Hollywood: Messi is ‘Time’ se sportster van die jaar; ‘Home Alone’ se ma, seun herenig

Lionel Messi. (Foto: X)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Messi Time se sportster van die jaar

Lionel Messi, die Argentynse sokkerlegende, is aangewys as die Time-tydskrif se atleet van die jaar vir 2023.

Messi het vanjaar die gesogte Ballon d’Or-toekenning, die jaarlikse toekenning aan die sokkerspeler van die jaar, vir ʼn rekordbrekende agste keer ingeoes en ook skokgolwe in die sokkerwêreld veroorsaak danksy sy skuif na David Beckham se Amerikaanse sokkerspan, Inter Miami.

Volgens Time het Messi ook ʼn sleutelrol gespeel om Argentinië na hulle eerste Wêreldbeker-titel in 36 jaar te lei deurdat hulle Frankryk, die verdedigende kampioen, in Desember verlede jaar in die eindstryd geklop het.

“Messi het daarin geslaag om te doen wat eens onmoontlik gelyk het: om die VSA in ʼn sokkerland te verander,” het Time geskryf.

Maroela Media het vroeër berig dat Taylor Swift, die Amerikaanse megaster, as Time se persoon van die jaar aangewys is.

Die Hollywood-stakers, Barbie en koning Charles III was ook op die lysie om vanjaar dié gesogte titel in te oes.

High School Musical-aktrise nou mevrou

Vanessa Hudgens, ʼn Amerikaanse aktrise bekend vir haar rol as Gabriella in die High School Musical-flieks, en die bofbalspeler Cole Tucker het onlangs voor die kansel gestaan tydens ʼn intieme seremonie in Meksiko.

Die aktrise en atleet het mekaar in 2020 ontmoet tydens ʼn aanlynmeditasie-sessie wat Jay Shetty, ‘n skrywer en motiveringspreker, aangebied het. Hulle het kort daarna nommers uitgeruil.

Tucker (27) het in Februarie vanjaar vir Hudgens (34) die jawoord by die Eiffeltoring in Parys gevra.

Die Modern Family-aktrise Sarah Hyland was ook een van Hudgens se strooimeisies.

Home Alone-akteurs herenig

Macaulay Culkin, ʼn voormalige kinderster, is onlangs met ʼn ster op Hollywood se bekende Walk of Fame-roete vereer, en is tydens die seremonie met Catherine O’Hara, sy Home Alone-medeakteur, herenig.

O’Hara, deesdae bekend vir haar rol as Moira Rose in Schitt’s Creek, het destyds Culkin se ma in die 1990’s-treffers, Home Alone en Home Alone 2, vertolk. Sy het die akteur in ʼn toespraak geprys vir sy “natuurlike spel” en “intelligensie”.

“Ja, Culkin het ʼn draaiboek en wonderlike regisseur gehad, maar dit was sy perfekte vertoning wat die fliek so ʼn blywende en klassieke rolprent gemaak het. Hierdie pragtige 10-jarige seuntjie was ʼn superster en ʼn geldmaker, een van die gewildste jong mans in Hollywood. Hoe oorleef iemand dit?”

Catherine O’Hara en Macaulay Culkin. (Foto: Amy Sussman/AFP)

O’Hara het haar toespraak afgesluit deur skertsend na haar Home Alone-karakter, “Kate”, se vergeetagtigheid te verwys.

“Dankie dat ek kon deel wees van hierdie dag, al was ek die speel-speel ma wat jou nie een keer nie, maar twee keer alleen by die huis gelos het,” het sy vir ʼn tranerige Culkin gesê.

Culkin se jarelange lewensmaat, Brenda Song, sy broer en suster, Rory en Quinn, asook sy peetdogter, Paris Jackson (Michael Jackson se dogter), het ook dié geleentheid bygewoon.

Nuwe kêrel aan Selena se sy

Die sangeres Selena Gomez het blykbaar haar romanse met die vervaardiger Benny Blanco bevestig toe sy op ʼn reeks sosialemediaplasings oor die twee se beweerde verhouding gereageer het.

Selena Gomez en Benny Blanco. (Foto: X/Twitter)

Gomez, wat voorheen met bekendes soos Justin Bieber en The Weeknd in verhoudings was, het die woord “feite” in die kommentaarblokkie geskryf onder ʼn plasing van die skinderblad PopFaction wat lui: “Selena Gomez bevestig skynbaar dat sy in ʼn verhouding is.”

“Hy is my absolute alles in my hart,” het sy in ʼn ander plasing geskryf, waarna sy ʼn selfie van hulle op haar eie Instagram-storie gedeel het.

Die paartjie het voorheen saamgewerk aan Gomez se 2019-treffer, “I Can’t Get Enough.”

Bronne: Vogue, People, Entertainment Weekly, Time Magazine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.