Hollywood: Bekendes treur ná 12-jarige se selfmoord; ‘Tinder’-skelm beplan maatsoekprogram

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

‘Tinder’-skelm beplan maatsoekprogram

Simon Leviev, gebore Shimon Hayut, het vroue uit miljoene dollar gekul. (Foto: Facebook)

Simon Leviev, die beweerde Tinder-swendelaar wie se slinkse metodes om vroue uit derduisende dollars te verkul, werk volgens E! News nou aan ʼn maatsoekprogram.

Volgens The Tinder Swindler, ʼn Britse dokumentêr wat op 2 Februarie vanjaar op Netflix gedebuteer het, het die laventelhaan Leviev hordes vroue wêreldwyd uit derduisende dollars verneuk.

Hoewel die besonderhede oor die maatsoekprogram wat deur Leviev beplan word nog nie bekend is nie, het E! News ook berig dat Leviev ʼn nuwe agent, Gina Rodriguez, aangestel het.

Rodriguez is onder meer bekend as die uitvoerende vervaardiger van die werklikheidsreeks Mama June: From Hot to Not, ʼn reeks wat handel oor June Shannon, ma van die kinderster Alana Shannon, ook bekend as Honey Boo.

Volgens Rodriguez se Instagram-profiel beplan Leviev om onder meer “openbare verskynings” teen $300 (sowat R5 000) aan te bied, asook om “ʼn boek te skryf, in ʼn maatsoekprogram te verskyn en ʼn maatsoek-podsending aan te bied”.

Die Israeliese Leviev, wie se regte naam Shimon Hayut is, het die maatsoek-app Tinder gebruik om individue te ontmoet wat hy emosioneel kan manipuleer om geldelik by te dra tot sy uitspattige en weelderige leefstyl, onder andere die Noorweër, Cecilie Fjellhøy, en die Sweed, Pernilla Sjöholm, wat albei hulle kant van die storie in The Tinder Swindler vertel.

Pernilla Sjöholm (links) en Cecilie Fjellhøy het ‘n hegte band gevorm nadat hulle begin saamwerk het om Simon Leviev aan die pen te laat ry. (Foto: Instagram)

Hayut het oor Europa heen gereis en hom as die seun van die Russies-Israeliese diamantmagnaat Lev Leviev voorgedoen. Hy het Tinder gebruik om as Simon Leviev met vroue kontak te maak en hulle bedrieg om geld vir hom te leen, wat hy nooit terugbetaal het nie.

Hoewel Leviev van 2015 tot 2017 tronkstraf uitgedien het in ʼn Finse tronk nadat hy drie vroue geswendel het en daarna na Israel uitgelewer is, het hy ontsnap en teruggekeer na Europa, waar Fjellhøy en Sjöholm se verhaal begin.

Hy is nog nie aangekeer of aangekla van die misdade wat hy gepleeg het in verband met sy verhoudings met Fjellhøy of Sjöholm nie.

Fjellhøy en Sjöholm het op 11 Februarie in ʼn onderhoud met Drew Barrymore op die The Drew Barrymore Show gesê hulle betaal nog steeds die skuld af wat hulle aangegaan het weens Leviev se swendelary.

“Ek dink hy kort hulp. Ek voel werklik jammer vir hom. Hy het ʼn baie leë lewe,” het Fjellhøy aan Barrymore gesê.

Sjöholm het gesê as sy ooit weer vir Leviev sien, sal sy vir hom sê dat sy alles in haar vermoë sal doen sodat ander vroue nie dieselfde bloutjie as sy loop nie.

“Ek dink ek het dit reeds soort van reggekry,” het sy gesê.

Leviev het ʼn stemboodskap aan Netflix gestuur in reaksie op die bewerings wat in die dokumentêr gemaak word. “Ek sal voortgaan met ʼn regsgeding teen julle vir die diskriminasie en leuens, aangesien alles eintlik geskoei is op ʼn leuen. Dit is dít, dit is hoe dit gaan wees.”

Bekendes treur ná 12-jarige se selfmoord oor boeliery

Drayke Hardman het sy eie lewe geneem nadat hy herhaaldelik by die skool geboelie is. Hy was 12 jaar oud. (Foto: Instagram/Samie Hardman)

Hollywood treur oor die dood van Drayke Hardman, ʼn 12-jarige seun wat sy eie lewe geneem het nadat hy herhaaldelik by die skool geboelie is.

Nadat Drayke se dood aan die lig gekom het, het talle bekendes op Instagram oor dié voorval uitgevaar met die hutsmerkslagspreuk #DoItForDrayke.

Drayke se ouers, Samie en Andrew Hardman van Tooele County, Utah, het in ʼn onderhoud met KUTV CBS 2 gesê Drayke het selfmoord gepleeg nadat hy herhaaldelik by die skool geboelie is.

Die Hardmans het aan dié nuusbron gesê die emosionele en fisieke boeliery wat Drayke die afgelope jaar ervaar het, was meestal deur een klasmaat. Die ouers het aan KUTV CBS 2 verduidelik hoe hulle die skool betrokke gekry het nadat hulle van die kwessie te hore gekom het, waarna die skool gevolglik dié klasmaat geskors het.

Volgens die Hardmans het Drayke egter op 7 Februarie met ʼn blou oog van die skool af gekom. Hy het aanvanklik gejok oor hoe hy dié blou oog gekry het, maar het glo later teenoor sy suster erken dat daar ʼn bakleiery met ʼn ander klasmaat plaasgevind het. Sy het dié inligting met hulle ouers gedeel.

Volgens Samie en Andrew het hulle hom aangemoedig om met hulle te praat as hy probleme by die skool het, waarop hy geantwoord het: “Snitches get stitches” (as jy uitpraat, kry jy seer).

Drayke het op 9 Februarie sy eie lewe by sy gesin se huis geneem. Hy is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas, maar is die volgende dag dood verklaar.

Die Hardmans het aan KUTV CBS 2 gesê hulle deel hulle ervaring in die hoop dat ouers hulle kinders sal leer om gaaf te wees.

“Kinders gaan die soort kinders wees wat gaan doen wat hulle wil totdat hulle besef dit is nie oukei nie. Dit is waaruit daardie moeilike gesprekke spruit,” het Samie gesê.

Talle Hollywood-sterre het op sosiale media op die oorsaak van Drayke se dood gereageer.

“My hart is gebreek vir Drayke en sy familie en vir elke kind wat die slagoffer van boeliery is,” het Kaie Gerber, model en dogter van die supermodel Cindy Crawford, op Instagram geskryf.

Sara Foster, aktrise en dogter van die Kanadese komponis David Foster, het ʼn foto van Drayke gedeel saam met sy geboorte- en sterfdatums.

“Hierdie lieflike seun is letterlik doodgeboelie. Aan die ouers van die boelie – julle is gemors. Ek blameer julle. Julle het geweet julle seun is ʼn boelie. Daar is geen manier dat julle nie geweet het nie. Julle het hom grootgemaak. Julle het gefaal as ouers. Skenk aandag aan julle kinders. En aan die skole wat niks doen aan boeliery nie – doen beter. Ek is jammer oor hierdie ondenkbare pyn en verlies,” het sy geskryf.

Poppy Delevigne, Katie Couric en Rosanna Arquette het ook boodskappe oor Drayke se dood geskryf.

“Dít is gruwelik. Ons leef in ʼn kultuur van boeliery en wreedheid. Ons moet begin by die kinders en hulle leer van vrede,” het Arquette geskryf.

Bron: E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Vinny

Hoe hartseer maak dit my nie. En die ergste van alles is dat hierdie boelies hulle swak maniere net voortsit in die werkplek wanneer hulle klaar met skool is en nog wegkom daarmee ook.