Innibos: Só lyk vanjaar se feesprogram

Loki Rothman en Laurika Rauch. (Foto: Verskaf)

Loki Rothman en Laurika Rauch. (Foto: Verskaf)

Die Innibos Nasionale Kunstefees in Mbombela (Nelspruit) vind vanjaar plaas vanaf Woensdag 27 Junie tot Saterdag 30 Junie.

Meer as 300 kunstenaars tree vanjaar op by die feesterrein, wat vier kuierverhoë insluit sowel as die Standard Bank-hoofverhoog. Die In die Boma-kuierteater bestaan onder meer uit gratis kort toneelstukke en teatergesprekke, terwyl die gewilde Bosmôl met 76 nuwe uitstallers spog.

Meer as 20 flieks word by die kykNet-Bosbioskoop vertoon en vir die kleinspan is daar ook leersame opvoerings en aktiwiteite by die Woelwaters-kindervenue. Al dié vermaak is gratis en ingesluit in die hektoegang.

Die eerste feesdag skop af met ʼn Kuns-in-beweging-parade waaraan meer as 800 mense deelneem en oudergewoonte word die gratis Loof Hom Innibos-konsert Sondagaand op die Standard Bank-hoofverhoog gehou ter afsluiting.

Op die planke

Die vier debuutproduksies is Kleedkamer blues met onder andere De Klerk Oelofse en Wessel Pretorius, en Marthinus Basson as regisseur; Soebatsfontein met Sandra Prinsloo en Franci Swanepoel in ʼn drama oor twee vriendinne op ʼn padreis; 3 Susters met Nicole Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en Lizz Meiring wat deur die slaggate en mynvelde van vrou-, dogter- en ma-wees reis, en die komedie Antie Pohl. Dié stuk handel oor die teenpole wat mekaar aantrek en Sorina Erasmus en Cobus Venter speel daarin.

Die veelbekroonde eenmanstuk Die reuk van appels met Gideon Lombard kom uiteindelik Laeveld toe en beloof om ook hier vol sale te trek. Nêrens, Noord-Kaap met De Klerk Oelofse, Geon Nel en Albert Pretorius het eweneens verskeie toekennings, onder meer ʼn Fiësta-beeldjie, ingepalm.

Nêrens, Noord-Kaap. (Foto: Nardus Engelbrecht/Verskaf)

Nêrens, Noord-Kaap. (Foto: Nardus Engelbrecht/Verskaf)

Aan die komedie-front sluit die stewige aanbieding in Manne uit die pen en onder regie van Chris Vorster, Mike en Mavis met Elize Cawood en Wilson Dunster, My man se skelmpie se skelmpie se vrou en Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe.

In die eenpersoonstukke is dit Lizz Meiring in Met ander woorde wat haar vrou staan, asook Wynand von Vollenstee in ʼn Gewigtige saak en Schalk Bezuidenhout in Snorseun.

Die klassieke Suid-Afrikaanse drama, Woza Albert, met Nhlanhla Nhlabathi en Mncedisi Shabangu in die rolverdeling, is ook by die fees te sien.

Vir kinders van alle ouderdomme behoort die ysskaatsskouspel, Winter Wonderland, wat by die i’Langa Mall-ysskaatsbaan aangebied word, ook groot byval te vind.

Musiekteater

Eugène Marais se gedigte en verhale is in klank en beeld in die herlewing van die 1996-lokettreffer Uit die bloute, wat ook by Innibos debuteer. Lizanne Barnard het die musikale verwerkings gedoen, bygestaan deur onder andere Leon Ecroignard. Die regie is deur Henriëtte Gryffenberg behartig.

In Drie van die bestes – Twintig jaar later is dit Kevin Leo, Mathys Roets en Danie Niehaus wat bestek neem van twee dekades se saam musiek maak; Laurika Rauch en Loki Rothman span hul talente saam in Blou en Rocco de Villiers is voor die klawers in nog ʼn debuutmusiekproduksie Wees net jouself.

Klassieke Kamers is vanjaar weer onder die leiding van radiopersoonlikheid Christelle Webb Joubert.

Bittereinder. (Foto: Verskaf)

Bittereinder. (Foto: Verskaf)

Dis hoe dit (ruk en) rol by Innibos se musiekkonserte

Elke feesdag om 18:00 kry duisende Innibossers hul sit en staan voor die Standard Bank-hoofverhoog vir ʼn musiekkonsert uit die boonste rakke. Dié konserte is produksies in eie reg en spog met groot name soos Juanita du Plessis, Riana Nel, Karen Zoid, Lianie May, The Parlotones, Theuns Jordaan en Ghoema-wenner Jo Black in, om maar net ʼn paar te noem.

Lekker leefstyl

Die Verrassingsete met sjef Marli Visser en “konsertmeester” Kevin Leo is ʼn splinternuwe aanbieding wat al die sintuie sal uitdaag – dit gaan alles oor kos, maar nie slegs oor eet nie!

Die ClemenGold Gin-proe sowel as die ClemenGold-boerderytoer word vanjaar vir die tweede keer aangebied, en vir mout-liefhebbers is daar die aweregse whisky-sprokie Skoonlief en die Ondier.

In Stroomop Inspirasie sal die gewilde aktrise Donnalee Roberts meer vertel oor hoe ʼn mens kop bo water hou wanneer die lewenswaters rof raak.

Crawl ’n bietjie

Die Boeke-crawl na Sudwala (met onder andere Dana Snyman, Daniel Hugo en Laurika Rauch) en die Komedie-crawl (met Wicus van der Merwe, Joey Rasdien, Melt Sieberhagen en Schalk Bezuidenhout) is trefferproduksies waarvan die kaartjies blitssnel verkoop.

Vir die tweede keer word die kleurvolle en fantasieryke Kinder Storie-krôl ook aangebied en ’n hele storiedorp gebou waarin jong boekwurms kan kom stories luister.

Die reuk van appels. (Foto: Verskaf)

Die reuk van appels. (Foto: Verskaf)

ATKV-Boeke-oase

Die ATKV-Boeke-oase bars vanjaar uit sy nate by die kultuursentrum van Hoërskool Nelspruit. Kom koop die nuutste boeke by die ATKV-boekwinkel, skink ʼn glasie wyn, leer meer van die verskillende ClemenGold-kultivars, kom kyk hoe saai RSG daagliks Monitor en Spektrum uit, kuier in die talentvolle Laeveldse Bosch-pottebakkersfamilie se winkel, en neem deel aan die Netwerk24-gesprekreeks onder leiding van Ivor Price.

Buiten die daaglikse boekgesprekke om 10:00, is daar ook ’n Storievuur met storievertellers en geskiedkundiges Fransjohan en Louis Changuion, oor waar in die Laeveld daardie Kruger-miljoene is. Toegang tot die ATKV-Boeke-oase is gratis.

Tydens die woordproduksie Woorde Innituin gesels digter en vertaler Daniel Hugo oor sy werk. Lidi de Waal, skilder en versmaker, se gedigte is omskep in die musiekproduksie Bêreboksie vol vlerke wat ook deel is van die program. Lidi se kunswerke sal uitgestal word en te koop wees.

Innibos feeskunsuitstallings

In stede van ʼn enkele feeskunstenaar vir die visuele kunste vir die 2018 Innibos-fees, kom die Suid-Afrikaanse landskap vanjaar in die kollig. Die uitstalling in die Burgersentrum is ʼn groepuitstalling onder die kuratorskap van Johan Myburg wat fokus op die werk van hedendaagse Suid-Afrikaanse landskapskilders.

Werke van onder andere Pauine Gutter, Andries Bezuidenhout en Clare Menck is hier te sien. In die voorportaal is Collen Maswanganyi se uitstalling oor twee aspekte wat hy meen nogal na aan mekaar lê: belasting en tiendes – beslis iets om te gaan bekyk.

Die kunsuitstalling Oppitafel, met werke van Laeveldse kunstenaars, word uitgestal by die ATKV-Boeke-oase. Ook by dié venue is die daaglikse gratis kunswaarderingsessie waarheen feesgangers hul kunsskatte kan bring om deur Aspire Art Auctions getakseer te word.

Die wenners van die Nasionale Handwerkkuns-kompetisie, wat vanjaar vir die tweede keer aangebied is en meer as 1 000 inskrywings ontvang het, word reeds op Sondag 24 Junie aangekondig. Die wenner ontvang R50 000 prysgeld.

Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe. (Foto: Verskaf)

Dowwe Wicus en Dolla van der Merwe. (Foto: Verskaf)

Innibos@Casterbridge

Innibos@Casterbridge is ’n opwindende uitbreiding van die program en word by die Casterbridge Leefstylsentrum in Witrivier gehou. Op dié merendeels Engelse spyskaart is ’n boekgesprek waar Ruda Landman gesels oor haar boek Tell Me Your Story; Majozi en die Legogote Band sorg vir ’n besonderse musiekervaring by die Barnyard-teater; en ’n kunsuitstalling getitel Mosterd na die maal, wat die mens se verhouding met kos, maaltye, eetgerei en die emosies wat daarmee gepaardgaan, visueel verken, is te sien in die galery. Die kunsfliek Loving Vincent word in die boetiek-bioskoop vertoon.

Toegangskaartjies

Voorskoolse en laerskoolkinders se toegang tot die feesterrein is gratis. ’n Weekkaartjie kos R500 en pensionarisse betaal op Woensdag 27 Junie slegs R50.

Gewone kaartjiepryse beloop vir Woensdag 27 Junie R120 (gouesirkelkaartjies is R80 ekstra); op Donderdag 28 Junie is dit ook R120 (geen goue sirkel nie); Vrydag 29 Junie R175 (R120 vir die goue sirkel) en op Saterdag 30 Junie R200 (R250 ekstra vir ’n sitplek in die goue sirkel).

Die volledige feesprogram is op www.innibos.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.