Jacaranda FM vier Gekkedag met uitverkoopte komedievertoning

Shanray van Wyk, Martin Bester, Alfred Adriaan en Schalk Bezuidenhout tydens die geleentheid. (Foto: Jacaranda FM/Kyle Cestari/Facebook)

Jacaranda FM het vanjaar Gekkedag gevier deur Pretorianers se lagspiere behoorlik te prikkel.

Die Gautengse radiostasie se gewilde ontbytprogram – Breakfast with Martin Bester – het die afgelope naweek sy eerste komedievertoning met komediante Shanray van Wyk, Alfred Adriaan en Schalk Bezuidenhout by die Metropolis in Pretoria aangebied.

Sowat 400 mense het dié geleentheid bygewoon.

Al drie komediante het die gehoor laat skaterlag oor staaltjies van onder meer ouerskap, die dinamiek van ʼn stieffamilie hê, slegte Covid-19-gewoontes en waarom sekere Afrikaanse gesegdes net nie in Engels vertaal moet word nie.

Die komediant, Schalk Bezuidenhout. (Foto: Jacaranda FM/Kyle Cestari/Facebook)

Bezuidenhout het Bester uitgedaag om sy lyf ook komediant te hou en die vertoning te open.

“Ek dink mense se verwagtinge van my grappies was gelukkig baie laag, so ek het niks gehad om te verloor nie. Die komediante was ongelooflik, maar ek was aaklig,” het Bester ná die vertoning geskerts.

Volgens Bezuidenhout het die geleentheid sy verwagtinge oortref. “Ek het aanvanklik gedink daar sal dalk so 100 mense opdaag, maar hier verkoop ons uit! Dit was só lekker gewees om weer op die verhoog voor so ʼn groot gehoor te wees.”

“Ek het van die begin af geweet ons gaan ʼn lekker show hê, want Jacaranda-mense is mos lekker mense,” het Adriaan ook ná die uitverkoopte vertoning gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.