KKNK-verblyfopsies raak by die dag minder

Die KKNK. Foto: KKNK/Facebook

Die KKNK. Foto: KKNK/Facebook

As jy beplan om vanjaar die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn by te woon, gaan jy blitsig verblyfplanne moet maak, het die organiseerders van dié fees gewaarsku.

Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, die aanbieder van die KKNK, sê die verblyfkantoor vir die fees is reeds bedrywig en blyplek is vinnig besig om minder te raak. “Verseker ’n gemaklike verblyfsopsie voordat dit te laat is. Opsies word by die dag minder,” het sy gesê.

Kaartjies vir die fees word reeds opgeraap en verblyf op Oudtshoorn in gastehuise, koshuise, buitekamers, kampterreine en hotelle raak by die dag minder. Snyman waarsku ook dat verblyf duurder raak nader aan die feesweek.

Die fees beplan om vanjaar oudergewoonte ʼn wye spektrum vermaak te bied. “In die KKNK se 22ste bestaansjaar is daar hope vermaak vir oud en jonk, met hoogtepunte soos Heidi, die musiekblyspel met onder andere Tobie Cronjé, en die Zoid Afrika Afskopkonsert,” het sy gesê.

Produksies soos Die huis van Bernarda Alba en Die Afrikaansvatter word gereken as hoogtepunte op vanjaar se fees.

Daar is vanjaar ook nuwe projekte soos die uitkampteater, ʼn projek waar verskeie kortkunste gesien kan word.

Die KKNK vind plaas van 24 tot 30 Maart. Die datum sluit die Paasnaweek in. Die volledige program kan besigtig word by www.kknk.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home. Verblyfbesprekings kan ook aanlyn gedoen word of skakel 044 203 8600.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.