem is, se tweede seisoen sal in Sisilië, Italië, afspeel.

Volgens Variety is die San Domenico Palace, ʼn Four Seasons-hotel, bespreek vir die span van The White Lotus 2, wat tot 1 April vanjaar daar verfilm sal word.

Connie Britton, Sydney Sweeney, Jennifer Coolidge en Steve Zahn is onder andere in die eerste seisoen te sien, wat geskiet is by die Four Seasons-hotel in Maui.

Die bekroonde eerste seisoen vertel die verskillende verhale van ʼn groep vakansiegangers wat ʼn besoek aan Hawaii aflê.

ʼn Hele rits nuwe gesigte sal egter in die nuwe seisoen te sien wees. Die akteur F Murray Abraham, Adam DiMarco, Tom Hollander, Hayley Lu Richardson, Michael Imperioli en Aubrey Plaza sal in dié seisoen verskyn.

Jennifer Coolidge, wat vir verskeie toekennings benoem is vir die rol van Tanya, wat spesiaal vir haar geskryf is, sal ook terugkeer na die tweede seisoen.

Dit is nog nie bekend wanneer die nuwe seisoen beskikbaar gaan wees nie.

Kyk hier na die lokprent van The White Lotus.

Die ikoniese boek- en rolprentreeks The Lord of the Rings is verwerk vir die kleinskerm en sal eersdaags deur Amazon gestroom word as The Rings of Power.

Die titel van die nuwe reeks is in ʼn lokprent onthul. Volgens vervaardigers JD Payne en Patrick McKay is die titel van die reeks iets wat hulle “op die omslag van ʼn JRR Tolkien-boek, saam met sy ander klassieke titels, sou kon sien”.

The Rings of Power verenig al die groot stories van Middle Earth se Second Age: die smee van die ringe, die herrysing van die Dark Lord Sauron, die magiese verhaal van Númenor en die Last Alliance of Elves and Men,” verduidelik die vervaardigers.

“Tot nou het kykers nog net die verhaal van die One Ring op die skerm gesien, maar voor daar een was, was daar vele en ons is opgewonde om die magiese storie van almal te deel.”

Die vervaardigers van die uiters gewilde Koreaanse reeks Squid Game het ook die groen lig gekry om voort te gaan met ʼn tweede seisoen.

“Die Squid Game-heelal het maar pas begin,” het Ted Saranos, uitvoerende hoof van Netflix, oor dié reeks se toekoms gesê.

Volgens Hwang Dong-hyuk, skepper van Squid Game, was daar soveel druk en aanvraag vir ʼn tweede seisoen dat dit onafwendbaar was om verder aan dié storie te skryf.

O Yeong-su het vroeg in Januarie die Golden Globe-toekenning vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir Squid Game huis toe gevat. (Foto: Emma McIntyre/Getty Images for Hollywood Foreign Press Association/AFP)

“Die storie is tans nog in my kop. Dit is nog te vroeg om te sê wanneer die nuwe seisoen sal verskyn.”

Squid Game is vanjaar benoem vir beste aksievertoning deur ʼn toertjie-ensemble in ʼn komedie- of dramatelevisiereeks, beste akteur in ʼn dramareeks vir Lee Jung-jae, beste aktrise in ʼn dramareeks vir Jung Ho-yeon en beste ensemble-rolverdeling in ʼn dramareeks op die 28ste jaarlikse SAG-toekennings.

Dit is die eerste keer in SAG-geskiedenis dat ʼn nie-Engelse reeks, asook die eerste keer dat ʼn Koreaanse reeks, deur die SAG-toekennings erken word.

het vroeg in Januarie die Golden Globe-toekenning vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir Squid Game huis toe gevat.

Bronne: E! News, Kerrang!, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.