Intieme kunsfees kom na Riebeekvallei

Die organiseerders en flinkdinkers agter Solo Studios is van links Shawn Hewitt (Solo Studios-projekbestuurder), Klaus Piprek (medestigter van Solo Studios), Lizel Olckers (skepper en ontwerper van Ancient Spirit) en Astrid McLeod (eienaar en kurator van RK Contemporary). (Foto: Clifford Roberts)

Dis hierdie naweek weer tyd vir die gewilde Solo Studios – Intimate Art Encounters in die Riebeekvallei naby Malmesbury in die Boland. Solo Studios word van Donderdag 17 Augustus tot Sondagmiddag 20 Augustus op Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes gehou.

Die kunsfees het in 2022 altesaam 183 kunsstukke, ter waarde van R2,5 miljoen verkoop. Meer as 1 300 kaartjiehouers het die diverse kuns geniet en vir die 2023-uitgawe is 17 plaaslike kunstenaars gekies uit ʼn baie groot aantal aansoeke.

Die klem – is soos die naam te kenne gee – ʼn ware intieme kuns-ervaring. Besoekers kuier by die 17 kunstenaars in hul ateljees, waarvan verskeie in hulle huise ingerig is. ʼn Verdere sewe groep-uitstallings sal by verskeie galerye en lokale gehou word, insluitend twee private kunsversamelings in eksklusiewe gastehuise.

Die amptelike bekendstelling is onlangs vir die media en uitgenooide gaste gehou om besoekers ʼn klein voorsmakie te gee van dit wat wag. Met ʼn glas Pieter Cruythof-vonkelwyn in die hand, is almal by die kort handelstraatjie in die hartjie van Riebeek-Kasteel verwelkom.

Ek loer deur die feesprogram en is verheug om te sien dat Pieter Cruythof-borrels meer as een mens se lewe geraak het. Dit het ook die lewe van Joseph Dafana verander, wat saam met drie ander Zimbabwiërs in die film Blind Ambition – wat tydens Solo Studios vertoon sal word – te sien is.

Maar wag, kom ek verduidelik: Vier Zimbabwiese vlugtelinge het bekroonde sommeliers en wynmakers geword, skaars tien jaar na hulle net met die klere aan hul lywe oor die grens gevlug het. In 2017 ding hulle as Team Zim mee teen 23 internasionale spanne by die sogenaamde Olimpiese Spele van die wynwêreld en word in ʼn dokumentêre film, Blind Ambition, vereer.

Joseph Tongai Dhafana, Tinashe Nyamudoka, Marlvin Gwese en Pardon Taguzu is die sterre van die film wat op die internasionaal-gerekende Tribeca-filmfees in New York in 2021 as beste dokumentêr aangewys is.

Joseph, nou eienaar van MOSI Wines & Spirits, was die kaptein van Team Zim. Joseph en sy vrou, Amelia, het in 2009 na Suid-Afrika gevlug. Hy het by ʼn sementfabriek gewerk toe die land in krisis verval. Hulle moes hul vyfjarige seuntjie, Tinashe, in Zim agterlaat. Die reis was verskriklik, want hulle is in ʼn goederetrein-wa toegesluit om oor die grens gesmokkel te word.

Joseph het net ná sy aankoms in Suid-Afrika by die Paarlse sjef, Mynhardt Joubert, in sy groentetuin begin werk voor hy by sy restaurant, Bar Black Sheep, op Riebeek-Kasteel se kombuis skottelgoed gewas en homself opgewerk het na kroegman en later bestuurder.

“Op sy 29ste verjaardag het ek vir hom sy eerste glas bubbly gegee – Kasteelberg se vonkelwyn, die Pieter Cruythoff.” Hy wou dit eers nie drink nie, maar het ingestem en die wyngogga het daar, met borrels op sy tong, behoorlik gebyt.

Mynhardt het die restaurant verkoop en Paarl toe getrek, maar Joseph het – net soos sy drie ander landgenote – almal verder in wyn studeer en so veel moontlik wynproeë bygewoon.

Blind Ambition vertel hul aangrypende stories en Joseph bied ook ʼn blinde wynproe by die Riebeekvallei-museum tydens Solo Studios aan.

“Ons verkoop nie net kuns by Solo Studios nie. Ons verkoop ʼn ervaring,” sê Klaus Piprek, medestigter en direkteur van Solo Studios. Hierdie ervarings strek baie verder as die visuele kunste. Benewens die kunsuitstallings, is daar soveel meer om te geniet. Maak gereed om weggelok te word van jou beplande kuns-staproete deur die aromas wat uit ʼn koffiewinkel lok, deur die geur van essensiële olies uit die plaaslik vervaardigde botaniese reeks of deur ʼn wynproe by een van die bekroonde Swartlandse wynprodusente. “Wyn en kos is deel van kuns.”

Vanjaar kon plaaslike kunstenaars ook met kunstenaars buite die vallei saamwerk om aan die fees deel te neem.

Hy gesels met ons in die kelderteatertjie van Die Kunshuis, waar nog ʼn nuutjie, die filmfees, vanjaar vertoon sal word.

Klaus vertel dat hulle ook graag ʼn filmfees wou deel maak van die fees, maar dis baie ingewikkeld en hulle het toe besluit om kunstenaars te nooi om films onder die titel, “Monomania – 7 Kamers van Obsessie” te maak. Monomania is die obsessiewe entoesiasme vir een onderwerp. Sewe kunstenaars, kunsfoendies en digters neem deel. Elke film is sewe minute lank en op die program is Plot’s Possession deur Cristina Kirstein, Pixels and Poetry – A Journey into Art Technology deur Tamzin Lovell, Eulogy to Motion deur Riaan van Zyl, My Beautiful Brein deur die digter, Donker Jonker, TONG: Die Gekleurde Vrou – ʼn samewerkingsproduksie deur The House of the Second Shadow, Sensation deur Lean Bakker en Subaqueous deur die onderwater-fotograaf John Vowles.

“Solo Studios het geen korporatiewe borge nie en ons wil nie regtig meer as 1 400 mense akkommodeer nie. Nie alleen het die vallei nie soveel verblyf nie, maar omdat groepe mense in kunstenaars se ruimtes inbeweeg, wil ons dit intiem hou. En ons wil die gevoel van die plek wat ons as inwoners in die blou lug, geel en groen landerye, die son oor die wingerde, ervaar, weergee in ons kunsfees.

“Dit sal nooit ʼn groot fees met ʼn mark en stalletjies word nie. Dit sal altyd intiem en kunsgefokus bly,” het hy vertel.

Shawn Hewitt, Solo Studios projekbestuurder, het vertel dat die fees ʼn lekker inspuiting vir die plaaslike ekonomie in die stiller wintermaande is. Die hele vallei baat by die fees en besoekers kry ʼn lekker gevoel van plattelandse gasvryheid en -kreatiwiteit.

Hy het vertel dat nadat jy jou kaartjie en sak opgetel het, jou ontdekkingsreis begin. “Om kunstenaars se verf en terpentyn te ruik, is so anders as die galery-ervaring. En al die ander aktiwiteite op die program is vir dié wat ʼn blaaskans soek van kuns of metgeselle wat nie so mal oor kuns is nie.”

Klaus vertel dat om terug te gee aan die groter gemeenskap, was een van die hoofdoelwitte met die stigting van Solo Studios. Elke jaar sedert die stigting in 2016, het hierdie voorneme gerealiseer deur skenkings aan gemeenskapsprojekte. Een van die meer onlangse begunstigdes is die For Life-sentrum. Vanjaar, neem Solo Studios dit ʼn stappie verder deur beide die Riebeek Valley Steelband en die herwinningskuns van die For Life-sentrum by die amptelike program in te sluit.

Besoekers sal die geleentheid kry om hierdie kuns en die skepping daarvan eerstehands te aanskou.

Mark Graham-Wilson en sy kollegas het verlede jaar die For Life-sentrum gestig as ʼn gemeenskapsentrum vir kuns- en geestesgesondheidshulpbronne, met die doel om individuele persoonlike groei, gemeenskapsopheffing en -ontwikkeling en versoening te bewerkstellig.

For Life streef daarna om ʼn toevlugsoord te bied, veral vir jongmense, waar hierdie doelwitte bereik kan word deur betekenis en doel te ontdek.

Mark is ʼn gesoute en bekroonde akteur, regisseur en vervaardiger wat die afgelope 42 jaar aktief in verskeie hoedanighede in die Suid-Afrikaanse verhoog-, skerm- en televisiebedryf betrokke was.

Benewens die nuwe Riebeek Valley Steelband by die POP (Path Onto Prosperity)-sentrum in Riebeek-Wes, is daar ʼn leesgroep en kunsklasse, ʼn gewilde maandelikse Poetry Jam, hip-hop-dansklasse, asook ʼn erfenisgroep in Riebeek-Kasteel.

Die herwinningskunsklasse is ʼn unieke konsep waar Nico Rens, ʼn gekwalifiseerde binneontwerper en terapeutiese masseur, jongmense leer hoe om rommel vir kuns te gebruik.

Hierdie kunswerke, insluitend verskeie asblikkandelare wat reeds deur talle huiseienaars aangekoop is, het nie net ten doel om jong kunsstudente op te voed en te lei in selfwaarde en herwinningsbewustheid nie, maar ook om dit uit te brei sodat van die studente ʼn bestaan kan maak uit hierdie herwinningskuns.

Tydens die Solo Studios-naweek sal die kuns uitgestal word, en besoekers sal ook die geleentheid kry om die jong kunstenaars in aksie te sien by die POP-sentrum waar hulle hierdie kuns skep. Ons loer in en sien hoe die oulike hip-hop-groepie oefen.

Dis al sterk skemer toe ons by Ade Kipades se huis instap. “Hierdie is my huis-galery. Ek woon in my kuns,” verklaar hy toe almal ʼn staanplekkie gekry het.

Hy span saam met die keramiekkunstenaar, Hennie Meyer, vir vanjaar se Solo Studios en vertel daar is ooreenkomste in hul werk. “Kubisme is ons ooreenkoms en die evolusie van kubisme. Ek het in 2010 eers begin met abstrakte vorm. Twee jaar gelede is ek meegevoer in die kommersiële kant daarvan, om te oorleef. Ek het egter herevalueer hoe ek werk en ʼn ander rigting in geslaan. Hierdie Picasso-agtige werk van my en die kat van Hennie wys duidelik die evolusie van kubisme,” het hy vertel.

Tamlin Blake, kurator van die Spier Arts Trust, span vanjaar saam met die Keiskamma-kunsprojek saam. Sy het vir ses jaar op Solo Studios haar eie tapisserie-kunswerke uitgestal, maar vanjaar besluit om ʼn hele nuwe rigting saam met die Keiskamma-projek in te slaan. (Foto: Clifford Roberts)

Die deelnemende kunstenaars met hul samewerkers van buite die gemeenskap:

  1. Ade Kipades met Hennie Meyer
  2. André Francois van Vuuren
  3. Andries Dirks met Arno Morland
  4. Antoinette von Saurma
  5. Brett Shuman met Linda Waterkeyn
  6. Dieter Wust
  7. Emma Willemse
  8. Gordon Williams met Paul Kristafor
  9. Kevan Moses met Shui-Lyn White
  10. Lizette Visser met Ros Koch
  11. Louis Nel
  12. Misha Hillier with Hannelie Strydom
  13. Riaan van Zyl
  14. Sharon Bischoff
  15. Solly Smook
  16. Tamlin Blake met die Keiskamma-kunsprojek
  17. Wiehan de Jager met Clayton Sutherland

Die volgende galerye sal uitstallings hê. By Pictorex is die Printed at Pictorex-uitstalling met William Walker, Mary Walker, Greta McMahon, Tanya Majo, Rudolph Willemse, Ad Goedhart, Linda Harrison, Johan Viljoen, Leila Fanner, Louisa Gerryts en Jacky Lloyd.

 Die Spier Arts Trust/ The Creative Block het werke van Boyce Magandela en Emma Aspeling; Q Studio – Impendulo stal werke van Carl Collison en Hentie van der Merwe uit; Gallery 7 on Plein stal verskeie nie-professionele en opkomende kunstenaars se werke uit. RK Contemporary het werke van Anton Momberg, Anthony Harris, Claire Greenspan, Greta McMahon, Tanya Majo, Thembalethu Mangunyana en Candice Dawn Blignaut, terwyl Nicola Roos, Wehrner Lemmer en Trevor Rizzato by Die Kunshuis uitstal.

The Hub het kernwerke van die meeste van die deelnemende kunstenaars en 1 Royal Street Guest House is oop tydens die fees om die eienaars se privaat kunsversameling te besigtig.

Een van die ander gewilde gebeure is die Night of the Long Tables, langtafel-etes by Aardvark Eats, Kokos Huis met Intellego Wines, The Valley Deli met Allesverloren wyne, Olive and Vine, The Royal Hotel en sjef Giuseppe met Arbeidsgenot-wyne op 18 en 19 Augustus.

Joseph Dafana wat saam met drie ander Zimbabwiërs in die film Blind Ambition – wat tydens Solo Studios vertoon sal word – te sien is. Blind Ambition vertel hul aangrypende stories as vlugtelinge wat net met die klere aan hulle lywe in Suid-Afrika aangekom het en vandag almal gerekende sommeliers is. Joseph bied ook ʼn blinde wynproe by die Riebeekvallei-museum aan tydens Solo Studios. (Foto: Clifford Roberts)

Ook op die Solo Studios-program is die Solo Simfonie-konsert, Sondagmiddag in die NG Kerk op die dorp. Die Winelands Filharmoniese Orkes speel saam met die Riebeek Valley Steelband. Ons hoor ʼn gedeelte van die konsert met sewe strykmusikante.

Daar is ook verskeie kuns-en-tegnologie- en leierskap-praatjies deur kenners.

Verskeie toegangskaartjies is beskikbaar, van R150 per dagpas tot ʼn premier Naweekpas teen R395. Verskeie aktiwiteite het bykomende kostes. Bespreek kaartjies vir Solo Studios 2023 by www.solostudios.co.za en volg Facebook en Instagram

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.