Hollywood: Arnie pleit by Poetin; ooreenkoms bereik oor Diana-onderhoud

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Arnie pleit by Poetin, troepe oor “sinnelose” oorlog

Arnold Schwarzenegger. (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Arnold Schwarzenegger, akteur in flieks soos The Terminator en voormalige goewerneur van Kalifornië in die VSA, het Donderdag ʼn beroep op Wladimir Poetin gedoen om die “sinnelose” oorlog in Oekraïne te beëindig en het Russe wat teen die konflik protesteer as sy “nuwe helde” beskryf.

“Oekraïne het nie dié oorlog begin nie,” het Schwarzenegger op Twitter in ʼn emosionele boodskap aan die mense van Rusland en Russiese troepe gesê.

“Ek spreek julle vandag toe omdat daar dinge is wat aangaan in die wêreld wat van julle weerhou word, aaklige dinge wat julle behoort te weet,” het hy in ʼn kragtige video van nege minute lank gesê.

Die Oostenrykse voormalige liggaamsboukampioen, wie se rolprent Red Heat die eerste Amerikaanse fliek was wat in Moskou se Rooi Plein geskiet is, het oor sy liefde vir die Russiese mense en sy ontmoeting as kind met sy held, die Russiese gewigopteller Yuri Vlasov, gepraat.

“Die krag en die harte van die Russiese mense inspireer my nog altyd. Dit is waarom ek hoop julle sal my toelaat om vir julle die waarheid te vertel oor die oorlog in Oekraïne. Ek weet julle regering het vir julle gesê die oorlog het ten doel om Oekraïne te “denazifiseer”, maar dit is onwaar. Diegene wat mag het in die Kremlin het die oorlog begin. Dit is nie die Russiese mense se oorlog nie.”

‘n Skermgreep uit Arnold Schwarzenegger se video op Twitter.

Schwarzenegger het gesê “die wêreld het teen Rusland gedraai weens sy eie optrede in Oekraïne – algehele stadsblokke is platgeslaan deur Russiese wapengeweld en bomme, waaronder ʼn kinder- en kraamhospitaal. Weens sy brutaliteit is Rusland nou geïsoleer van die gemeenskap van nasies.”

In ʼn pleidooi aan die Russiese troepe het Schwarzenegger verwys na die beserings wat sy eie pa toegedien is terwyl hy in Rusland vir die Nazi’s tydens die Tweede Wêreldoorlog geveg het.

“Hy was fisiek en geestelik gebroke en het vir die res van sy lewe in pyn geleef. Aan die Russiese troepe wat luister na die uitsending: Ek wil nie hê julle moet gebroke wees soos my pa nie. Dit is nie ʼn oorlog om Rusland te verdedig soos die oorloë waarin julle oupas en oupagrootjies geveg het nie. Dit is ʼn onwettige oorlog. Julle lewens, ledemate en toekoms is alles opgeoffer vir ʼn sinnelose oorlog wat deur die hele wêreld veroordeel word.”

Hy het direk aan Poetin gesê: “Jy het die oorlog begin. Jy lei die oorlog. Jy kan die oorlog beëindig.”

Hy het afgesluit met lof vir die Russe wat met inhegtenisneming bedreig word deur teen die oorlog te protesteer.

“Die wêreld sien julle dapperheid. Julle is my nuwe helde.”

Kanye vir 24 uur van Instagram verban

Kim Kardashian en Kanye West in gelukkiger dae. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Instagram het Donderdag gesê die musikant Kanye West is vir 24 uur van dié sosialemediaplatform verban nadat hy die beleid oor teistering oortree het te midde van sy egskeiding met die werklikheidster Kim Kardashian.

West (44), wat ook nou net as Ye bekend staan, is die afgelope paar weke in die kollig oor verskeie aanvalle op die komediant Pete Davidson, wat tans met Kardashian uitgaan.

West, wat nou amptelik geskei is, het in die openbaar ʼn beroep op Kardashian gedoen om hulle verhouding te versoen. Kardashian het egter intussen by hom gepleit om hulle gesinsake privaat te hou, maar haar pogings het geen vrugte afgewerp nie en die sanger hou steeds vol om in die openbaar oor onder meer die toesigooreenkomste van hulle vier kinders te praat.

Pete Davidson in 2020 in New York. (Foto: Dimitrios Kambouris/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

ʼn Woordvoerder vir Instagram het aan AFP gesê dat West 24 uur lank nie op dié platform kon plasings maak, kommentaar lewer of privaat boodskappe stuur nie.

Van sy inhoud is ook uitgevee omdat hy reëls oor haatspraak, boeliery en teistering oortree het.

Volgens die Amerikaanse media het ʼn plasing die geselsprogramaanbieder Trevor Noah beledig nadat hy gesê het West is besig om “al hoe meer aggressief te raak in sy poging om Kim terug te kry”, waaronder ʼn animasievideo waarin West Davidson se afgekapte kop vashou.

“Jy voel dalk nie jammer vir Kim nie omdat sy ryk en bekend is, maar wat sy deurmaak, is angswekkend om te aanskou en skyn ʼn lig op dít waardeur soveel vroue gaan wanneer hulle kies om ʼn lewensmaat te verlaat,” het Noah aan sy gehoor gesê.

Instagram het gesê hy sal verdere stappe teen West se sosialemediarekening doen om ʼn herhaling van oortredings te voorkom.

Ooreenkoms bereik oor Diana-onderhoud

Voorblaaie van Londense koerante wys op 15 November 1995 hoe Brittanje se prinses Diana prontuit gesels het oor die omstredenheid oor haar besluit om ‘n televisieonderhoud aan die BBC toe te staan sonder om vir koningin Elizabeth II in te lig. (Foto: Johnny Eggitt/AFP)

Die BBC het Donderdag gesê hy het ʼn “aansienlike bedrag” aan die ontslape prinses Diana se voormalige privaat sekretaris, Patrick Jephson, betaal oor ʼn onderhoud in 1995 waarin skokuitlatings glo op ʼn slinkse wyse verkry is.

ʼn Onafhanklike ondersoek deur senior regter John Dyson verlede jaar het bevind dat die onderhoudvoerder Martin Bashir Diana se broer, Charles Spencer, mislei het om hom te help om die onderhoud te verkry. Sy was in dié onderhoud uitgesproke oor haar uitmergelende huwelik met prins Charles.

“Die BBC en bevelvoerder Patrick Jephson het ʼn ooreenkoms bereik oor die publikasie van die Dyson-verslag,” het die BBC in ʼn verklaring gesê.

Jephson, wat Diana van 1988 tot 1996 bygestaan het, het glo gesê Bashir het vir Diana “verlei en verraai” om in te stem tot die onderhoud, wat skokgolwe deur die koninklike familie gestuur het.

Martin Bashir. (Foto: Frederick M. Brown/Getty Images/AFP)

“Die BBC aanvaar en erken dat ernstige skade aangerig is aan bevelvoerder Jephson weens die omstandighede waarin die onderhoud in 1995 bekom is,” het die Britse uitsaaier gesê.

Dyson het bevind dat Bashir met vervalste bankstate valslik die indruk gewek het dat sommige van Diana se naaste assistente betaal is deur sekerheidsdienste om haar dop te hou.

Hy het dit aan Charles Spencer voorgehou in ʼn suksesvolle poging om hulle vertroue te wen en ʼn sensasionele onderhoud te bekom waarin Diana erken het sy het owerspel gepleeg met ʼn voormalige weermagoffisier, James Hewitt, en besonderhede weergegee het oor prins Charles se verhouding met Camilla Parker Bowles.

“Daar was drie van ons in hierdie huwelik, so dit was ʼn bietjie oorvol,” het Diana aan Bashir gesê in die onderhoud, wat deur ʼn Britse gehoor van bykans 23 miljoen mense gekyk is.

“Die BBC vra onomwonde om verskoning aan bevelvoerder Jephson en die skade wat dit aangerig het.”

Volgens die uitsaaier is Jephson van voorneme om die uitbetaling aan liefdadigheid te skenk.

Prins Charles en Diana, wie se feëverhaal-troue in 1981 deur miljoene mense oor die hele wêreld aanskou is, is in 1996 amptelik geskei. Diana is in 1997 in Parys, Frankryk, in ʼn motorongeluk dood.

Vrae bestaan al dekades lank oor hoe Bashir destyds daarin kon slaag om vir Diana te oortuig om in November 1995 op die Panorama-program, wat ʼn rits televisietoekennings ingeoes het, te praat.

Bashir (nou 59) was onbekend ten tyde van die onderhoud, maar het daarna ʼn hoëprofielloopbaan op Amerikaanse televisienetwerke geniet, en het onder meer onderhoude met sterre soos Michael Jackson gevoer.

Prins William, Charles en Diana se oudste seun, het kort ná die publikasie van die Dyson-verslag gesê die onderhoud het ʼn “beduidende rol gespeel” in die ondergang van sy ouers se huwelik.

Hy het ook die BBC van “onbevoegdheid om die waarheid bloot te lê” beskuldig, wat volgens hom “aansienlik bygedra het tot [Diana se] vrees, paranoia en isolasie” in haar laaste jare.

“Die uitkringeffek van ʼn kultuur van uitbuiting en onetiese praktyke het uiteindelik haar lewe gekos,” het prins Harry, haar jongste seun, gesê.

Bashir het William en Harry om verskoning gevra, maar het gesê bewerings dat sy optrede tot haar dood gelei het, is “onredelik”.

Bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.