Hollywood: Enrique Iglesias tree dalk uit; ‘The Matrix’ herleef

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Enrique Iglesias tree dalk uit

Enrique Iglesias. (Foto: Facebook/VH1)

Die sanger Enrique Iglesias het vandeesweek onthul dat hy binnekort ʼn nuwe album getiteld Final gaan uitreik. Dit gaan ook glo sy laaste album wees.

Iglesias (46) het die nuus bekend gemaak tydens ʼn gesprek op Instagram met die sanger Ricky Martin en Sebastian Yatra.

Hy het gesê dat hy al jare lank daaraan dink om sy loopbaan as sanger te beëindig.

“Dit kan moontlik my laaste album wees.

“Dit is nie iets waaraan ek net vir ʼn paar maande dink nie. Ek dink al ʼn paar jaar lank daaroor,” het hy gebieg.

Final sal in twee dele uitgereik word.

Janet Jackson-dokkie eersdaags te sien

Janet Jackson. (Foto: Desiree Navarro/Everett Collection/Facebook)

Die sangeres Janet Jackson, suster van die sanger Michael Jackson, het Maandag aangekondig dat ʼn dokumentêr oor haar lewe, getiteld Janet, binnekort die lig gaan sien.

“Dit is my storie, wat deur my vertel word, nie deur iemand anders se oë nie. Dit is die waarheid. Aanvaar dit of los dit, hou daarvan of haat dit: Dit is ek,” het sy in ʼn lusmaker gesê wat aanlyn gedeel is.

Bekendes soos Paula Abdul, Missy Elliot en Mariah Carey verskyn ook in die lusmaker en praat oor die verbintenis wat hulle met die ikoniese ster het terwyl hulle oor haar loopbaan gesels.

Die vier uur lange dokumentêr het vyf jaar geneem om te voltooi en volg Jackson terwyl hulle die verlies verwerk van hulle pa, Joseph, wat in 2018 gesterf het, asook die verlies van hulle broer, Michael, wat in 2009 dood is.

Dit sluit ook van Jackson se grootste oomblikke in, waaronder haar omstrede optrede saam met Justin Timberlake by die Super Bowl in 2004.

Intussen het Michael se sibbes gesê hulle probeer nuwe musiek uitreik wat werk deur die ontslape popikoon insluit.

Twee albums is sedert Michael se dood uitgereik. In 2010 is Michael uitgereik en in 2014 het Xscape die lig gesien.

Hey u guys. Excited to share the first teaser of my new documentary with u. ???? #JanetDoc

Posted by Janet Jackson on Monday, September 6, 2021

The Matrix herleef

Aanhangers van die The Matrix-flieks het vandeesweek ʼn voorsmakie gekry van die vierde aflewering in die franchise met ʼn lokprent.

Keanu Reeves sal die rol van Neo in The Matrix Resurrections hervat. Die fliek sal in Desember op HBO Max en in fliekteaters uitgereik word.

Die oorspronklike Matrix-fliek het in 1999 verskyn, met die eerste twee opvolgflieks wat albei in 2003 uitgereik is.

Carrie-Anne Moss is ook in die lokprent, wat Donderdag aanlyn gedeel is, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.