KateRok: ʼn Kunstenaar met iets om te sê

KateRok. (Foto: Willem Botha)

Dit is byna onmoontlik om nié meegevoer te raak deur KateRok se musiek nie. Eerder as ʼn sanger, is sy ʼn digter met ʼn stem wat soos ʼn fluweellint deur haar woorde vleg. ʼn Vars bries in die Afrikaanse musiekbedryf.

KateRok se musiek word beskryf as “teater-rock”, ʼn kombinasie van sagte rock, dramatiese klavier en sielsroerende lirieke wat sorg vir ʼn baie unieke klank. Daarby is die visie agter KateRok net so belangrik soos die musiek – die Voortrekkerkappie waarmee sy die meeste van haar uitvoerings doen integraal deel van die simboliek.

“KateRok is nie net nog ʼn sanger nie, nie net nog iemand op die verhoog nie – sy het iets om te sê.”

Só sê die vrou agter KateRok, Suzaan Steyn. Ons gesels aan boord die MSC Musica waar KateRok saam met Donnalee Roberts en Marciel Hopkins vandeesweek deel was van ʼn inspirasie-oggend vir vroue by Laeveld Agrochem se jaarlikse Seil-Safari.

Die 33-jarige Steyn is ʼn gebore Vrystater wat ná jare in Pretoria die prentjiemooi Clarens haar tuiste gemaak het. Die donkerkop vertel musiek was nog altyd in haar bloed. Sedert haar skooldae skryf sy al haar eie liedjies en op universiteit kon jy haar gereeld op die kampus onder ʼn boom met haar kitaar vind.

Ná skool het sy drama aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer en daarna teaterwerk gaan doen. Alles van die teater het haar aangetrek, van grimering tot stelontwerp, en sy het gewoeker om haar vaardighede in al hierdie aspekte te ontwikkel. Maar dit was in haar groot liefde, musiek, waar sy nog altyd haar rustigheid gevind het. En in 2016 het sy uiteindelik die moed gehad om KateRok, ʼn konsep waaraan sy al bykans tien jaar lank werk, met die wêreld te deel.

“KateRok is veral vir die vrou – die ‘rok’ in haar naam simboliseer vrouwees,” verduidelik Steyn. “Deesdae het vroue ʼn sterk stem wat fantasties is, maar ek dink – dalk uit ons konserwatiewe geskiedenis – is daar vir my iets ongelooflik mooi in ʼn sterk vrou wat nog steeds die man se kroon kan opsit.”

Steyn sê die Voortrekkerkappie wat eie aan KateRok geraak het, is ʼn simbool van haar onwrikbare trots oor haar kultuur en waarvandaan sy kom. Steyn weier om skaam te wees vir wie sy is en glo haar kultuur is iets om te vier. “Ek sê altyd, net soos ek nie elke Zoeloesprekende mens kan verkwalik vir wat Zuma gedoen het nie, so kan mense my nie verkwalik vir wat leiers van die wit vel gedoen het nie.

“Ek wil nie skaam wees vir my geskiedenis nie. Dit is ʼn ongelooflike mooi geskiedenis van saamstaan en opstaan, verpletter word en wéér opstaan,” sê sy.

“En ek dink dit is nou tyd dat ons weer opstaan en sê ons hét ʼn mooi kant aan ons kultuur, ʼn kant van lag en lig. Maar dit is hierdie lag en lig wat ons moet uitdeel. Eerder as om na mekaar te draai en laer te trek teen die res van die wêreld, moet ons daardie laer breek, oopmaak en ander intrek.”

Dit is juis dié ingesteldheid wat maak dat Steyn in elke aspek van haar lewe die geleentheid sien om iets vir ander te beteken, om meer te gee as wat van haar verwag word. As onderwyseres in Clarens is sy nie net die wiskunde-juffrou nie, maar ook ʼn opvoedkundige, ʼn oor wat luister en dikwels die enigste persoon by wie hulle liefde ontvang.

Ook as deeltydse binnenshuise versierder het sy ʼn geleentheid raakgesien om te help. “Dit het my ʼn bietjie begin vang dat mense letterlik derduisende rande daaraan bestee om ʼn plek van mooi na mooier te vat, terwyl daar soveel behoeftes daar buite is. Toe een van die dogtertjies in my klas se pa oorlede is en ek vat blomme na haar huis toe, toe sién ek dit eerstehands. Die shack wat letterlik net een vertrek is waar ʼn hele gesin moet woon en slaap …

“Nou doen ek steeds interior vir mense, maar ek vra die kliënt om ʼn persentasie van die begroting af te staan om iemand anders se woonplek te verbeter. Dalk die beste werker op hul plaas se plakkershut oor te doen of iemand anders wat hulle self identifiseer.”

Sy verduidelik dat sy dan in dié nederige en klein spasies veral werk met funksionele kuns om baie met min te doen. “’n Kind se bed kan ook laaie en ʼn lessenaar wees. Ek wil vir die mense ʼn plek skep wat, al is dit klein en minimalisties, vir hulle waarlik soos ʼn tuiste voel.”

Suzaan Steyn vertel KateRok is ‘n konsep waaraan sy vir bykans tien jaar lank gewerk het. (Foto: Willem Botha)

Hoe kry sy alles gedoen en bou steeds aan ʼn musiekloopbaan? “Hulle sê mos hoe meer jy doen, hoe meer kan jy doen!” lag sy. “Ek wou verlede jaar probeer om net op my musiek te fokus, maar ek dink ek het nodig om heeltyd besig te bly sodat al die ratte kan hardloop. Die aande is my musiektyd. Dan fokus ek om te skryf en te oefen en dit is dan net die musiek wat saak maak. Maar ek moet besig bly, anders begin my kop dwaal.”

Sy meen die kleindorpie-lewe in Clarens bied haar ook die tyd en eenvoud om by soveel dinge betrokke te wees. En die natuurskoon wat die mooi dorpie omring, is genoeg om enige kunstenaar te inspireer. “Die berge is regtig waar ek my woorde hoor en waar ek voel asof ek die inspirasie net van oral af kan trek.”

Wat inspireer haar om te skryf? “Ek dink die seer van ons land. Daagliks sien en voel ek die frustrasie en die hartseer om my – en as ek sit en skryf, wil ek juis daardie soort goed omkeer. Ek wil lirieke skryf wat mense dalk inspireer om ʼn verskil te maak. Ek dink mense knyp deesdae oë toe en skarrel net voort, asof hulle dink een mens kan in elk geval nie ʼn verskil maak nie. Maar een mens kan. Ons almal kan ʼn verskil maak,” sê sy.

Sy sê dit is juis ook waaroor KateRok sing en waaroor sy ander wil inspireer – om ʼn verskil te maak daar waar jy is. “Ja, daar is groot probleme in ons land, maar ons kan nie almal emigreer nie, ons moet dit laat werk hier. Ons is van die sterkstes wat uit die Europese lande gekom het en ek glo leierskap is in ons bloed. En dit is KateRok se groot ding met haar Voortrekkerkappie, om te wys ons moet hande vat en vóór trek.”

Sy dink ʼn oomblik en sê dan met ʼn tasbare rustigheid in haar stem. “Op die ou end kom dit alles uit liefde. Liefde bring agting en as ek liefde het vir die vrou wat by my werk en liefde het vir haar kinders, sal sy agting hê vir my. Dit klink dalk onbegonne, maar ek glo werklik liefde is waar ons mekaar weer gaan vind. Dit is eintlik al wat daar nog oor is, nie waar nie? Ons liefde vir mekaar.”

KateRok sal te sien wees by die Lush Festival van 18 tot 20 April in Clarens, asook by verskeie ander geleenthede deur die loop van die jaar. Haar eerste album sal na verwagting in Augustus uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.