Hollywood: Akteur gevonnis oor vals bewerings; Tom Hanks as Geppetto in ‘Pinocchio’-fliek

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Akteur gevonnis oor vals bewerings

Jussie Smollett. (Foto: Kristin Callahan/Everett Collection/Facebook)

Die Amerikaanse akteur Jussie Smollett is tot 150 dae tronkstraf gevonnis nadat hy valslik aan die polisie gesê het hy was in 2019 die slagoffer van rassisme en homofobiese haatmisdaad – ʼn aanval wat die akteur glo self laat uitvoer het.

Die 39-jarige Smollett, ʼn voormalige Empire-ster, is in Desember skuldig bevind op vyf aanklagte van wangedrag nadat hy valse bewerings oor die aanval gemaak het.

Hy sal ook vir 30 maande op probasie geplaas word en moet $145 000 (sowat R2,1 miljoen) in restitusie en boetes betaal. Na afloop van die vonnisoplegging het Smollett gesê: “Ek het dit nie gedoen nie!”

Smollett, ʼn gay swart man, het in Januarie 2019 gesê hy is in die middel van die nag aangeval deur twee gemaskerde mans terwyl hy naby sy huis in Chicago gestap het.

Volgens Smollett het die aanvallers ook ʼn “chemiese stof” oor hom uitgegooi en ʼn tou om sy nek gebind.

Ondersoekers het egter uiteindelik bevind – gegrond op beeldmateriaal van kringtelevisiekameras en selfoondata van Smollett en sy twee aanvallers – dat hy die hele voorval self georkestreer het.

Tydens ʼn verhoor verlede jaar het ʼn jurie van ses mans en ses vroue aangehoor toe die broers Abimbola en Olabinjo Osundairo getuig het Smollett het hulle $3 500 (sowat R53 000) betaal om die aanval uit te voer.

Smollett is deur drie jaar tronkstraf vir elk van die vyf aanklagte in die gesig gestaar. Die eerste 150 dae van sy probasie sal agter tralies wees en sal onmiddellik ʼn aanvang neem.

Smollett het egter deurgaans volgehou dat hy ʼn slagoffer van ʼn misdaad was.

Nuwe boek deur Bob Dylan

Bob Dylan in 2012. (Foto: Fred Tanneau/AFP)

Die Nobelpryswenner en folk-rock-ikoon Bob Dylan publiseer in November ʼn nuwe boek oor liedjieskryf by die uitgewers Simon & Schuster.

Die uitgewers het Dinsdag dié nuus gedeel. Dit is dieselfde uitgewers wat onlangs ʼn kontrak van miljoene dollar met die popster Britney Spears gesluit het om haar kant van sake te stel nadat ʼn voogdyskap oor haar persoonlike sake ná 13 jaar beëindig is.

Dylan se nuwe boek, The Philosophy of Modern Song, wat op 8 November op die rakke sal wees, is die eerste boek uit Dylan se pen sedert hy byna twee dekades gelede in 2004 die boek Chronicles: Volume One uitgereik het.

Die Amerikaanse digter en musikant het die jongste boek in 2010 begin skryf en dit bestaan uit meer as 60 essays, met mymeringe oor kunstenaars soos Hank Williams en Nina Simone, asook oor die kuns van liedjieskryf, het Simon & Schuster gesê.

“Die publikasie van Bob Dylan se kaleidoskopiese briljante werk sal ʼn internasionale viering van die liedjies deur van die grootste kunstenaars van ons tyd wees,” het Jonathan Karp, hoof van Simon & Schuster, in ʼn verklaring gesê.

The Philosophy of Modern Song kon slegs deur Bob Dylan geskryf word. Sy stem is uniek en sy werk weerspieël sy diepe waardering en begrip van liedjies, die mense wat die liedjies lewe gee en wat die liedjies vir ons almal beteken.”

Dylan, wat in die vroeë 1960’s op die folk-musiektoneel in New York verskyn het, het intussen meer as 125 miljoen eksemplare van sy albums wêreldwyd verkoop.

Die 80-jarige Dylan het ʼn streng toerskedule volgehou en is tans op ʼn wêreldwye toer wat na verwagting tot 2024 sal duur. In 2020 het hy sy 39ste ateljeealbum, Rough and Rowdy Ways, uitgereik.

Hy het in 2016 die Nobelprys vir letterkunde gewen vir “die skepping van nuwe, poëtiese uitdrukkings binne die groot Amerikaanse liedjietradisie”.

Tom Hanks as Geppetto in Pinocchio-fliek

Tom Hanks in November verlede jaar op die première van ‘Finch’. (Foto: Michael Tran/AFP)

In die nuwe aksiefliekweergawe van Pinocchio vertolk die Hollywood-ikoon Tom Hanks die rol van Geppetto, die poppemaker wat dié geliefde houtseuntjie skep.

Disney+ het vandeesweek ʼn voorsmakie gegee van Hanks in dié rol. Die regisseur is Robert Zemeckis en die fliek vertel die verhaal van die houtpop wat op ʼn avontuur gaan om ʼn regte seuntjie te word.

Benjamin Evan Ainsworth is te sien as Pinocchio, terwyl Joseph Gordon-Levitt die rol van Jiminy Cricket vertolk. Cynthia Erivo is die “blou feë”, Keegan-Michael Key is Honest John, Lorraine Brancho is ʼn nuwe karakter, Sofia the Seagull, en Luke Evans is The Coachman.

Die Oscar-bekroonde Hanks lyk met sy grys krulhare en welige snor asof hy uitgeknip was om die rol van Geppetto te vertolk. Die geanimeerde weergawe van Disney se Pinocchio is reeds sedert die 1940’s ʼn gunsteling-rolprent.

Disney+ het intussen ook aangekondig dat ʼn aksieweergawe van die 1953-fliek Peter Pan getiteld Peter Pan & Wendy vanjaar die lig sal sien. Yara Shahidi sal die rol van Tinker Bell speel en Jude Law sal te sien wees as Captain Hook.

Pinocchio het in September sy première op Disney+.

Tom Hanks as Geppetto in ‘Pinocchio’, wat in September uitgereik word. (Foto: Facebook)

Bronne: E! News, AFP, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.