Hollywood: Liefde blom vir bekende rockers; nuwe musiek vir Pink Floyd

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die jongste internasionale vermaaknuus.

Liefde blom vir bekende rockers

Kourtney Kardashian en Travis Barker. (Foto: Instagram/Kourtney Kardashian)

Kourtney Kardashian, die oudste van die bekende Kardashian-susters, en die bekende tromspeler Travis Barker, het na afloop van vanjaar se Grammy-toekennings in Las Vegas, VSA, ʼn trouseremonie in ʼn kapel gehad – kompleet met ʼn Elvis-nabootser, ʼn bos nagemaakte rooi rose en klinkleeruitrustings.

Die paartjie het ʼn intieme en blitsvinnige seremonie in die One Love Wedding Chapel gehad, hoewel Kardashian later bevestig het hulle het nie ʼn lisensie gehad vir die troue nie. Dit beteken die huweliksbevestiging is nie wettig nie.

Kardashian (42) is bekend vir die werklikheidsreeks Keeping up with the Kardashians en as stigter van die leefstylhandelsmerk Poosh, terwyl Barker (46) onder meer bekend is as die tromspeler van die punkgroepe Blink 182, +44 en Box Car Racer.

Barker het foto’s van die seremonie op sosiale media gedeel, insluitend een van Kardashian op die vloer met ʼn bos rose en ʼn Elvis Presley-nabootser wat die seremonie lei. “What happens in Vegas,” het hy by die foto’s geskryf.

Kardashian het ook foto’s van hulle prettige aand gedeel en op Instagram geskryf: “Eendag in ʼn land ver, ver weg (Las Vegas) om 02:00, ná ʼn epiese aand en ʼn bietjie tequila, het ʼn koningin en haar aantreklike koning na die enigste oop kapel gegaan met ʼn Elvis en getrou (sonder ʼn lisensie).”

Barker en Kardashian het aan die begin van 2021 bevestig dat hulle in ʼn verhouding is. Sy was voorheen vir tien jaar in ʼn aan-en-af-verhouding met die sakeman Scott Disick, saam met wie sy drie kinders het. Barker was getroud met Shana Moakler, saam met wie hy twee kinders het.

Avril Lavigne en Mod Sun het in Parys, Frankryk, verloof geraak. Dit sal Lavigne se derde huwelik wees. (Foto: Instagram/Avril Lavigne)

Intussen het die rocker Avril Lavigne en musiekster Mod Sun (35) bekend gemaak dat hulle op 27 Maart in Parys, Frankryk, verloof geraak het.

Die paartjie het ontmoet toe hulle saam aan haar nuwe album, Love Sux, gewerk het. Hulle het die nuus van hulle verlowing Donderdag op Instagram bekend gemaak met ʼn rits foto’s van dié romantiese affêre.

“Dit was die perfekste, romantiese verlowing waarvoor ek ooit kon vra. Ons was in Parys op ʼn boot op die Seine-rivier. Daar was ʼn vioolspeler, sjampanje en rose. Dit het gevoel asof tyd stil staan, en dit was net die twee van ons in die oomblik,” het Lavigne (37) aan People gesê.

Mod Sun, wie se regte naam Dylan Smith is, het die groot vraag gevra met ʼn hartvormige diamantring wat spesiaal vir Lavigne ontwerp is deur XIV Karats in Beverly Hills.

Die paartjie het in September verlede jaar vir die eerste keer saam op die rooi tapyt verskyn tydens die jaarlikse MTV Video-musiektoekennings.

Lavigne was voorheen getroud met Chad Kroeger, voorsanger van die rockgroep Nickelback. Sy was ook van 2006 tot 2009 getroud met die Sum41-voorsanger Deryck Whibley.

Will Smith vir 10 jaar van Oscars verbied

Chris Rock en Will Smith op die verhoog tydens die 94ste jaarlikse Oscars-geleentheid in die Dolby-teater in Hollywood, Kalifornië, op 27 Maart 2022. Smith het vir Rock ‘n oorveeg gegee nadat dié ‘n grap oor sy vrou gemaak het. (Foto: Neilson Barnard/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Will Smith is Vrydag verbied om vir die volgende 10 jaar die Oscars-toekennings by te woon. Dit volg twee weke ná hy onverwags in die middel van die seremonie op die verhoog gestorm om die komediant Chris Rock ʼn klap te gee.

Smith mag ook nie oor die volgende dekade enige ander geleenthede bywoon wat deur die Academy of Motion Picture Arts and Sciences aangebied word nie.

“Die Raad het besluit dat, vir ʼn periode van 10 jaar vanaf 8 April 2022, mnr. Smith nie toegelaat sal word om enige Academy-geleenthede of programme by te woon nie – nie in persoon of virtueel nie, insluitend en nie beperk nie tot die Oscars-toekennings,” het pres. David Rubin en uitvoerende hoof Dawn Hudson in ʼn brief gesê.

Smith het in ʼn kort verklaring aan Hollywood-publikasies gesê: “Ek aanvaar en respekteer die Academy se besluit.”

Nuwe musiek vir Pink Floyd

‘n Ou foto van die ikoniese groep Pink Floyd. (Foto: Facebook/Pink Floyd)

Die ikoniese rockgroep Pink Floyd het sy eerste liedjie in byna 30 jaar uitgereik om Oekraïense burgers te ondersteun, het die groep Donderdag aangekondig.

“Hey, Hey, Rise Up!” is Vrydag uitgereik en sal aangewend word om geld in te samel vir humanitêre kwessies wat aan die oorlog gekoppel is.

Andriy Khlyvnyuk, wat deel is van een van Oekraïne se grootste groepe, BoomBox, sing saam in die nuwe snit.

Khlyvnyukh het ʼn wêreldtoer kortgeknip om na Oekraïne terug te keer en sy land te help verdedig.

“Ons, soos baie ander, voel die woede en frustrasie van hierdie gemene daad van ʼn onafhanklike, vreedsame demokratiese land wat ingeval is en waarvan die mense uitgemoor word deur een van die wêreld se grootste magte,” het Pink Floyd op sy amptelike Twitter-rekening geskryf.

Dit is Pink Floyd se eerste oorspronklike musiek sedert 1994 se The Division Bell. David Gilmour, voorsanger van die groep, het oor sy teenkanting teen die oorlog op Twitter geskryf: “Poetin moet waai”.

Die groep het ook sy musiek van Russiese en Belarussiese stroomplatforms verwyder uit protes teen die oorlog.

Bykomende bronne: E! News, People, AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.