Jong kunstenaar stal binnekort uit

Martyn-Schickerling.jpg

Kunstenaar Martyn Schickerling. Foto: Verskaf.

As die naam Martyn Schickerling nie vir jou bekend klink nie, is dit nóú die tyd om regop te sit en aandag te gee. Hierdie jong kunstenaar, wat tans werk onder leiding van die bekende beeldhouer Angus Taylor, is vinnig besig om opgang te maak in die kunswêreld.

Agtergrond

“Ek is Martyn John Schickerling,” stel hy homself plegtig voor. “Ek het in 2009 met my studies in visuele en toegepaste kunste aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie begin en het in glasblaas en beeldhou gespesialiseer.

“Ek werk die afgelope vyf jaar by Dionysus Sculpture Works (DSW) onder Angus Taylor se leiding,” sê hy. Daar het hy die geleentheid gekry om te werk saam met ander bekende kunstenaars soos Deborah Bell en Norman Catherine, asook Rina Stutzer, vertel hy opgewonde.

“Een van my hoogtepunte tot dusver was om te help om Norman Catherine se 900 kg beelde te modelleer. Mense het al gesê my werk lyk asof ek inspirasie put uit Norman se werk, so as ek ooit die kans kon kry om weer saam hom te werk, sou ek. Ek dink ons visie en styl sal mekaar komplimenteer,” vertel Martyn.

Mediums

“Die laaste paar jaar by DSW het my geleer dat enigiets moontlik is en daardeur het ek myself toegelaat om met ʼn klomp mediums te eksperimenteer,” sê hy. “Ek werk met sagte staal, silikon-brons en vlekvrye staal. Ek verf ook in akriel en olie én ek maak litografiese drukke van my pen-en-ink-illustrasies. Ek glo hoe meer jy leer van verskillende mediums, hoe verder kan jy jou verbeelding neem. Maar bronsgiet en skets maak my die gelukkigste,” vertel hy. “My pen-en-ink-litografieë het ek begin as ʼn reeks wat meer bekostigbaar is vir iemand wat kuns wil versamel, maar nog steeds goeie kwaliteit kontemporêre kuns wil koop.”

Dit is ʼn moeilike bedryf wat baie probleemoplossing verg, laat hy blyk. “Maar dit is nou al vir my opwindend om te soek na ʼn suksesvolle uitweg in ʼn moeilike situasie.”

Kuns en die jonger generasie

Dit is vir hom belangrik om ʼn waardering vir kuns by jong mense te kweek. “My tweejarige seuntjie, Max, het eendag vanself begin om my te ‘help’ met een van my akriel-kunswerke. Gelukkig met ‘n droë kwas,” voeg hy skertsend by.

“Ek en my vrou, Annerie, wou toe meer vir interessantheid sien wat sal hy wel doen met sy eie skilderdoek, kwaste, verf en water. Tot ons verbasing het hy presies geweet dat die kwas eerste in die water, gevolg deur die verf en dan skilderdoek toe moet gaan. Nou verf hy graag en eksperimenteer met rollers, kwaste en natuurlik vingers,” lag hy.

Hy vertel ernstiger verder: “Suksesvolle kuns stimuleer emosie in mense; dit laat ʼn mens wonder. Die nuwe generasie kunstenaars se ervarings is totaal anders as wat byvoorbeeld ek of my ouers beleef het, en ek glo die potensiaal vir iets nuuts en opwindend is groot. Met groot verandering kom nuwe denkwyses en dit verg ondersteuning van die publiek om daarop voort te bou.”

“My ma was ook ʼn kunstenaar, so ek is ook van kleins af blootgestel, maar dit het my baie lank geneem om myself te sien as ʼn kunstenaar omdat dit, myns insiens, ʼn titel is wat jy moet verdien.”

‘Angry Youth’-reeks

“Angus sê altyd dat my bioritme all over the place is,” vertel Martyn. “My kuns gaan oor my emosionele ervarings en hoe ek die wêreld beleef. My Angry Youth-reeks gaan oor die angs en woede wat jong mense vandag beleef en daar is ook ʼn baie persoonlike konnotasie. Ek was ʼn angs-en depressielyer vir ʼn lang tyd voordat ek my vrou ontmoet het. My kuns het ʼn manier geword om die emosies wat daarmee gepaard gegaan het uit te beeld. Ek hoop ook dat mense met angs en depressie iets in my Angry Youth-reeks kan sien wat met hulle praat en hulle gerusstel oor die emosies wat hulle nie alleen beleef nie,” sê hy.

“Aan die ander kant is my pen-en-ink-illustrasies meer prettig en spontaan. Hulle is soos ʼn dagboek van my emosies en ek vind dat dit op ʼn manier met ‘n baie wye mark praat.”

Uitstalling

“Van 10 Desember het ek ʼn klein solo-uitstalling by Longstreet Art Lovers 1932 in Waterkloof. Die uitstalling is vir twee weke aan die gang. My bronsbeelde sowel as my akrielskilderye en pen-en-ink-illustrasies sal daar te sien wees,” sê hy.

“Op die ou end wil ek net hê mense wat die moeite doen om na my kuns te kom kyk, moet kan uitstap en voel hulle ken my beter en dat my kuns iets in hulle wakker maak, al is dit ʼn dieper liefde vir kuns in die algemeen.”

Kliek hier om vir Martyn te volg op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Michael Strange ·

Kunswerke kan stories vertel of net n estetiese waarheid of gevoel weergee…. Baie talentvolle kunstenaar hier ons gaan nog baie van hom “SIEN”

JanieB ·

Ons het gekoop en gaan nog koop Martin. Baie trots op ons kunswerk.

Pierre ·

AS Ek sal alles kon koop sou ek. Die persoon is phenominaal met n pen en beeldhou. Al ken ek nie elke hoek van hom nie. Hy is regtig besonders en dit is verteenwoordig in sy sketse. U sal nie n foutjie maak om iets van Magtige Martyn aan te skaf nie. Dit sal sommer u lewe skoenlapper-agtig opkikker!

Wessel Pretorius ·

Martyn is baie talentvolle kunstenaar met nog van sy beste werk om te kom. Hou die spasie fyn dop.

Jean-pierre du toit ·

Ek ken vir Martyn(ybers)soos ek hom noem nou al n geruime tydjie en kan eerlik waar sê dat hy baie passievol is oor sy werk..mens kan die opgewondenheid in sy oë sien en in sy stem hoor wanneer hy aan een van sy vele projekte werk.regtig waar n besonderse kunstenaar asook persoon…met vrek baie talent!!!

Maryke Duvenhage (Schickerling) ·

Martyn Schickerling is my boetie. Kuns is iets waarmee ons groot geword het. Wat hierdie man besonders maak is nie NET die feit dat sy kuns uniek is en boekdele spreek nie, maar die feit dat hy sy passie gevolg het nadat soveel mense vir hom gese het daar is nie ‘n toekoms vir kuns in ons land nie.

Martyn se kuns weerspieel dieper aspekte as net dit wat jy fisies sien, iets wat min mense werklik bereik.

Ons as familie is besonders trots op hom en kan nie wag om nog meer van hom en sy kunswerke te sien nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.