Klein Innibos-fees gaan voort

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Anthony Delanoix)

Die Laeveldse somervakansie skop vanjaar van 1 tot 5 Desember in Mbombela (Nelspruit) op ʼn hoë noot af met die Standard Bank Innibos Kunstefees se Bietjie-bietjie-Bos.

Die #BietjieBietjieBos-fees sal op die terrein van die Hoërskool Bergvlam aangebied word en feesgangers kan uitsien na teater- en musiekproduksies asook boeke- en kunsuitstallings, talle kosstalletjies, ʼn biertent en gesellige leefstylaanbiedings.

“Vanweë die Covid-19-beperkings is dit onmoontlik om die feesterrein op sy gewone skaal aan te bied. Daar gaan egter geen tekort aan talent en baie gees wees nie,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos Kunstefees.

“Ons gaan voluit feesvier saam met topkunstenaars op die verhoog.”

Die kunstefees skop reeds op Woensdag 1 Desember met verskeie aanbiedings af. Die feesterrein by Hoërskool Bergvlam sal egter slegs Vrydag en Saterdag vanaf 16:00 oop wees met musiekkonserte wat om 18:30 gaan plaasvind.

Die eerste feesterreinkonsert, die Kliphard kykNET-konsert, vind op Vrydag 3 Desember plaas en kunstenaars soos Robbie Wessels, Elandré, Francois van Coke, Spoegwolf en Coenie Naude sal te sien wees.

Op Saterdag 4 Desember is kykNET se Bietjie-Bietjie-konsert op die planke met kunstenaars soos Karlien van Jaarsveld, Snotkop, Rooksein, Pieter Koen en Karen Zoid.

Op Sondag 5 Desember sluit die fees af met ʼn Kersloffees, waartydens kunstenaars soos Wynand en Cheree Strydom, Jannie Moolman, Germandt Geldenhuys, Chris Else en Leon Ferreira op die verhoog te sien sal wees.

Die dramaproduksies in die Mbombela Stadsteater is Leengoed met Tobie Cronjé en Wynand von Vollenstee, Wat as? met Francois Jacobs, Adriaan van As en Simoné Pretorius, en Die grapmakers met Neels Clasen en Hannes Brümmer. Heel gepas sal Groet die grotman met Wynand von Vollenstee in die Sudwala-grotte te siene wees.

ʼn Boeke-ete met onder andere Wilna Adriaanse, ’n kunsuitstalling en ’n wynproesessie is ook op die program. Willem Botha gaan tydens ʼn oggendtee die vroue alles van grimering vir ʼn fotosessie vertel, terwyl hy ook ʼn paar liedjies gaan sing.

“Bietjie-bietjie-Bos is presies wat die naam beskryf. Dit is so iets van alles waaraan ons gewoond is met Innibos, en ons glo dis nét die manier om die somervakansie mee te vier,” voeg Jacobs by.

Daar sal, ingevolge heersende Covid-19-regulasies, beperkte aantal kaartjies vir die produksies en die feesterrein beskikbaar wees.

Kaartjieverkope open 1 November by Computicket en die volledige program sal binnekort op Innibos se webwerf (www.innibos.co.za) beskikbaar wees.

Teken ook in op die Innibos-nuusbrief, Tjirp, op die webwerf om seker te maak jy kry die jongste feesnuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

AW ·

Ekke sal gaan, ekke het n Klein Vakansie Nodig, sonder die Vrou !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.