Konsertgids: Jazz, klassieke musiek die naweek te hoor

Aanlyn konserte, of kwarantynkonserte soos sommige kunstenaars daarna verwys, is aan die orde van die dag sedert die inperkingsmaatreëls ingestel is om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Konsertgangers kan egter nou ook weer afsit na die naaste teater of konsert-venue vir aanbiedings deur hul gunstelingkunstenaars.

Maroela Media het ʼn konsertgids saamgestel van konserte waarmee musiekliefhebbers kan ontspan.

Saterdag 21 November

By die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se Jazz op die berg sonsak-piekniek op Saterdag 21 November sal plaaslike jazz-sterre hulde bring aan hierdie internasionale musiekstyl wat in die vasteland en sy mense gewortel is.

Die Chadleigh Gowar-trio, met Anathi Mobo en Jo Kunnuji, beloof om die gehoor op ’n musikale reis te neem terwyl die son agter die monument wegsmelt.

Dit sal ʼn viering van onder meer plaaslike musiek wees met Anathi wat die immergroen treffers van Miriam Makeba, Brenda Fassie, Yvonne Chaka Chaka, Lira, Thandiswa Mazwai, Judith Sephuma en Mafikizolo sing, terwyl die wonderlike trompetter Jo reg aan die musiek van Hugh Masekela sal laat geskied.

Gaste is welkom om hul eie piekniekmandjies saam te bring of een vooraf te bestel by die Oppi Berg Mobile Café op 060 382 9938 (R250 per paartjie, R450 per gesin van vier). Toegang is slegs R80 per volwassene en R40 vir kinders, en die vertoning begin om 18:30. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Sondag 22 November

Sondag is Mart-Marie Snyman en Willemien/Philomène saam met James Robb te sien in Tapestry by die Pierneefteater.

Klassieke en jazzmusiek sowel as oorspronklike klavierkomposisies met Franse en Afrikaanse liedjies deur Willemien/ Philomène sal te hoor wees.

Die konsert begin om 15:00. Kaartjies kos R150 en is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.