Kalahari Kuierfees

24-26 September 2011

Die Kalahari Kuierfees het die afgelope paar jaar ‘n belangrike inskrywing op die sosiale kalender van Upington en die Kalahari geraak en het laas jaar meer as 30 000 toegangers deur die hekke gelaat. Die Kalahari Kuierfees is vanjaar 9 jaar oud, maar is een van die bes georganiseerde feeste huidig in Suid-Afrika. Wanneer stalletjie eienaars by die Kalahari Kuierfees gevra word watter fees in die land vir hulle die lekkerste is, is die antwoord gewoonlik “Kalahari Kuierfees”. Hoe het dit gekom dat hierdie relatiewe jong fees so ‘n indruk op besoekers maak?

In die laat tagtigerjare het die Munisipaliteit van Upington ‘n Waterfees aangebied wat tot gevolg gehad het dat die SAD Wingerdvrugte besluit het om hierdie Fees verder uit te brei. Die destydse direkteure van SAD Oranjerivier het besluit dat aangesien SAD Wellington in daardie jare die halfmarathon suksesvol aanbied, Upington ‘n soortgelyke gebeurtenis moet kry. Hierdie inisiatief het aanleiding tot die SAD Rosyntjiefees gegee.

Vir die daaropvolgende 8 jaar was die SAD die Rosyntjiefees se borg en die geleentheid is in samewerking met die Benede Oranje se verskeie boereverenigings georganiseer. Hierdie SAD Rosyntjiefees het gesorg vir talle hoogtepunte en daarom was die destydse SAUK uitsendings baie betrokke by die fees. Dit het hierdie fees nasionale blootstelling gegee. So is gewilde programme soos “Goeiemôre Suid-Afrika”, “Spies en Plessis” en “Body Beat” direk vanaf die Eiland uitgesaai. Die driekamp was so gewild dat dit een jaar 12 internasionale atlete gelok het. Dit was goeie ou tye en geen hekgelde was gevra nie.

Maar verandering is onvermydelik en in die jaar 2000 het die SAD amptelik die fees na die gemeenskap van Upington oorgedra en sodoende is die Kalahari Kuierfees gebore. Tans is die Kalahari Kuierfees ‘n nie-winsgewende maatskappy wat hom ten doel stel om ‘n gesinsfees aan te bied deur die gemeenskap vir die gemeenskap. Die Feeskomitee en Direksie poog om die Kuierfees oor alle grense heen te bemark om sodoende sport, kuns en kultuur en plaaslike toerisme te bevorder. Lede van beide die Direksie en Feeskomitee doen hierdie veeleisende werk en grootskaalse beplanning vrywilliglik in hul privaat tyd en ontvang geen vergoeding

So het ‘n fees ontstaan wat die omgewing weerspieël. Die Kalahari Kuierfees onderskryf Afrikaans as taal, sport, inheemse kos, streeksprodukte, die natuur, eiesoortige kulture, teater en opbouende musiek – terwyl die verskillende teikengroepe in aanmerking geneem word. Dis ‘n fees vir die gesin.

Die fees word gekenmerk deur ‘n verskeidenheid sportsoorte en kompetisies wat aangebied word soos die Kumba Iron Ore fietsry, vlugbal, toutrek, sterkman kompetisie, Upington Toyota Bybelgenootskap pretstap, skolespan kompetisie ens.

Aktiwiteite word nie net op die Eiland Feesterrein aangebied nie maar ook op talle goed geleë venues. Die fees het ook ‘n vryverhoog, wat toeskouers gratis kan bywoon en bekende nasionale en plaaslike kunstenaars in aksie kan sien. Jaarliks is daar meer as 200 kunsmark-stalletjies wat aan elke smaak voldoen.

Die Kalahari Kueirfees is dus ‘n unieke en opwindende Afrikaanse gemeenskapsfees – vir Upington en omliggende gebiede wat gesonde en bekostigbare vermaak vir die hele gesin verskaf. En vanjaar is die amptelike slagspreuk juis: “’n Fees sonder Brieke”. Hierdie brieklose fees vind vanjaar van 24 tot 26 September plaas.

TOEGANGSFOOIE STYG NIE!!

In vandag se ekonomiese resessie, sal niemand jou glo as jy sê dat die prys van iets nie verhoog word nie. Maar die Kalahari Kuierfees gaan ten spyte van ekonomiese druk nie vanjaar die pryse van toegangskaartjies na die Kalahari Kuierfees, verhoog nie.

Soos verlede jaar kos ‘n volwasse dagkaartjie R60-00 en vir ‘n skoolgaande kind R30. ‘n Volwasse weekkaartjie is slegs R150-00 en vir ‘n skoolgaande kind is die prys R75-00. En dan is daar nog ook venues wat GRATIS is soos die gewilde die ABSA Vryverhoog in die middedorp en die Kuierfees Kunskafee by The Mill.

Daar is vanjaar 3 teaterproduksies om van te kies. Rocco de Villiers met Beautiful Beautiful Piano (19 September) en Dowwe Dolla 007: Geskud, maar nie gepluk (21 September) se kaartjies beloop R100 per persoon. Die kragtoer, My naam/name is Ellen Pakkies met Vinette Ebrahim se kaartjies is R120 per persoon en word op 24 September om 17h00 aangebied sodat teatergangers nogal die ander feestelikhede by die Eiland kan gaan bywoon. Daar word verwag dat al hierdie teaterproduksies se kaartjies gou gaan uitverkoop wanneer die verkope op 5 September by die Kuierfees Kantoor in Schroderstraat open. Moet dus nie wag nie. Vanjaar word toegangskaartjies slegs by die hekke verkoop.

Onthou, as jy ‘n toegangskaartjie het, is jou toegang tot die Eiland Hoofverhoog met al die kunstenaars se optredes en asook toegang tot die Kindertent en al die stalletjies heeltemal GRATIS. En vanjaar se kunstenaar is ‘n moet: Juanita du Plessis, Nianell, Jay, Jennifer Jones, Arno Jordaan en Ray Dylan. Die gewilde T-hemde se pryse is ook onveranderd op R70 vir volwassene en R50 vir ‘’n kind. Die t-hemde word ook vanaf 5 September by die Feeskantoor verkoop.

Besoek hulle webtuiste hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.